Franschhoek Bastille-fees lok 10 000 feesgangers

Die gees in die middedorp van Franschhoek was vanjaar een van die hoogtepunte van die jaarlikse Franschhoek Bastille-fees. Dit is volgens Elsa Post, ’n plaaslike inwoner wat al 29 jaar in die dorp woon.

Ongeveer 10 000 feesgangers het die fees, wat vanjaar op 15 en 16 Julie aangebied is, bygewoon, het Ruth McCourt, uitvoerende hoof van Franschhoek-wynvallei, gesê.

Die fees was vanjaar weer terug in die middedorp nadat dit vir ’n paar jaar by die Hugenote-monument gehou is. Volgens McCourt hoop hulle dat die skuif terug middedorp toe aan plaaslike restaurante en winkels die geleentheid sal gee om by die stroom van feesgangers te baat.

Dickie Post (links) en Elsa Post (regs) het verlede jaar die titel van Best Dressed by die Franschhoek Bastille-fees verower. Hulle bly nou al vir 29 jaar in Franschhoek en versier jaarliks hul huis vir die fees. FOTO’s: Stefani Terblanche

Die Bastille-fees is een van die oudste feeste in Franschhoek en het in 1992 begin om die “verveeldheid van winter te ontsnap” en meer toeriste na die dorp toe te lok, het Siegfried Schäfer, die eienaar van die Franschhoek Tatler, per e-pos aan SMF News gesê

Franschhoekers in hul noppies

“Dit was soos die ou dae, en dit is wat ons wou gehad het,” het McCourt gesê.

“Dis ’n lekker vibe,” het Anne Jacobs van Anne’s Catering, wat nou al 58 jaar in Franschhoek woon, vertel. 

Mense op stelte, die Kaapse Klopse, konsertina- en saksofoonspelers, die plaaslike koor en verskeie ander kunstenaars het by vanjaar se Franschhoek Bastille-fees opgetree. Dit is volgens Ruth McCourt, uitvoerende hoof van Franschhoek Vallei-toerisme. VIDEO’s: Liza-May Pieters/Stefani Terblanche

Sy is dankbaar vir die ekstra voete wat die fees hierdie jaar gebied het, en ook vir die feit dat sy nie vir haar stalletjie in die Stadsaal hoef te betaal nie. 

Meer as 10 000 mense het die naweek die Bastille-fees op Franschhoek bygewoon, en 3 500 kaartjies is verkoop vir die marquee-tent, volgens Ruth McCourt, uitvoerende hoof van Franschhoek-wynvallei.  FOTO’s: Stefani Terblanche

’n Fransman se perspektief

Franse inwoners verkies om Bastille-dag, oftewel 14 Julie, met wyn en musiek in die aand te geniet, het Clément Vuillomet, ’n toeris van Frankryk wat die fees bygewoon het, verduidelik. 

“Dit is een van die grootse gebeurtenisse wat ons het,” het Vuillomet gesê. “Op die aand van die veertiende word vuurwerke toegelaat.” Stede hou kompetisies tussen mekaar om te sien watter stad die beste vuurwerke het, het hy gesê. 

Daar is ook militêre parades op die Champs Elysee, ’n groot straat in Parys, en ’n Patrouille de France waar Franse vliegtuie die Franse kleure in die lug spuit, het Vuillomet verduidelik. 

“Die hele Franschhoek raak opgewonde om die strate te versier,” het Ruth McCourt, uitvoerende hoof van Franschhoek-wynvallei, gesê oor die Bastille-fees wat op 15 en 16 Julie in Franschhoek gevier is. “Ons bied ook ’n prys aan vir die winkel wat die beste versier is, om hul aan te moedig.” FOTO’s: Stefani Terblanche

, ,