Hallo karma, koebaai babbelas?

’n Nuwe gesondheidsdrankie maak staat op dieselfde funksionele bestanddeel as wat in Chinese groentee voorkom om die newe-effekte van oormatige alkohol-inname te voorkom.

Ian Harrison, uitvoerende hoof van Karma Scientific, het dié gesondheidsdrankie ontwikkel nadat hy van ’n soortgelyke Amerikaanse produk gelees het en ’n gaping in die Suid-Afrikaanse mark gesien het. 

“Dit is al vanaf einde 2019 in Stellenbosch te koop en dit sal binnekort in ander dele van die land, selfs in Zambië, verkoop word,” het Harrison gesê. 

Die produk, Karma Pear, bevat die funksionele bestanddeel, dihydromyricetin (DMH), wat in Chinese groentee voorkom. Hierdie bestanddeel werk as volg:

KarmaPear Graphic One (1)

Bron: National Institute of Alcohol Abuse and Alcoholism; Journal of Neuroscience. DIAGRAM: Jenna Lemmer

’n Botteltjie Karma Pear (150 ml), wat voor slaaptyd gedrink moet word, sal moontlik die simptome van wingerdgriep — of babbelas — die volgende oggend kan verlig of voorkom.

“Karma Pear is nie deur die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte (SAHPRA) óf die Suid-Afrikaanse Medisynebeheerraad (MBR) getoets nie, omdat dit nie as medisyne geklassifiseer word nie. Dit is ook nie geskik vir diabete nie, alhoewel die suiker inhoud onder die suikerbelasting drumpel is,” het Harrison gesê.

Harrison het gesê die produk sal nie noodwendig vir almal werk nie, aangesien mense se liggame verskillend op alkohol reageer.

“Karma Pear is gewoonlik vinnig uitverkoop. ’n Student het al selfs ses pakke gekoop om op sy Desember vakansie saam te neem,” het Mien-Marie Groeneveld, ’n apteker by die Stelkor Apteek, in Piet Retiefstraat gesê. 

IMG_8843

Karma Pear word tans in apteke en in party gewilde kuierplekke in Stellenbosch verkoop. FOTO: Jenna Lemmer

’n Soortgelyke Suid-Afrikaanse produk, genaamd Recova, bevat dieselfde funksionele bestanddeel as Karma Pear (dihydromyricetin) en is volgens Jethro Buss, ’n kroegman by Bohemia restaurant, meer effektief en smaak ook beter.

“Sommige studente huiwer om die nuwe produk te probeer en sal eerder meer bekende selfhelpmiddels soos rehidrasie poeiers verkies,” het Sam Aube, bestuurder by The Trumpet Tree restaurant waar Karma Pear verkoop word, gesê.

Volgens Harrison is die produk nie bedoel om oormatige alkohol verbruik aan te moedig nie, maar bloot om produktiwiteit in die werksplek en klaskamer, ná ’n lang aand uit, te verbeter. 

“Daar word ook altyd gedebatteer of gratis kondome mense aanmoedig om seks te hê, maar ek dink nie so nie. Ek dink ’n mens moet aanvaar dat mense in ’n sekere mate verantwoordelikheid vir hulle eie aksies sal neem,” het hy verduidelik. 

ian harrison (Karma)

Ian Harrison, CEO van Karma Scientific, het ’n agtergrond in elektroniese ingenieurswese, maar is opgewonde om as entrepreneur nog gesondheidsprodukte onder die Karma-handelsmerk te ontwikkel. FOTO: Jenna Lemmer

 

,