Fokofpolisiekar vermaak feesgangers met eerste ‘Selfmedikasie’-vertoning op Stellenbosch

Met ouer liedjies soos “Antibiotika”, “Ek Skyn (Heilig)” en “Tevrede”, het Fokofpolisiekar dit reggekry om feesgangers van die US Woordfees luidkeels te laat saamsing. Dié groep wat vanjaar hul vyftiende bestaansjaar vier, het weereens bewys dat hulle nog lank nie reg is vir uittree nie.  

“Dis lekker om te sien dat daar mense is wat meer hou van musiek as rugby,” het Francois van Coke, hoofsanger, gespot. Dié Fokofpolisiekar-vertoning het in dieselfde tydgreep as die Varsitybeker-wedstryd tussen Maties en Ikeys plaasgevind en was ook die eerste geleentheid vir die groep om liedjies van hul nuwe album, Selfmedikasie, voor ’n Stellenbosch-gehoor te speel.

Van hierdie nuwe liedjies het “B2CY”, “Parkiebank, herfs 2017”, “Ek glo in die son” en “Selfoontoring van Babel” ingesluit. Feesgangers was ook natuurlik mal daaroor om “Komma”, die liedjie met die splinternuwe musiekvideo, saam te sing.

Johnny de Ridder at Kirstenbosch.png

Johnny de Ridder, hoofkitaarspeler, speel klavier tydens ’n vertoning by Kirstenbosch Botaniese Tuine. FOTO: Verskaf

Die musiekvideo vir “Komma” is vroeër vanjaar tydens ’n Fokofpolisiekar-vertoning by Kirstenbosch geskiet. Baskitaarspeler, Wynand Myburgh, vertel dat hierdie liedjie, wat nou blyk om die grootste treffer op hul nuwe album te wees, byna nie opgeneem is nie.

“Ons was besig om Selfmedikasie klaar te skryf en ons het geen planne gehad om ’n ballade by te gooi nie.  Een dag het Johnny voor die klavier gaan sit en dit was die begin van wat ‘Komma’ sou word,” vertel hy.

Hunter Kennedy, kitaarspeler en agtergrondsanger, het die lirieke vir hierdie liedjie begin skryf en teen die einde van die album se opnames het die lede van Fokofpolisiekar ’n dag opsy geskuif om idees vir hierdie klavier-begeleide lied te finaliseer.  

Volgens Myburgh is die groep gelukkig oor die feit dat dinge bymekaargekom het vir “Komma”.

“Ons is almal gelukkig met hoe dit uitgedraai het en hoe spontaan die proses was.  Partykeer is [sulke liedjies] die juwele,” sê hy.

IMG_20180305_181641.jpg

Twee van die jongste Fokofpolisiekar-aanhangers by die vertoning was klein Hunter (1) en sy boetie, James (5). FOTO: Arleen Stone

Feesgangers by hierdie vertoning was egter nie nét die ouer generasie Fokofpolisiekar-aanhangers nie. Jonk en oud het hulself by die optrede gevind en indien die musiek nie genoeg was nie, kon feesgangers Fokofpolisiekar op ander maniere ook geniet.

’n Kosstalletjie by die Jan Marais Natuurreservaat, waar die vertoning plaasgevind het, het aanhangers ook die geleentheid gegee om burgers met die groep se naam daarop te geniet.  

IMG_20180305_182728.jpg

Feesgangers kon burgers met Fokofpolisiekar se naam daarop gebrandmerk, koop. FOTO: Jana Wentzel

Die aand is afgesluit met vier mense uit die gehoor wat op die verhoog genooi is om die groep se liedjie, “Fokofpolisiekar”, self te sing.

Fokofpolisiekar se volgende optrede sal by die International Tattoo Convention op 23 Maart by die V & A Waterfront plaasvind.

– Wilhelm Schumann, Arleen Stone, Jana Wentzel

,