Gee Kontras die pas aan vir alternatiewe Afrikaanse musiek?

Kontras is ’n nuwe Afrikaanse band wat onlangs hul eerste optrede by Aandklas gehad het. Hulle is alternatief, so effe aggressief, en tog ook baie vol hoop. MatieMedia-joernalis Lia Snijman het met hulle gesels.

Kontras is ’n nuwe Afrikaanse band. Van links na regs: Daniël Botha, Louwrens Labuschagne, Andrew Veldman en Jacques Groenewald. FOTO: Migael Dannhauser.

Kontras is ’n nuwe Afrikaanse band. Van links na regs: Daniël Botha, Louwrens Labuschagne, Andrew Veldman en Jacques Groenewald. FOTO: Migael Dannhauser.

“Werk ek vir ’n lewe, of lewe ek vir ’n werk?
Die dae is genommer, vervaldatums beperk.”

Dit is die lirieke van “Middelklas Middelman” wat die hoofsanger van Kontras sing en wat die gehoor vir hom terugskree in ’n stampvol Aandklas.

Hy staan langsaan ’n kitaarspeler met ’n tattoo sleeve. Sy arms is uitgesprei sodat ’n mens sy t-hemp kan sien waarop “Let’s sacrifice Toby” geskryf is. Die gehoor lig hul drankies omhoog, gereed vir sy volgende beweging.

Jacques Groenewald sing vir die gehoor in Aandklas. FOTO: Migael Dannhauser.

Jacques Groenewald sing vir die gehoor in Aandklas. FOTO: Migael Dannhauser.


Kontras se hoofsanger, Jacques Groenewald (24), sê hy het al in Februarie 2017 begin liedjies skryf en met hul kitaarspeler, Andrew Veldman (24), en Louwrens Labuschagne (25), hul baskitaarspeler, daaroor gepraat om ’n band te begin.

In Desember 2017 het Veldman toevallig in Aandklas vir Daniël Botha (21) ontmoet en begin praat oor Afrikaanse musiek. Kort daarna is Botha gevra om die dromspeler vir die band te wees.

Wanneer hulle gevra word oor hul naam, verduidelik Veldman: “Kontras is die beste manier om die musiek, die persoon en als wat gebeur te beskryf.”

Hulle sê dat ten spyte van die feit dat Groenewald, Veldman en Labuschagne saam op universiteit was in Stellenbosch, en boonop saam in Oude Molen se HK-huis gebly het, is hulle almal baie verskillend.

Die groot ding wat hulle drie en Botha, tans nog ’n student by die Universiteit van Stellenbosch, in gemeen het, is hul liefde vir alternatiewe Afrikaanse musiek.

Andrew Veldman tokkel die kitaar. FOTO: Migael Dannhauser.

Andrew Veldman tokkel die kitaar. FOTO: Migael Dannhauser.


Hulle meen dat hierdie liefde ontwikkel het omdat hulle met die musiekkanaal MK en bands soos Glaskas, Fokofpolisiekar en Foto na Dans grootgeword het. Hulle voel egter dat daar huidiglik ’n gaping in die mark is.

Groenewald sê met ’n glimlag: “Ons het net gedink dis weer tyd dat iemand dit reg doen.”

Arnold van der Walt (28), ’n agent vir die platemaatskappy Artist and Repetoire sowel as die hoofaanbieder en DJ by Aandklas, meen ook dat die aantal alternatiewe Afrikaanse groepe verminder het.

Hy verduidelik dat vorige groepe die standaard baie hoog gestel het. Hy voeg by: “En almal het daai aanvaar. En baie mense het gesukkel om op te kom teen daardie standaard.”

Louwrens Labuschagne geniet die oomblik op die verhoog met sy baskitaar en Daniël Botha sing in die agtergrond. FOTO: Migael Dannhauser.

Louwrens Labuschagne geniet die oomblik op die verhoog met sy baskitaar en Daniël Botha sing in die agtergrond. FOTO: Migael Dannhauser.


Volgens Van der Walt is die groot probleem dat bands probeer om soos die vorige bands te wees. Sy advies aan nuwe groepe is: “Wees jou eie self.”

Dit blyk om Kontras se plan te wees. Veldman verduidelik dat hulle wil hê hul liedjies moet resoneer by mense en dat hulle die oorspronklikheid daarvan moet voel.

Botha brei uit dat hulle musiek iets vir almal bied, maar dat dit nie nodig is vir mense om van elkeen van hul liedjies te hou nie, solank mense net aanklank vind by iets.

Groenewald sê daaroor: “As jy nie deel is van mainstream Afrikaans nie, dan is dit baie moeilik om ’n identiteit te hê en om te voel of jy belong […] Kyk, jy kort ’n kultuur en nie vir ’n f*k gaan ek deel wees van die skaapmentaliteit nie.”

Kontras se dromspeler, Daniël Botha, in aksie. FOTO: Migael Dannhauser.

Kontras se dromspeler, Daniël Botha, in aksie. FOTO: Migael Dannhauser.


Die groep het in Mei 2017 besluit om slegs in Afrikaans te skryf en te sing. Labuschagne beaam: “Afrikaans is mooi. Afrikaans is ’n lekker taal. En dit is lekker om net uiting te vind in Afrikaans.”

Hulle verduidelik dat hulle nie noodwendig teen populêre Afrikaanse musiek gekant is nie, maar dat hulle musiek betekenis moet oordra en nie net moet aandag gee aan woorde wat rym nie.

Botha vertel trots dat hulle reeds meer as 4 000 luisteraars op Spotify het. Hy grinnik en sê: “Oormôre is dit 17 maande vandat ons begin het met die band.”