Diefstal en roof van fietse in Stellenbosch neem toe

Die diefstal en roof van fietse in Stellenbosch het oor die afgelope jaar toegeneem. Dít is deur Kaptein Nathalie Martin, woordvoerder van die Stellenbosse Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), per e-pos aan MatieMedia bevestig. 

Hoewel Martin nie statistieke van die omvang van dié toename kon verskaf nie, het sy die diefstal en roof van fietse as ernstige misdade beskryf.

“Mense moet meer bewus raak van [die diefstal en roof van fietse] en dit nie net sien as minder ernstige misdaad [nie],” het Martin gesê.

Dié toename kan aan ’n tekort aan fietse en fietsonderdele toegeskryf word, meen Dawid Botha, voorsitter van Stellenbosch Fietsry – ’n organisasie wat, volgens hul webtuiste, poog om fietsry te bevorder. 

Fabrieke wat in fietse en fietsonderdele handel, was oor die afgelope jaar vir lank gesluit weens grendelstaatbeperkings wat deur die Covid-19-pandemie teweeg gebring is, het Botha gesê. Dít het ’n tekort aan fietse en fietsonderdele meegebring, meen hy. 

Stellenbosch: Die toename in die diefstal en roof van fietse kan aan ’n tekort aan fietse en fietsonderdele toegeskryf word, meen Dawid Botha, voorsitter van Stellenbosch Fietsry. FOTO: Carla Visagie

Diefstal en roof van fietse in Stellenbosch

Die toename in die diefstal en roof van fietse in die dorp is veral beduidend in woongebiede en op die Universiteit Stellenbosch (US) se hoofkampus, het Martin gesê.

In Idasvallei word fietse “helder oordag” gesteel, het Stefanie Heneke, voorsitter van die Mosesstraat-buurtwag in dié woongebied, gesê.

Voorsorgmaatreëls

Om voorsorg te tref teen diefstal, moet fietsryers sterk slotte gebruik om hul fietse vas te sluit, het Martin gesê. 

Daar is ook winkels in die dorp, soos Mason’s Bike Inn en Flandria Cycles, wat fietse teen geen koste stoor, het Hugo Truter, lid van Stellenbosch Fietsry, gesê. Truter het verder voorgestel dat fietsryers so ver as moontlik hul fietse saam met hulle inneem wanneer hulle by geboue ingaan.

“Mens behoort nooit jou fiets vir lang tye […] op plekke in die openbare oog te parkeer nie,” het Truter gesê.

diefstal

Stellenbosch: ’n Fietsstasie op die Universiteit Stellenbosch (US) se hoofkampus, waaraan studente hul fietse kan vassluit. FOTO: Carla Visagie

Stefanie Heneke, voorsitter van die Mosesstraat-buurtwag in Idasvallei, verduidelik hoe fietsryers hulself teen berowing kan beskerm. OPNAME: Verskaf/Stefanie Heneke

,