Hulpbron-tekort keer sielkunde studente

Die groot volumes aansoeke vir HonsBA (sielkunde) is die oorsaak dat die afsnypunt vir keuring veel hoër as die 65% slaagvereiste is.

Die Universiteit van Stellenbosch (US) het meer as 500 finalejaar-sielkunde-studente. Hierdie studente, tesame met studente uit ander universiteite, moet meeding om plek te kry vir die honneursprogram, waarvoor daar jaarliks net tussen 34 tot 38 studente aanvaar word.

IMG_0922.jpg

HonsBA (sielkunde)-student hard aan die werk. FOTO: Annerine Snyman

“Die beleid die afgelope drie jaar was om te poog om die klas meer verteenwoordigend te maak, veral wat betref ras,” het prof. Lou-Marie Kruger, voorsitter van die departement sielkunde asook koördineerder van vanjaar se honneurskeuring, verduidelik. “[Ons] probeer om ten minste 50% swart studente te keur.”

Kruger het egter gesê dat daar in die verlede nie genoeg swart aansoekers was om dit te bewerkstellig nie, maar dat dit oor die afgelope twee jaar verander het. Volgens Kruger is die klas dus die afgelope twee jaar meer verteenwoordigend.

Die presiese persentasie waarmee aansoeke elke jaar groei kon nie vasgestel word nie, maar Kruger het bevestig dat dit elke jaar aan die toeneem is. Sy het egter verduidelik dat die hoeveelheid plekke nie daarmee saam groei nie, weens die beleid van twee studente per voltydse personeellid. Die rede hiervoor is dat elkeen van hierdie personeellede vir slegs twee studente as oorsigsleier in hulle navorsing kan optree.

“Natuurlik sal ons die hoeveelheid akademiese personeel wil vermeerder, maar dit is ’n ander tipe proses en is nie tans moontlik nie,” het Kruger gesê.

Elsa Eksteen (21), wat vanjaar punteverbetering doen met die hoop om vir volgende jaar vir die program aanvaar te word, meen dat hierdie keuringsproses nie kan onderskei tussen studente wat bloot net in die vak belangstel en diegene wat werklik die werk sal kan toepas nie.

“Dit is net gebaseer op punte. Iemand wat byvoorbeeld nie sosiaal kan verkeer nie, kan byvoorbeeld 80% kry en iemand anders, wat baie beter is in sosiale interaksie, kry in die 70’s,” het Eksteen gesê.

Eksteen voer aan dat keuring by ander universiteite ook streng is aangesien sy by menige ander universiteite ook aansoek gedoen het, maar by almal afgekeur is. Sy sê verder ook dat sy sal verkies om haar nagraadse studie by die US af te handel, omdat sy reeds daar gevestig is.

“Ek dink as jy iemand vind in die departement wat vir jou raad oor jou kursus kan gee, moet jy daaraan vasklou. Ek het gelukkig so iemand hier,” het Eksteen gesê.

IMG_0728.jpg

Slegs sowat 38 uit die ongeveer 500 tot 700 aansoeke kry keuring vir sielkunde-honneurs. FOTO: Annerine Snyman

Jamy-Lee October (22), ’n HonsBA (sielkunde)-student, meen dat haar onderskeidingsgemiddeld, maar ook haar ras waarskynlik in haar guns getel het om keuring vir hierdie kursus te kry.

“Dit is baie kompeterend, so die laagste [finalejaar]-gemiddeld in ons klas, is waarskynlik 75%,” het October gesê.

Volgens October is die huidige groep studente wel ’n regverdige verteenwoordiging van watter studente hierdie kursus behoort te studeer.

“Hierdie mense was altyd die toppresteerders,” het sy gesê. “Nie almal wil in kliniese sielkunde gaan nie, maar ek glo dat die studente wat dit wel wil doen, sal goed wees daarin.”

Kruger het gesê dat die keuringsproses jaarliks hersien word om sodoende ’n regverdige proses te verseker. Sy het verder ook aangevoer dat hierdie honneursprogram, gebaseer op die hoeveelheid studente, een van die groter programme in die fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe is.

“Ons is daarvan bewus dat studente gefrustreerd is met die klein hoeveelheid studente wat vir die program toegelaat word. Dit sal egter oneties wees om meer studente in te neem, veral as die soort navorsing en gemeenskapsdiens wat op hierdie vlak vereis word, in ag geneem word,” het Kruger verduidelik.

IMG_0924.jpg

Die sielkunde-honneursklas is vir die afgelope twee jaar meer verteenwoordigend. FOTO: Annerine Snyman