Idasvallei inwoners keelvol ná swaar reёn huise oorstroom 

Inwoners van Idasvallei, Stellenbosch, is ontsteld nadat swaar reёn riooldreine laat oorloop en water hul sitkamers en kombuise binnegestroom het. Die gemeenskapslede voel dat die munisipaliteit nie genoeg betrokkenheid toon tydens die krisis nie en dat hul klagtes nie behoorlik gehoor word nie.

“Ek bly al jare hier en dit is die derde keer dat so iets gebeur. Die hele huis was onder water,” vertel Mary Adams, ’n inwoner van Newmanstraat, Idasvallei. Volgens Adams, het lede van die munisipaliteit net sandsakke afgelewer en nie na die verstopte riooldreine omgesien nie. 

Burgermeesteer,  wyksraadslid   Idasvallei

Van links: Wyk 5 se raadslid, Roy Van Rooyen, en Stellenbosch se burgermeester, Jeremy Fasser, tydens hul besoek aan inwoners van Newmanstraat, Idasvallei, by die riooldrein wat in ’n inwoner se agterplaas is. FOTO: Verskaf/Trevor Koopman

Lede in die gemeenskap meen dat die infrastruktuur in die gebied nie aan die standaard voldoen nie en dat die munisipaliteit wel iets daaraan kan doen. 

Grant Williams, ’n leierhand by Stellenbosch Munisipaliteit sê: “Ons werk al van gister [19 April] af om die dreine skoon te kry.” Williams vertel ook hoe die pyplyne en rioolstelsel in die area nie die volume van die swaar reën en riool terselfdertyd kan hanteer nie. Volgens hom kan daar voorsiening gemaak word vir beter rioolstelsels.

“Ons is bewus van die rioolstelsel in mense se [agter] yard […] met ’n besoek saam met die burgermeester gister [19 April] het ons by al daardie plekke uitgekom,” sê wyksraadslid van Wyk 5, Roy Van Rooyen. Volgens Van Rooyen sal dié probleem nou “aangespreek word”. 

Vir baie ander inwoners in dié area, was die swaar reёn ’n nagmerrie. Van hulle moes hul komberse op die vloer gooi sodat dit die water kon absorbeer.

Sandsakke by Newmanstraat.

Die sandsakke wat deur Stellenbosch Munisipaliteit verskaf is om te verhoed dat reën mense se huise binnedring. Die kombers is ook gebruik om water wat die huis ingevloei het, te absorbeer. FOTO: Krotoa Felix

Verdere klagtes sluit ’n gebrek aan geute wat dakke omlyn en riooldreine wat in hul agterplase is in. Die sandsakke wat al ’n paar jaar oud is, is reeds geskeur as gevolg van die druk wat die reёn op dit gehad het.

Vir Jonathan Lackay, ’n inwoner van Idasvallei, is van sy persoonlike besittings beskadig as gevolg van die sandsakke wat gebreek is.“Die water het onderdeur die deur gekom en my TV beskadig,” sê Lackay.

“As dit die regte system was, sou dit gewerk het,” sêl Trevor Koopman, nog ’n inwoner van Idasvallei. Volgens Koopman dra die swak infrastuktuur by tot die oorspoeling in die area. “Dit is ’n plastieksisteem en elke keer as dit swaar reën is, loop die dreine oor.” Die riooldreine is nie diep genoeg nie en dit veroorsaak dat dit oorspoel.

Stukkende sandsakke.

Sandsakke wat aan inwoners in Idasvallei verskaf is om te verhoed dat vloedwater weens swaar reën hul huise binnedring. Die sakke is verwoes en het veroorsaak dat reën Jonathan Lackay, ’n inwoner van Idasvallei, se huis binne gaan. FOTO: Krotoa Felix

Beplanning om dié riooldreine te vervang, sal eers “in die nuwe boekjaar” in werking tree, sê Van Rooyen.

“Reёnwater moet na stormwaterstelsels vloei. Indien inwoners voel dat dit nie die geval is in hul straat of op hul eiendom nie, word hul aangeraai om dadelik die munisipaliteit te kontak,” sê Stuart Grobbelaar, kommunikasiebestuurder by Stellenbosch Munisipaliteit.

Inwoners wat vloedverwante probleme ondervind, kan die Stellenbosch Munisipaliteit deur die volgende kontakbesonderhede bereik:

  • Let’s Fix It WhatsApp Lyn: 076 951 0768
  •  Epos: Engineering.Services@stellenbosch.gov.za
  • Telefoon: 021 808 8215 / 021 808 8953 / 021 808 8343

Video: Verskaf/Trevor Koopman