Film oor Griekwastad-moorde ‘wys wat niemand wil sien nie’

Die film, Griekwastad, gebaseer op die moorde van die Steenkamp-gesin in 2012, het ’n draai by die Toyota US Woordfees 2020 kom maak. Dit weerspieël die hedendaagse temas van geweld, manlikheid en seks in ’n gemeenskap, asook die land se soeke na ’n groter waarheid.

“Dit wys wat niemand wil sien nie,” het Jane de Wet, wat die rol van Marthella Steenkamp vertolk, gesê. De Wet het verder verduidelik dat dit presies die tipe materiaal is waarmee ons land nou gekonfronteer móét word. “Griekwastad vertel nie net die Steenkamp-gesin se storie nie, maar die van vele wat onder ondenkbare en onmenslike omstandighede vermoor is,” het De Wet verder gesê. 

83850903_554217588528173_1298229056130430884_n (2)

Jane de Wet as Marthella Steenkamp, uit ‘n toneel in Griekwastad. FOTO: @janedewet1 op Instagram

Tertius Kapp, die draaiboekskrywer, verduidelik dat die familie-opset van die film ’n Freudiaanse lens aan die werk verleen. Dit het ook die elemente van ’n Griekse drama. “Ek dink die temas in die film is al vir honderde jare relevant en sal vir nóg honderde so bly… plase, geweld, seks en die versteekte spannings binne ‘modelfamilies’,” het Kapp gesê.

“Ek het die temas as baie relevant ervaar. Dit is agt jaar later en ons spreek steeds vandag dieselfde kwessies aan,” het Suretha Swart, ’n fliekganger gesê.

DSC_0348 Griekwastad

Fliekgangers by Pulp Cinema in die Neelsie, wag vir die vertoning van Griekwastad by die Toyota US Woordfees 2020.

Die film, wat verlede jaar by die Silwerskermfees gedebuteer het, is gebaseer op Jacques Steenkamp se boek, The Griekwastad Murders – The Crime That Shook South Africa. Die boek is in 2014 vrygestel — dieselfde jaar waarin Don Steenkamp skuldig bevind is aan die moorde op sy ouers en suster.

Die film kan nog tot 15 Maart by Pulp Cinema in die Neelsie gesien word, as deel van die Toyota US Woordfees se filmfees. Na afloop van die vertoning sal ’n ope-gesprek met die regisseur, Jozua Malherbe, en die draaiboekskrywer, Tertius Kapp, volg.

Die gesprek is gratis.

Die amptelike lusmaker-lokprent van Griekwastad.

, , ,