Franschhoek seëvier in kriekettoernooi

Die verdigende kampioene, die Franschhoek Caribbean Kings (foto een), het hierdie naweek die Big Bash Vlakkie Toernooi gewen by die Lanquedoc-sportveld. Hulle het die Klapmuts Red Devils (foto twee) in die finale rondte van die toernooi geklop. FOTO’S: Joel Ontong

’n Franschhoekse krieketspan het die naweek met die louere weggestap by ’n kriekettoernooi in Lanquedoc.

Die Franschhoek Caribbean Kings-krieketspan het die Klapmuts Red Devils oorwin tydens die finale rondte van die Big Bash Vlakkie Toernooi. Die finaal het op 25 September by die Lanquedoc-sportveld plaasgevind.

In vlakkiekrieket, tel been voor paaltjie nie as ’n oortreding nie en ’n tennisbal met kleefband om word gebruik om mee te boul, het Aubern Williams, die organiseerder van die toernooi, verduidelik. 

Die Caribbean Kings is ook in 2021 as die Big Bash Vlakkie Toernooi-wenners gekroon, volgens Logan Boonzaier, die Caribbean Kings se spanbestuurder.

Die Franschhoek Caribbean Kings het die Klapmuts Red Devils in die tweede kolfbeurt van die Big Bash Vlakkie Toernooi-finaal uitgeboul nadat hulle in die eerste kolfbeurt 115 lopies aangeteken het. VIDEO: Joel Ontong

Caribbean Kings kraai koning 

“Ons glo in die boulers en ons glo ons kan enige telling verdedig,” het Arleon Davids, die Caribbean Kings se spankaptein, gesê. Die toernooi was ook ’n goeie opwarmingsgeleentheid vir die komende Franschhoek Sondagligatoernooi, het hy gesê. Hierdie toernooi skop af op 2 Oktober, volgens die toernooi se Facebook blad. 

Die Caribbean Kings het eerste die kolf aangedurf en het na 20 boulbeurte ’n totaal van 115 lopies aangeteken vir 7 paaltjies. Hulle het die Red Devils in die tweede kolfbeurt uitgeboul nadat die Klapmuts-span slegs 97 lopies kon aanteken.

“Ons kolfwerk was net nie die beste vandag nie,” het Chase Jacobs, die Red Devils se spankaptein, gesê. “As ons in daai eerste tien boulbeurte hulle onder druk kon sit, dan [sou] dit ’n beter wedstryd gewees het.” 

Die Red Devils was egter verbaas dat hulle die finaal gehaal het, het Jacobs gesê. Dit is omdat hulle vir ses maande voor die toernooi geen krieketwedstryde gespeel nie, volgens Jacobs.

“Ek is baie trots op ons span. Baie min mense het gedink dat daar in so ʼn klein dorpie soos Klapmuts so baie talent is,” meen Theodore Cloete, die Red Devils se media-bestuurder.

Die Big Bash Vlakkie Toernooi is deur Aubern Williams (foto een) van Pniel georganiseer. Die toernooi het vanaf 17 September tot 25 September plaasgevind, volgens Williams. In die finale rondte het die Franschhoek Caribbean Kings en Klapmuts Red Devils die stryd aangepak. Arleon Davids (foto twee, links) is die kaptein van die Caribbean Kings en Chase Jacobs (foto twee, regs) is die kaptiein van die Red Devils. Logan Boonzaier (foto drie) is die spanbestuurder van die Caribbean Kings, Theodore Cloete (foto vier, regs) is die mediabestuurder van die Red Devils en Nicolas Louw (foto vier, links) is ’n lid van die Red Devils se bestuursspan. FOTO’S: Joel Ontong

Vlakkiekrieket-toernooi

Die toernooi het op 17 September afgeskop en agt spanne het deelgeneem. Dit het ingesluit die Wellington Super Strikers, Klapmuts Red Devils, Franschhoek Caribbean Kings, Pniel Knights, Belville Black Leopards, Meerlust Superkings, Lanquedoc Bulldocs en die Brickfields Eagles, volgens Williams.

Die doel van die toernooi was om krieket in Dwarsrivier te bevorder aangesien “die populariteit van krieket besig [is] om uit te sterf” in daardie area, het Williams gesê.

“Krieket het geseëvier op die ou einde,” het hy gesê.

“Krieket is ’n positiewe ding, dit gee die manne ʼn positiewe uitkyk,” het Arleon Davids, die kaptein van die Franschhoek Caribbean Kings-krieketspan, gesê. Die Big Bash Vlakkie Toernooi was, volgens Davids, ’n goeie opwarmingsgeleentheid vir sy span se komende seisoen. FOTO’s: Joel Ontong