Dissipline kos Maties byna hul eerste wen vir die jaar

FNB Maties het Maandag hul eerste FNB Varsitybeker-wedstryd vir die jaar gewen, ten spyte van een geel en een rooi kaart gedurende die wedstryd. Die wedstryd, wat op die Danie Craven-stadion gespeel is, is in die doodsnikke bepaal toe Maties se Jurie Matthee met ’n strafskop geslaag het. Maties het met 21-19 geseëvier.                                          

Maties was wel eerste om punte op die telbord te sit, maar was teen halftyd 16-9 agter, maar kon in die tweede helfte herstel. 

Hulle het twee drieë in die wedstryd gedruk, onderskeidelik deur Jurie Matthee en Thomas Burney. Ikeys se twee drieë is deur Duran Koevort en Lyle Hendricks gedruk. Hendricks was voorheen die kaptein van die Universiteit van die Wes-Kaap se span. 

’n Vol Danie Craven-stadion tydens die eerste Varsitybeker-wedstryd vir 2023. FOTO: Keziah Bailey

Dissipline kos punte

Maties se dissipline het hulle egter amper in die steek gelaat toe Maselino Pooe ’n geelkaart ontvang het vir ’n hoogvat, terwyl Marco van Rhyn in die 85ste minuut ’n rooi kaart vir onwettige spel ontvang het.  

“Ons het verskeie geleenthede gehad om punte aan te teken, met ’n speler tekort en ons het nie daardie geleenthede aangegryp nie,” het Gift Dlamini, kaptein van die Maties, gesê. As die span teen volle sterkte was, sou hulle die geleenthede beter kon benut, het Dlamini gesê.

FNB Maties het FNB Ikeys met 21-19 geklop in hul eerste wedstryd in vanjaar se FNB Varsitybeker. FOTO: Keziah Bailey

Ikeys vas in eie helfte

Ikeys het gesukkel om in die tweede helfte uit hul eie helfte te kom, het David Hayes, Ikeys se kaptein vir Maandag se wedstryd, aan MatieMedia gesê. “Maties het ons regtig vasgehou, ons in ons eie helfte gehou en vir ’n baie lang tyd laat verdedig. Jy kan nie die hele wedstryd verdedig nie, want daar sal ’n tyd kom waar jy uiteindelik gebreek sal word…,” het Hayes gesê. 

Maties het “verskillende alternatiewe” probeer om deur die Ikeys se verdediging te kom, het Jurie Matthee, onderkaptein van die tuisspan gesê. 

Maties draf op 27 Februarie uit teen FNB CUT. Hierdie wedstryd sal ook by die Danie Craven-stadion gespeel word.  

Ondersteuners het in groot getalle opgedaag om die eerste Varsitybeker-wedstryd vir die seisoen by die Danie Craven-stadion by te woon. VIDEO: Keziah Bailey

, , , ,