Groep US-studente wil Palestynse stryd steun met gespreksforum

’n Klein groep studente aan die Universiteit Stellenbosch (US) is vasbeslote om ’n Palestynse Solidariteitsforum (PSF) op die been te bring.

Dit kom nadat spanning op 14 Mei tussen die Israeli owerhede en Palestynse betogers breekpunt bereik het, waar minstens 60 Palestynse-betogers afgemaai is tydens ’n optog in die Gasa-strook. Dit kom nadat die VSA sy ambassade van Tel Aviv na Jerusalem verskuif het. Meer as 2 000 mense, onder wie kinders, is in die voorval gewond.

Abdallah Grifat, ’n Palestynse immigrant en ’n regsstudent aan die Universiteit van Kaapstad was een van die sprekers tydens vanjaar se Israel-Apartheidweek in Stellenbosch. FOTO: Ross Michaels

Abdallah Grifat, ’n Palestynse immigrant en ’n regstudent aan die Universiteit van Kaapstad, was een van die sprekers tydens vanjaar se Israel-Apartheidweek in Stellenbosch. FOTO: Ross Michaels

Aadila Mahommed (19), regstudent aan die US, is vasbeslote om ’n Palestynse Solidariteitsforum (PSF) op kampus te stig. Mahommed het beplan om PSF te stig omdat sy meen daar is net een kant van die Israel-Palestina-stryd wat verteenwoordig is op kampus.

“Ek wou ’n Palestynse Solidariteitsforum op Stellenbosch stig vandat ek hier gekom het en besef het dat hierdie die enigste universiteit is waar [PSF] nie ’n erkende ding is nie. Hier is ’n Friends of Israel-organisasie en dis vir my vreemd dat slegs een kant van die stryd verteenwoordig is,” het Mahommed gesê.

Minaaz Alie (21), regstudent en onderprim van Monica-vrouekoshuis aan die US, meen dat daar ooreenkomste is tussen Apartheid en die Palestynse stryd.

“Suid-Afrikaners móét omgee [oor die Palestynse stryd], want daar is soveel ooreenkomste wanneer jy kyk na ons Apartheidsisteem wat ons ervaar het en die Israeli Apartheid wat aangaan. Ons kan identifiseer met onderdrukking en ek dink dit behoort ’n sekere mate van simpatie te skep,” het Alie gesê.

Suid-Afrika se Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking (DIRCO) het in ’n mediaverklaring bekend gemaak dat die regering hul ambassadeur onmiddellik sal herroep ná die slagting.

“As gevolg van die onoordeelkundige en hewige manier van die laaste Israeli aanval, het die Suid-Afrikaanse regering besluit om Ambassadeur Sisa Ngombane te herroep, met onmiddellike uitwerking tot verdere kennisgewing,” het die verklaring gelees.

Die onlangse gebeure kom ná 70 jaar van Al Nakba, oftewel “die katastrofe”, waartydens 700 000 Palestyne van hul huise verwyder is en as sulks ’n unieke vlugtelingskrisis geskep het wat tot vandag toe nog nie opgelos is nie.

Hierdie massa-uitsetting se nalatenskap is steeds een van die moeilikste kwessies in die deurlopende vredeonderhandelings. Daar is nog geen manier gevind om geregtigheid te kry vir die vlugtelinge waarop beide Israel en die Palestynse mense kon saamstem nie.

https://www.canva.com/design/DAC5JbTlKRI/Ltxo4UlYv4cgruY2FdTncQ/view?utm_campaign=designshare&utm_medium=email&utm_source=publish

Die Universiteit Stellenbosch Studenteraad (SR), die Moslem Studente-assosiasie (MSA) sowel as die Suid-Afrikaanse Studentekongres (Sasco) het vroeër vanjaar koppe bymekaar gesit om die Israel-Apartheidweek (IAW) in Stellenbosch te reël.  Die IAW is ’n internasionale veldtog van protesoptogte, gesprekke, kulturele opvoerings, konserte en werkswinkels wat solidariteit verleen aan die Palestynse stryd om selfbeskikking.

Studente wys hul ondersteuning vir die Palestynse mense en hul stryd om vryheid. FOTO: Ross Michaels

Studente wys hul ondersteuning vir die Palestynse mense en hul stryd om vryheid. FOTO: Ross Michaels