‘Elmboë oral’ – Meer as ’n duisend mense daag op by Valentynsdagsokkie

Rekords het gespat toe meer as ’n duisend mense onlangs by ’n Valentynsdagsokkie by ’n kerk op Stellenbosch opgedaag het.

Sokkies soos hierdie word weekliks by Die Khaya, die gebou langsaan die Kruiskerk aangebied, het Manie du Toit aan SMF News gesê. Hierdie foto is geneem op 27 Februarie vanjaar. FOTO: Duné van Jaarsveld

“Dit is baie moeilik om ’n presiese getal te gee, maar daar was meer as ’n duisend,” het Manie du Toit gesê. Du Toit, D. Ing-student by die Universiteit van Stellenbosch (US), organiseer al vir vier jaar lank die sokkies by ’n lokaal verbonde aan die Kruiskerk. Vanjaar se Valentyndagsokkie het die meeste voete nog ontvang.

“Normaalweg is daar by die weeklikse sokkies so 250 tot 300 mense,” het Du Toit gesê. Die weeklikse sokkies val gewoonlik op Dinsdae of Woensdae. 

Soos ‘stampkarretjies’ op die dansbaan

“Dit was baie vol gewees. Dit was warm. Daar was net elmboë oral en mense het aan mekaar gestamp. Dit was eintlik ongemaklik om te sokkie, want dit was te vol,” het Pieter van der Merwe, ’n derdejaar BA-student wat die sokkie bygewoon het, gesê.

“Ons het nie gedink ons gaan kan dans nie, dit was regtig baie vol,” het Jeandre Steenkamp (’n nagraadse LLB-student), gesê.

“Die saal was gepak met mense. Jy kon nie eers sokkie nie, want dit word ’n stampkarretjie-storie. Die parkeerarea waarin almal gekuier het was vol, amper al die pad tot by die straat,” het Liesje Eigenhuis,’n derdejaar BAgric-student, aan SMF News vertel.

Daar word weekliks sokkies gehou by Kruiskerk op Stellenbosch se perseel langsaan die kerkgebou. FOTO: Duné van Jaarsveld

Als ten bate van liefdadigheid

“Die vorige jaar was daar 900 mense by die Valentynsdagsokkie en die jaar voor dit was daar 850,” het Du Toit gesê. 

Die weeklikse sokkies word op die Kruiskerk se perseel gehou – langsaan die kerkgebou, in Die Khaya en op die parkeerterrein. Terwyl die kerk die ruimte beskikbaar stel vir die sokkies, is hulle nie self by die sokkies betrokke nie, het Du Toit gesê. 

Die toegangsfooi is R20, maar tydens die Valentynsokkie was daar afslag op party mense se kaartjies. “As jy iemand ’n soen op die wang gegee het, kon julle albei vir halfprys inkom,” het Du Toit vertel.

Die toegangsfooie word grotendeels aangewend om kostes te dek, terwyl enige oorblywende geld aan ’n nie-winsgewende organisasie, Isibindi Initiative, in Jamestown geskenk word, het hy gesê.

Du Toit het verduidelik dat hy elke week se sokkies op twee Whatsapp-groepe adverteer. “Daar is op die een [groep] omtrent so 800 mense en op die ander een 650. En dan plaas ek ook weekliks die plakkaat op Instagram.” 

Du Toit het gesê dat hy vanjaar se Valentynsdagsokkie op dieselfde manier as al die ander sokkies geadverteer het.

“Mense soek iets om te doen op Valentynsdag en die sokkie skep ’n geleentheid om mense te sien,” het hy gesê.

“Grootste sokkie van die jaar. Lekker gees en ook lekker om mense by te ontmoet, maar super besig,” het Eigenhuis gesê.

’n Toegangsfooi van R20 is gewoonlik betaalbaar om die sokkies by die Kruiskerk op Stellenbosch by te woon. FOTO: Duné van Jaarsveld

,