Greteli Fincham gesels oor klere, kuns en kameras

Die aktrise, fotograaf en entrepreneur, Greteli Fincham, is bykans ses dae per week voor die kamera besig om aan verskeie nuwe projekte te werk. Tog bly haar dagboek steeds propvol nuwe besigheidsidees. 

Greteli Fincham se gunsteling kleur is geel. Dít het haar ouers agtergekom toe sy as dogtertjie nie tevrede was met die pienk kamer wat sy gekry het nie. Só kom Kersfees, waar Greteli se oom vir haar ’n geel rokkie as geskenk gegee het. Sy het in die rokkie rondomtalie gedraai en uitgelate gesê: “Dankie vir my mooiste pienk rokkie!”

Die twintigjarige Greteli vertel uitgelate híerdie storie, terwyl haar sussie, wat nog op laerskool is, luidkeels in die agtergrond sing. Sy bring haar afdag by haar ouers se huis in Stellenbosch deur, omring met die mense wat sy as van die belangrikste in haar lewe ag. “Ek is uit en uit ’n mense-mens,” sê sy. “Daar is soveel mense vir wie ek lief is dat dit vir my moeilik is om net een uit te sonder.”

Greteli Fincham het onlangs eers op Suid-Afrikaanse televisie verskyn. Tog het díe jong aktrise reeds ʼn klomp mylpale bereik. FOTO: Verskaf/Greteli Fincham, Aletta Francina

Greteli Fincham het onlangs eers op Suid-Afrikaanse televisie verskyn. Tog het díe jong aktrise reeds ʼn klomp mylpale bereik. FOTO: Verskaf/Greteli Fincham, Aletta Francina

Kleurvolle klere

Miskien is dit juis dié insident met die geel rokkie wat Greteli so baie van klere laat hou het. Sy het onlangs haar eie besigheid, Kuns Miss, uitgebrei deur drie nuwe klerereekse en ʼn versameling van plaaslik vervaardigde juwele toe te voeg. 

Kuns Miss was tot nou toe hoofsaaklik ’n platform waar Greteli haar kunswerke kon uitstal. Sy doen ook persoonlike sketse vir kliënte. 

“Klere is vir my ’n vorm van kreatiwiteit. Ek is mal daaroor om mooi aan te trek,” sê sy wanneer sy oor die klerereekse begin praat. Die kledingstukke word deur die plaaslike ontwerper Belinda Venter, gemaak. Belinda besit haar eie vervaardigingsmaatskappy, Believe by Belinda.

Greteli en Belinda het mekaar by ’n fotosessie vir ’n ander plaaslike onderneming ontmoet. Belinda het ook die kledingstukke vir hierdie besigheid gemaak, en Greteli was die model. Hulle het op die stel van die fotosessie begin gesels oor die ontwerp en maak van klere. 

Greteli het aan Belinda vertel dat sy nog altyd ’n droom gehad het om haar eie klerereeks te begin, maar dat sy nog nie die regte persoon kon vind om haar daarmee te help nie. “Dit is daar waar ons pad saam begin het,” sê Belinda. “Ek het haar gehelp met die idees wat sy vir my gegee het en het vir haar patrone en voorbeeld-items begin maak.”

Belinda verduidelik dat Greteli die kledingstukke ontwerp terwyl sy [Belinda] die patrone en items maak. Sy beskryf die twee nuwe klerereekse as “helder, kleurvol en onbeskaamd”. Albei klerereekse vorm deel van die ‘Jubilance’-versameling en volg kort op die hakke van Kuns Miss se eerste klerereeks, wat uit ’n handjievol stylvolle rokke bestaan het. Die nuutste aanbiedings sluit nou ook netjiese baadjies, langbroeke en selfs broekpakke in.

“Die klere wat nou [beskikbaar is], is nie noodwendig ’n styl wat almal gaan wil dra nie, maar dit is vir my lekker dat dit iets anders gaan wees wat jy nie sommer net in elke winkel sal kry nie,” sê Greteli.

Greteli Fincham het onlangs drie nuwe klerereekse tot haar besigheid, Kuns Miss, gevoeg. Dié reekse is helder, kleurvol en onbeskaamd, sê sy. FOTO: Verskaf/Greteli Fincham

Greteli Fincham het onlangs drie nuwe klerereekse tot haar besigheid, Kuns Miss, gevoeg. Dié reekse is helder, kleurvol en onbeskaamd, sê sy. FOTO: Verskaf/Greteli Fincham

Name, vanne…

En die naam, Kuns Miss? Greteli vertel dat die idee eintlik van een van haar skoolvriendinne af gekom het. Sy en ’n groep vriendinne was besig met ’n dekor-aktiwiteit by die skool toe een van die meisies losgetrek het met “As iemand ooit ’n nuwe Instagram-naam nodig het, ‘kunsmiss’ is nogal cool!”

Die vriendin het verduidelik dat die naam uit kuns, oftewel art, en miss, oftewel dame, bestaan. Kuns Miss kan dan byna letterlik vertaal word na ‘kunstige dame’.

Die naam het perfek aangesluit by Greteli se toekomsdrome vir haar besigheid. “Op die ou einde wil ek hê dat [Kuns Miss] ’n samewerkende gemeenskap moet wees waar almal, en veral jong vroue [soos Belinda], hulle verskillende tipes kuns kan bydrae. ’n Klomp kunsmisse!” sê sy.

Elani, en toe Reece

Benewens klere ontwerp of kuns skep, is Greteli die afgelope paar jaar ook gereeld voor die kamera te sien. In 2019 het sy haar eerste groot rol losgeslaan in die kykNet-reeks Alles Malan, ’n familiedrama wat in die Paarl afspeel en die Malan-gesin oor twee generasies volg. Greteli het as Elani Malan, ’n swanger tienermeisie wat dié geheim vir haar familie probeer wegsteek, op die kassie verskyn.

Sedertien is sy ook te sien in die Suid-Afrikaanse Netflix-reeks, Blood and Water, waar sy die rol van Reece vertolk. Reece is ’n geharde rebel wat dwelms smous. Produksie van die reeks se tweede seisoen is in Maart 2021 voltooi. “My karakter [Reece] se storielyn daarin is baie groter as in seisoen een, so dit is baie opwindend. Kykers gaan meer in Reece se lewe kan insien,” sê Greteli.

Greteli op die stel van Blood and Water. Sy vertolk die rol van Reece, ʼn rebel wat met dwelms smous. FOTO: Verskaf/Greteli Fincham, Lindsey Appolis

Greteli op die stel van Blood and Water. Sy vertolk die rol van Reece, ʼn rebel wat met dwelms smous. FOTO: Verskaf/Greteli Fincham, Lindsey Appolis

Maar dit is steeds Alles Malan waarop sy die trotste is. Greteli verduidelik dat díe rol haar deurbraak in die tv- en film-industrie was. “Dit was ’n fantastiese omgewing om in te werk en die akteurs en aktrises, asook die produksie-span, was soos my familie,” sê sy.

Wikus du Toit, die uitvoerende vervaardiger van Alles Malan, sê dat sy ’n ongelooflik deeglike aktrise is. “Haar voorbereiding het gesorg dat sy ’n baie moeilike rol met soveel gemak en oortuiging kon vertolk,” verduidelik hy.

Beide Alles Malan en die eerste seisoen van Blood and Water is vervaardig terwyl Greteli haar matriekjaar aan die Hoërskool Stellenbosch voltooi het. Sy moes die produksie van die twee reekse dus met haar rekord- en eindeksamens balanseer. “Dit was ’n woeste jaar, maar ek het nooit eintlik gedink dat dit vir my moeilik was nie. Ek het net altyd geweet dat ek hierdie moet laat werk, en ek kan nie nou stilstaan en uit-freak nie,” verduidelik sy laggend. Greteli sê ook dat sy gedurende hiérdie deurmekaarspul eers regtig geweet het dat sy ’n aktrise wil wees.

“Ek het begin agterkom wat ek eintlik met my lewe wil doen en ek moes myself afvra: ‘Wil ek eendag suksesvol wees in Wiskunde of wil ek eendag in ’n baie goeie reeks speel?’ ”

Daar was vir haar geen onduidelikheid oor die antwoord op daardie vraag nie. Nou pluk sy die vrugte. 

Greteli speel ook soms fotograaf as deel van haar fotografie-besigheid, Greteli Fincham Photography. Sy verduidelik dat haar voorliefde vir stories skep en vasvang haar grootste motivering was om dié stokperdjie in ’n besigheid te omskep. Haar gunsteling oomblik as fotograaf is wanneer haar onderwerp rou emosie wys en sy daardie intieme oomblik kan afneem. 

Greteli speel ook soms fotograaf as deel van haar fotografie-besigheid, Greteli Fincham Photography. Haar gunsteling oomblik agter die kamera is wanneer haar onderwerp rou emosie wys en sy daardie oomblik kan vasvang. FOTO: Verskaf/Greteli Fincham

Greteli speel ook soms fotograaf as deel van haar fotografie-besigheid, Greteli Fincham Photography. Haar gunsteling oomblik agter die kamera is wanneer haar onderwerp rou emosie wys en sy daardie oomblik kan vasvang. FOTO: Verskaf/Greteli Fincham

ʼn Oog op die toekoms

Op twintig, skryf Greteli haar vroeë suksesse toe aan harde werk, toewyding en blote geluk. Dit het, volgens haar, ook baie deursettingsvermoë geneem om vir haar oudisies voor te berei terwyl sy nog op skool was. 

Terugskouend meen sy dat sy weer dieselfde besluite sou neem, en sê dat sy “regtig tevrede” is met hoe die belangrike dinge tot dusver vir haar uitgedraai het. “Maar met die klein goedjies leer mens elke dag iets nuut.”

Greteli vertel dat sy nooit op ’n plek in haar lewe wil kom waar sy voel dat sy alles geleer het nie. “Ek dink jy moet net altyd met oop oë deur die lewe gaan,” sê sy.

Haar planne vir die toekoms verander tans omtrent elke dag, sê sy. Dus pak sy die lewe dag vir dag aan. Greteli dink nog nie aan haar vyf-jaar-plan nie en wil, vir die afsienbare toekoms, net sien waarheen haar lewenspad haar neem. “Ek is ’n kreatiewe mens en ek dink as jy so ’n deurmekaar kop [soos ek] het, dan verander die plan vir jou lewensreis gereeld,” verduidelik sy.

Sy hoop wel om oor ’n paar jaar meer stabiliteit in haar besighede te hê en dat sy daarmee ook ’n naam vir haarself kon maak. En, natuurlik, dat sy lekker hard sal kan werk as aktrise. Sy droom daarvan om met rolle in ’n paar goeie films en reekse te kan spog.

,