Idasvallei-sokkerspeler verseker plek in o.17 SA-span

’n Leerder van ’n plaaslike skool in Stellenbosch is onlangs in die nasionale o.17-sokkerspan ingesluit, en sal Suid-Afrika later vanjaar by die 2023 Afrikabeker-sokkertoernooi (Afcon) verteenwoording. Dit is volgens Duncan Crowie, hoofafrigter van die o.17-sokkerspan. 

Tyler Cicero van Idasvallei was aanvanklik deel van 30 spelers wat aan die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging (Safa) se Afcon-kwalifiseringskamp deelgeneem het. Safa het die amptelike o.17-span, van 21 spelers, op 18 April tydens ’n hibriede perskonferensie aangekondig. 

Die o.17 Afcon vind vanaf 29 April tot 19 Mei in Algeria plaas. Dit is volgens die Konfederasie van Afrika-sokker se amptelike webtuiste.

“My doelwitte vir hierdie toernooi is om goud huis toe te bring en my ouers trots te maak,” het Tyler Cicero, 17-jarige sokkerspeler van Idasvallei, aan SMF News gesê, nadat hy ingesluit is in die o.17-span wat aan die Afrikabeker-sokkertoernooi gaan deelneem. FOTO: Verskaf/Leigh Cicero

Harde werk en deursettingsvermoë

Vir Cicero, wat ook vir Stellenbosch Voetbalklub (FC) uitdraf, was die aankondiging ’n groot verrassing. “Hier is baie kompetisie en goeie spelers in die span. Dus is jy nooit ’n plek verseker nie, maar ek het baie hard gewerk vir my plek in hierdie span,” het hy aan SMF News gesê. Cicero is tans ’n leerder by Paul Roos Gimnasium op Stellenbosch.

“My doelwitte vir hierdie toernooi is om goud huis toe te bring, my ouers trots te maak – asook my land en tuisdorp. My bydrae tot die span sal wees om ten alle tye 100% te gee en te fight vir my spanmaats,” het hy gesê.

Cicero glo ook dat hierdie toernooi vir hom verskeie deure sal oopmaak en sal help om sy drome waar te maak.

Steve Barker, hoofafrigter van Stellenbosch FC se eerstespan, het gesê dat die klub baie trots is op Cicero se prestasie en dat hulle hom alle voorspoed met die toernooi toewens. 

“Ons wens die hele span sterkte toe en vertrou dat hulle ons as ’n nasie trots sal maak by die o.17 Afcon-toernooi. Ek glo ons het ’n  goeie groep met ’n paar talentvolle spelers wat baie ver in die toernooi kan gaan,” het Barker gesê. 

Tyler Cicero, wat onlangs in die o.17-sokkerspan opgeneem is wat Suid-Afrika by die 2023 Afrikabeker-sokkertoernooi (Afcon) gaan verteenwoordig, draf ook uit vir Stellenbosch FC . FOTO: Sebastian Paulus

Leigh Cicero, die sokkerspeler se ma, het gesê dat dit harde werk en deursettingvermoë geverg het vir haar seun om hierdie prestasie te behaal.  

“Hy is oor die algemeen nederig, respekvol, gedissiplineerd en weet presies wat hy in die lewe wil hê,” het sy gesê.

 “Die balansering van skool en sokker is moeilik en ek kry dit nie altyd reg nie, maar ek probeer my bes om elke aand net na oefening met  my boeke sit en op te vang met my skoolwerk,” het Tyler Cicero aan SMF News gesê . FOTO:Verskaf/Facebook

Plan van aksie

“Dit was moeilik om die span te kies. Nie een van die 30 spelers wat aan die kamp deelgeneem het, was swak spelers nie. Maar ongelukkig kon ons net 21 kies en elke speler in die span verdien om hier te wees,” het Crowie tydens die perskonferensie gesê.

Die belangrikste vorm van voorbereiding vir die toernooi, is informele sokkerwedstryde tussen spanlede, het Crowie gesê. Hy glo ook dat dit help om spanverhoudings te bou. 

“Ons is besig om ons aksieplan in plek te stel om te verseker dat ons goed voorbereid is. Safa maak ook gebruik van ’n spelontleder wat ons help om ons kompetisie se swakpunte te identifiseer. Dit sal ons help om te verseker dat die span goed voorbereid is,” het hy gesê.

Die toernooi sal vir die span moeilik wees en daarom moet die publiek die span gedurende die toernooi ondersteun. Dit is volgens Danny Jordaan, president van Safa. “Afcon en die geveg vir plek in die Wêreldbeker bly steeds ’n uitdaging. Ons span het baie hard gewerk om tot hier te kom en is reg om die toernooi aan te pak,” het Jordaan tydens die perskonferensie gesê.

Steve Barker, hoofafrigter van Stellenbosch FC (SFC) se eerstespan, het gesê dat die klub baie trots is op Tyler Cicero se insluiting in die o.17-span wat aan die Afrikabeker-sokkertoernooi gaan deelneem. FOTO:Sebastian Paulus

, , ,