Geskiedkundige brug kry nuwe baadjie – ná 331 jaar

Die oudste brug om toegang tot Stellenbosch te gee, sal later vanjaar omskep word van ‘n eenbaanbrug na ‘n tweebaanbrug. Die Steenenbrug, wat in 1691 opgerig is, is naby aan waar die Bosman’s Crossing-woonstelle vandag te vinde is. Dit is volgens Johannie Serdyn, Stellenbosch-wyksraadslid van wyk 11, wat die geleentheid gereël het. Belangstellendes het op 24 Februarie ’n geselligheid by dié brug gehou om sy geskiedenis te eer. 

Simon van der Stel

’n Gemeenskapslid het as “Simon van der Stel” aangetrek en die viering van die Steenenbrug as Stellenbosch se stigter bygewoon. FOTO: Karla van der Merwe

“Vir die laaste drie jaar stap ons elke oggend oor hierdie bruggie,” het Serdyn verduidelik. Toe hulle besef dat die bruggie ’n gedaanteverwisseling gaan ondergaan, het hulle besluit om iets te doen om sy geskiedenis te herdenk, het sy gesê. 

brug

Johannie Serdyn, Stellenbosch-wyksraadslid van wyk 11, wat die viering van die Steenenbrug geörganiseer het. FOTO: Karla van der Merwe

Hannes van Zyl, bestuurslid by die Stellenbosch Erfenis Stigting, het by die geleentheid vertel dat die brug “vir 260 jaar die ingang tot Stellenbosch [was]”  totdat daar rondom 1951 en 1952 ’n ander brug gebou is wat die verkeer op ’n ander manier in Stellenbosch ingelei het.

brug

Hannes van Zyl, bestuurslid by die Stellenbosch Erfenis Stigting, het vertel dat entomoloog Louis Albert Péringuey destyds paleolitiese werktuie naby die brug gevind het. Dit het aangedui dat die area al sedert die vroeë steentydperk gebruik is. FOTO: Karla van der Merwe

“Die brug is so bietjie soos oupa se byl: Hy het al agt stele en ses lemme gehad, maar dit is steeds oupa se byl,” het Van Zyl gesê. “Hierdie brug is deur die jare baie beskadig en baie verander en elke keer het hulle probeer om van die oorspronklike materiaal weer te hergebruik. En hierdie keer gaan hulle dit weer doen.”

Opgradering om ontwikkeling te bevorder

Die brug is volgens ingenieurs nie meer veilig om die volume en gewig van die verkeer van die verkeer wat dit tans dra, te hanteer nie, het Van Zyl verduidelik.

“Hierdie area is besig om te herontwikkel […] en om dit verder toeganklik te maak vir ontwikkeling moet ons die brug opgradeer om [die ontwikkeling] te fasiliteer,” het Stiaan Carstens, ’n senior bestuurder van ontwikkelingsbestuur by Stellenbosch Munisipaliteit, aan MatieMedia gesê.

brug

Pietman Retief, nog ’n gasspreker by die viering van die Steenenbrug en ’n Stellenbosse storieverteller en toergids, het gesels oor die geskiedenis, die mense en die bedrywighede rondom die brug. FOTO: Karla van der Merwe

Serdyn het by die geleentheid gesê dat die opgradering van die brug teen die einde van September vanjaar voltooi sal wees. Sy het ook genoem dat sy bly is dat daar kinders by die geleentheid was. “Ons moet ons kinders ’n bietjie meer bewus maak van hoe kosbaar ons geskiedenis vir ons is,” het sy gesê.

, , , ,