Geestesgesondheid in kollig by vanjaar se ‘Hope Hike’

Die stryd teen geestesgesonheidskwessies kan nie in isolasie beskou word nie – dit is ’n gesamentlike roeping vir ons gemeenskap. Dit is volgens Prof Lizette Rabe, stigter van die Ithemba-stigting en mede-organiseerder van die onlangse staptog wat ten doel gehad het om bewusmaking rondom geestesgesondheid te skep.

Dié Hope Hike-samekoms is op 1 Oktober deur die Ithemba-stigting by Blaauklippen-wynlandgoed in Stellenbosch gehou, volgens Rabe. Mense kon ook virtueel aan die stap deelneem.

Die Ithemba-stigting is in 2012 gestig met die doel om bewustheid rondom geestesgesondheid te verhoog en stigmas af te breek, het Rabe gesê.

Deelnemers kon kies of hul aan ’n 3km-, 5km- of 10km-staptog wil deelneem, het Rabe vertel.

“Geestesgesondheid is ’n onderwerp waaroor studente nie genoeg praat nie, omdat studente skaam is om hulp te vra.” Dit is volgens Iviwe Luthango, finalejaar-onderwysstudent en een van die deelneemers aan die staptog. FOTO: Sebastian Paulus

Regstelling van stereotipes

“Psigiese siektes, soos depressie, kry nie dieselfde soort aandag as siektes soos kanker nie en dit is omdat mense nie genoeg daaroor praat en ook nie die nodige kennis oor die onderwerp dra nie,” het Rabe aan SMF News gesê.

Geestesgesondheid en geestelike welstand is ’n baie breë onderwerp en kan nie [langer] gepatologiseer word nie, het Elouise van Wyk, samekomsteleier vir die Senior Living Spaces-kluster (SLS) aan die Universiteit Stellenbosch (US) en deelnemer aan die Hope Hike-samekoms, gesê. 

“Daar is ’n baie negatiewe stigma rondom geestesgesondheid. Dit is een van die redes waarom [ons] by [die] SLS-kluster so passievol is om geleenthede soos hierdie te ondersteun,” het Van Wyk aan SMF News gesê.

Geestesgesondheids- en ondersteuningsdienste kan soms baie ontoeganklik wees, het sy gesê. Hulle hoop dus dat hul ondersteuning aan die inisiatief en die Ithemba-stigting ook vir studente die geleentheid sal gee om deel te neem aan aktiwiteite wat hul geestesgesondheid positief sal beïnvloed, het sy vertel.

Volgens Prof Lizette Rade, mede-organiseerder van die geleentheid, kon deelnemers kies of hul in persoon of virtueel aan die staptog wil deelneem. FOTO: Sebastian Paulus

Iviwe Luthango, finalejaar-onderwysstudent aan US en deelnemer aan die Hope Hike-samekoms, het saamgestem met Van Wyk se siening. 

“Geestesgesondheid is ’n onderwerp waaroor studente nie genoeg praat nie, omdat studente skaam is om hulp te vra,” het Luthango gesê.

Volgens Luthango was die Hope Hike ’n wonderlike geleentheid om studente te wys hoe voordelig tyd in die buitelug vir ons geestesgesondheid kan wees.

Ná afloop van die staptog het deelnemers die geleentheid gekry om verskeie pryse te wen. Volgens Elouise van Wyk, een van die bywoners van die geleentheid, was die pryse ’n goeie manier om deelnemers bymekaar te bring en gees aan te moedig. FOTO: Sebastian Paulus 

*SMF News is ’n onafhanklike publikasie wat vervaardig word deur die BAHons-studente aan die Universiteit Stellenbosch se departement joernalistiek. Prof Lizette Rabe is die voormalige hoof van die departement.

, ,