Passievolle krisantkwekers het by vanjaar se Nasionale Krisanteskou in Pniël gespog met hul kleurvolle blom-oeste.
Vir baie deelnemers is die skou die hoogtepunt van maande se toewyding. Ná nege maande se harde werk en onverdeelde aandag, sien kwekers uiteindelik die resultate van ’n proses wat alles behalwe maanskyn en rose was.
“As jou blom op dié tafel kom in ’n nasionale skou, dan kry jy ’n medalje en ook nasionale kleure,” het skou-organiseerder, Richard Williams gesê. Hy noem ook die krisanteskou “die Olimpiese Spele van blommekweek”, waar almal opgewonde is om ná die lang groeitydperk hul liefde en passie vir blomme met die publiek te kan deel.

Die krisanteskou-organiseerder en blommekweker, Richard Williams, by vanjaar se Nasionale Krisanteskou in Pniël. Op die tafel is die beste blomme van die skou. FOTO: Krotoa Felix
Titus Simpson (83), een van die stigters van die Pniël tuinbouvereniging, deel vandag sy passie vir krisante kweek met sy seun Noel Simpson. Met meer as 1000 blomme by die skou, het Titus en Noel weggestap as wenners in die kategorie vir die beste nege blomme.

Die blomme wat die prys gewen het vir “die beste nege blomme”. Hierdie blomme is gekweek deur Titus en Noel Simpson, pa en seun wat jaarliks aan die Nasionale Krisanteskou in Pniël deelneem. FOTO: Krotoa Felix
Vroeër vanjaar se hittegolwe was ’n uitdaging vir Noel en sy pa omdat hulle nog besig was om blomme te groei. “Gewoonlik gee ek my blomme een keer ’n dag water, maar vanjaar moes ek soggens en saans water gee,” het Noel gesê.
Met die droë somer het waterbeperkings Stellenbosch en omliggende areas geaffekteer. “Dit was ’n uitdaging, want die water is ’n skaars storie,” het Noel gesê.
Alhoewel die weer ’n groot rol speel in die kweek- en groeiproses, glo Noel dat ’n mens geduldig moet wees met die blomme.

Die Nasionale Krisanteskou hou vanjaar hul 21ste nasionale skou in Pniël. Die skou bied ’n geleentheid vir krisantkwekers om met hul blomme te spog. Pa en seun, Titus en Noel, het by vanjaar se skou as wenners van die beste nege blomme by die skou weggestap. Van links: Niven Noland, Noel Simpson, Titus Simpson. FOTO: Krotoa Felix.
Die skou is nie net oor blomme nie, maar bied ook vir kleinbesighede die kans om hul produkte te verkoop. “Die skou beteken vir ons baie. Dit skep ’n geleentheid waar ons ons produkte kan bring en verkoop,” het die eienaar van Beker en Bord, Siena Charles, gesê.

Die Nasionale Krisanteskou in Pniël wat op 9 Mei plaasgevind het was ’n geleentheid vir families om blomme vir Moedersdag (10 Mei) te koop. FOTO: Krotoa Felix
