Dís wat fout is met Klapmuts se bruin kraanwater

Inwoners van Klapmuts is raadop nadat hulle sedert 12 Augustus bruin water moet gebruik wat vreemd ruik. Dit is volgens Vivian Willenburgh, ’n gemeenskapsleier van Klapmuts.

Die enigste manier om geosmin uit die water te kry, is deur óf poeier- geaktiveerde koolstof te gebruik óf filtrering, het Paul Joubert, bestuurder van waterbehandeling vir Stellenbosch Munisipaliteit, gesê. FOTO: Nazley Wilschutt

Geosmin in water

Die reuk en kleur van die water is as gevolg van die teenwoordigheid van geosmin, het Stuart Grobbelaar, woordvoerder van Stellenbosch Munisipaliteit, per e-pos aan MatieMedia gesê.

Volgens Paul Joubert, bestuurder van waterbehandeling vir Stellenbosch Munisipaliteit, veroorsaak geosmin nie gesondheidsprobleme by mense nie. “Geosmin proe wel soos modder of het ’n aardse smaak, maar daar is studies wat bewys dat dit nie nadelig is of maagprobleme veroorsaak nie,” het Joubert gesê.

“Die water wat hoër vlakke van geosmin bevat, voldoen aan die SANS-241-drinkwaterkwaliteit en kom hoofsaaklik van die Wemmershoek-watervoorsieningstelsel,” het Grobbelaar bygevoeg.

Kaapstadse metro werk aan waterkwaliteit

Grobbelaar het gesê die Kaapse-metro het begin om dié water met poeier- geaktiveerde koolstof te behandel om klagtes oor die smaak en kleur aan te spreek.

“Dikwels kan ondergrondse konstruksiewerk, gebarste pype en swaar reën lei tot bruin water wat dan uit die stelsel deur ons waterspanne gespoel word,” het Grobbelaar verduidelik.

Paul Joubert, bestuurder van waterbehandeling vir Stellenbosch Munisipaliteit, verduidelik waarom die water in Klapmuts ’n bruin kleur en reuk het. KLANKGREEP: Nazley Wilschutt 

Joubert het bevestig dat Klapmuts wel water kry van die Wemmershoek-lyn wat die Kaapse-metro verskaf. “Rou water kom van die area naby Franschhoek en dit word dan by die Wemmershoek-watersuiweringsaanleg behandel,” het Joubert verduidelik.

Joubert het gesê dat die Kaapse-metro gewoonlik water vanuit die Franschhoek-omgewing gebruik het, maar dat hulle onlangs water van die Theewaterskloofdam begin gebruik het. “Die Theewaterskloofdam het ’n redelike geel kleur en bevat ook geosmin,” het Joubert gesê.

Gemeenskap steeds bekommerd

Volgens Willenburgh is die water slegs in sekere dele van Klapmuts bruin. “Daar is areas waar die water soms so lyk en ruik, maar dan is daar die area waar die skakelhuise is, waar dit konstant voorkom,” het Willenburgh gesê.

“Die water proe modderig,” het Willenburgh aan MatieMedia gesê.

Die water in Klapmuts is reeds vir dae lank bruin met ’n vreemde reuk. Bekommerde gemeenskapslede sê dat hul “kinders van maagpyn kla as hulle die water drink”. FOTO: Nazley Wilschutt

Die Klapmuts-gemeenskap bly besorgd oor hulle gesondheid en wil weet “wanneer daar ’n plan gemaak gaan word”, meen ’n inwoner wat anoniem wou bly. 

“Die water proe nie reg nie. My kinders kla van maagpyn as hulle die water drink,” het Lisa Fortuin, nog ’n inwoner van Klapmuts, op Facebook gesê.

Haar kind het vir haar gesê dat die water “normaal lyk, maar dat dit nie lekker proe nie”, het Fortuin aan MatieMedia gesê.