Grabouw-grondkwessie ontaard in menseregtekwessie

Die Menseregtekommissie (MRK) sal eersdaags ondersoek instel na beweerde menseregteskendings deur die Grabouw Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) teenoor ’n groep mense wat tans aanspraak maak, asook ’n teenwoordigheid uitoefen, op grond in die Overberg.

Dít was volgens Reagan Brown, regsverteenwoordiger van die betrokke groep wat bekend staan as die Grabouw Khoisan Raad [sic]. 

Die Grabouw SAPD het na bewering op 25 Mei boustrukture wat deur die betrokke groep en ander belanghebbendes op die stuk grond opgerig is, afgebreek, het Brown telefonies aan MatieMedia gesê. Die polisie het ook na bewering gewelddadig teenoor lede van die raad en die gemeenskap opgetree, het Mark Mathews, voorsitter van die Grabouw Khoisan Raad, telefonies beweer.

Die Grabouw SAPD sal die belanghebbendes nou toelaat om strafregtelike klagte teen hulle aanhangig te maak vir “hoe onmenslik die uitsettings uitgevoer is”, het Brown beweer. Brown het ook beweer dat die Grabouw SAPD aanvanklik nié die klagte wou toelaat nie.

Grondpolitiek

Die grond onder bespreking, wat bekend staan as Knoflokskraal, behoort aan die Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur (DPWI), maar is aan die Departement van Omgewing, Bosbou en Visserye (DEFF) toegedien. Dít was volgens Patricia De Lille, minister van die DPWI, tydens ’n onlangse vergadering met die raad. 

De Lille het bevestig dat die DPWI en die DEFF in Maart vanjaar ’n tussentydse hofbevel teen die raad se teenwoordigheid op die grond by die Wes-Kaapse Hooggeregshof ingedien het. Die bevel is om die oprig van verdere strukture te verbied en om onbewone strukture af te breek, het De Lille gesê. “Dit is nie ’n uitsettingsbevel nie,” het sy bygevoeg.

Die hof beslis egter eers op 11 Augustus oor dié saak, het Brown gesê.

Volgens Mathews is dit tans onduidelik wie die bevel aan die polisie gegee het om met die beweerde sloping van strukture voort te gaan. “Die polisie […] [en] die bode van die hof wil nie met ons praat oor wie die bevel gegee het nie,” het hy gesê. 

Grabouw

Grabouw: ’n Onvoltooide boustruktuur op Knoflokskraal. FOTO: Candice Jantjies

Die raad het intussen op 27 Mei ’n hofbevel teen die Grabouw SAPD by die hof ingedien om die polisie te beveel om alle gesloopte strukture te herstel, het Brown gesê. Die hof het volgens Brown die bevel goedgekeur, waarna die Grabouw SAPD op 29 Mei en 30 Mei strukture begin herstel het.

Die raad het ook onlangs in Grabouw betoog, waartydens hulle ’n memorandum aan die Grabouw SAPD oorhandig het, het Chrisjan Gertse, adjunkvoorsitter van die Grabouw Khoisan Raad, gesê. Die groep se aanspraak op die grond, asook hul ontevredenheid oor die “gewelddadige” wyse waarop die polisie na bewering teenoor hulle opgetree het, is in die memorandum benadruk, het Denzel Klaase, adviseur vir die raad, gesê.

Betoog

Grabouw: Die Grabouw Khoisan Raad [sic] en ander belanghebbendes betoog op 22 Mei teen die beweerde gewelddadige optrede deur die Grabouw Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) teenoor hulle. FOTO: Verskaf/Andrew Valentyn

Grabouw: Die Grabouw Khoisan Raad [sic] en ander belanghebbendes tydens die betoging op 22 Mei. VIDEO: Verskaf/Andrew Valentyn

Die Grabouw SAPD mag op hierdie stadium “geensins” met die media praat nie, het David Williams, voorsitter van die Grabouw SAPD se Gemeenskapspolisieforum (GPF) en bemiddelaar tussen die betrokke partye, telefonies aan MatieMedia gesê. 

“As bemiddelaar en fasiliteerder van die proses [tussen die Grabouw SAPD, die Grabouw Khoisan Raad en die MRK], mag ek op hierdie stadium glad nie met die media praat nie,” het Williams gesê. “Alle mediakontak moet met die Menseregtekommissie self gemaak word.”

MatieMedia het in verbinding getree met die MRK se Wes-Kaapse en nasionale kantore, maar het met publikasie nog nie kommentaar ontvang nie.

, , , , , ,