Die Juli agter Julipoeli gesels oor die uitdagings van Instagram-sukses

Juli Vercuiel is ’n 21-jarige sosiale media-sensasie, gekwalifiseerde persoonlike afrigter en tweedejaar bedryfsielkundestudent aan die Universiteit Stellenbosch (US). Sy deel haar lewe met amper 26 000 Instagram-volgelinge. 

Dit is 2013. In die Cell C-advertensie, “Believe”, kyk ’n klein dogtertjie met ’n glansrok en draadjies na haarself in ’n spieël. Dié dogtertjie sit lipglans aan en transformeer dan tot die volwasse Melinda Bam, Mejuffrou Suid-Afrika van 2012! 

Die dogtertjie wat destyds dié rol vertolk het, is Juli Vercuiel, deesdae die 21-jarige agter die “Julipoeli”-Instagramprofiel wat spog met amper 26 000 volgelinge.

Juli vertel aan MatieMedia dat sy grootgeword het met ’n “groot liefde vir toneel”.

Soveel so dat haar ma haar in haar vroeё tienerjare by ’n agentskap laat aansluit het om juis te oudisie vir advertensies soos “Believe”. Juli, wat haar hoërskoolloopbaan aan Hoërskool Stellenberg voltooi het, was egter ook baie lief vir sport. Sy het toe besluit om die oudisies, wat soms baie onverwags moes gebeur, te laat vaar en op sport te fokus. 

Tydens haar hoërskoolloopbaan het sy baie mylpale bereik met haar deelname aan sport, en het veral uitgeblink in hekkies. In 2017 het Juli ’n brons-medalje verwerf in die 400m hekkies-item vir vroue in die onder-18 ouderdomsgroep by Atletiek Suid-Afrika (ASA) se nasionale kampioenskappe. In dieselfde jaar het sy die derde plek op die International Association of Athletics Federations (IAAF) se wêreldranglys beklee vir dié hekkies-item, en is aangewys as die 2017 Wes-Kaapse junior vroue-atleet. 

Die ontstaan van Julipoeli

“Ek het hoërskool toe gegaan en toe was ek die Cell C-meisie,” onthou Juli. 

In 2015 het Juli Instagram afgelaai met die idee om haar foto’s daarop te redigeer en toe Instagram vra vir ’n troetelnaam of noemnaam vir die gebruiker, het sy haar ma se vertroetelde “Julikepoeli” aangepas om haar naam “Julipoeli” op die platform te maak. 

Juli Vercuiel deel haar lewe met byna 26 000 Instagram-volgelinge op haar blad, @julipoeli_official (nou @joyfuljuli_). Sy is tans ’n bedryfsielkundestudent aan die Universiteit Stellenbosch. FOTO: Verskaf/Juli Vercuiel

“As ’n grap het ek beplan om dit vir ’n week ‘Julipoeli’ te hou,” vertel sy. 

Maar to begin die kinders by die skool haar Julipoeli noem; voorheen het hulle haar gespot as die “Cell C-meisie”.

“Toe dog ek: ‘Julle gat man. Nou gaan ek dit so maak.’ En toe stick dit.”

Sy het toe begin om haar lewe, liefde vir atletiek en sport op die platform te deel. Kort daarna het sy ook ’n YouTube-kanaal begin omdat sy gevind het dat sy soms meer wou sê as wat die onderskrif van Instagram toelaat.

“Ek begin toe regtig net deel wat ek wil en sê wat ek wil en hierdie persoon word geskep,” sê sy.

Julipoeli is nou Joyfuljuli

Teen die einde van 2019 het Juli, tóé 19, rondom 80 000 Instagram-volgelinge op haar blad @julipoeli gehad. 

“Ek weet nie hoe dit so gegroei het nie,” sê Juli.

Sy meen dat haar liefde vir atletiek en die video’s wat sy gedeel het, moontlik die rede kon wees waarom dit so gewild was. 

Maar in November 2019 is die @julipoeli-profiel deur kuberkrakers oorgeneem. Sy het in die proses jare se foto’s en herinneringe verloor. 

Sy het toe ’n nuwe blad, @julipoeli_official, geskep. Dié blad, wat sy onlangs verander het na @joyfuljuli_ , het tans sowat 25 700 Instagram-volgelinge. 

Juli gebruik die die afgelope paar jaar haar Instagram-blad om baie meer uitgesproke te wees oor haar geloof. FOTO: Inge du Plessis

Juli verduidelik dat die doel met haar blad egter nou verander het; sy wil nou mense bereik deur te gesels oor haar geloof.

“Dis hoekom ek die afgelope jaar baie meer uitgesproke en oop daaroor is. As ek bang is oor wat mense dink, gaan ek nêrens kom nie,” sê sy. 

“Geloof is ’n kontroversiёle onderwerp,” verduidelik Juli. “Mense sê vir jou dat jou volgelinge nie gaan groei nie. Maar op die ou einde, maak dit nie saak as jy dit vergelyk met die hoeveelheid mense wat aangeraak kan word deur dit nie.” 

Om jou lewe op sosiale media te deel, bied egter sy uitdagings. Juli vertel dat mense dikwels voorafgestelde idees het oor die persoon wat hulle op foto’s sien. Dit is vir haar ’n groot uitdaging. Mense spot haar ook soms, sê sy. 

“Vir elke 100 mense wat jy aanraak, gaan daar twee mense wees wat vir jou kritiseer en spot,” sê Juli. Sy glo egter daarin om haar kritici met deernis te behandel, en ’n boodskap van liefde te stuur, eerder as om hulle te beveg. Sy glo in liefde en om ander lief te hê. 

“Dis die grootste skok as jy nie terugbaklei nie,” verduidelik sy.

Juli sien haarself as ’n mens wat ook foute maak. Maar wanneer sy foute maak, wil sy eerlik wees daaroor. 

“As jy op my blad gaan, is dit wat jy gaan kry. As jy vir my gaan kritiseer, gaan ek jou liefhê. As jy vir my gaan komplimenteer, gaan ek jou liefhê. Ek is nie hier om te diskrimineer nie. Dit is ’n veilige en liefdevolle plek. Ek glo dit is wat die blad is,” sê sy. 

Juli is net Juli

“Dis vir my sleg dat daar vir mense ’n gap is tussen wie Juli is en wie Julipoeli is,” sê Juli. 

“In my eerstejaar het ek ’n reality check gehad en myself gevra: ‘Wat sou jy wees as jy nie hierdie het nie?’ En aan die einde van my eerstejaar is alles toe weggevat,” sê sy met verwysing na, onder meer, die gevolge van die kuberkraak-insident. 

“Niks in die lewe kom maklik nie. En as dit maklik kom, is dit nie die moeite werd nie.”

“Ek het weggestap van atletiek af, ek het weggestap van die hele Instagram-ding af toe ek my following verloor, ek het weggestap uit ’n verhouding uit. Ek het net ’n klomp veranderinge in my lewe gemaak en my lewe oorgegee aan die Here.”

“Ek het toe besef: Juli sonder al hierdie, is nét Juli,” sê sy.

Egtheid is vir Juli baie belangrik. Sy weet dat dinge dikwels vir ander rooskleurig kan lyk, veral wanneer ’n mens sukses behaal. Maar dit is nie altyd so rooskleurig nie. “Dit was die pad daarnatoe, en die mense wat jou ondersteun het, wat dit alles die moeite werd gemaak het,” meen sy.

Juli

Juli se sosiale media-advies aan enige iemand wat ’n profiel wil skep, is om altyd opreg te wees. FOTO: Verskaf/Juli Vercuiel

“Niks in die lewe kom maklik nie. En as dit maklik kom, is dit nie die moeite werd nie.” Dít is die woorde waarmee Juli se ma, Grizelda Vercuiel, haar grootgemaak het.

“In die vroeë 2000s, net nadat ek gebore is, het ons familie deur ’n moeilike tyd gegaan en my pa moes sy besigheid van voor af opbou,” sê Juli.

Juis daarom is haar ma se woorde vir haar so spesiaal.

“[My ouers] het my geleer om alles wat ek het, te waardeer en om nooit enige iets as vanselfsprekend te aanvaar nie,” vertel Juli. “Min mense weet dat ons gesukkel het. Dit lyk baie op sosiale media asof dinge baie maklik is, maar dit is ook nie altyd die geval nie.”

Juli (regs) vertel dat haar ma, Grizelda Vercuiel (links), van kleins af vir haar wyshede geleer het. Een daarvan is: “Niks in die lewe kom maklik nie. En as dit maklik kom, is dit nie die moeite werd nie.”  FOTO: Instagram/@joyfuljuli_

Die toekoms

Juli verduidelik dat sy in die toekoms beplan om haar liefde vir sport en vir God, en haar kennis van sielkunde, te gebruik om mense aan te raak en te motiveer. 

“Ek het nou my persoonlike-afrigting-kursus voltooi. Ek wil graag meisies coach, maar in die sin van ‘how to bring faith into fitness’,” sê sy.

Juli verklap nie te veel van haar toekomsplanne nie, maar wil mense se lewens op verskillende manier aanraak. 

“Ek gaan met groot groepe mense werk… Ek sien myself reis, ek sien myself mense bereik regoor die wêreld… Ek sien hoe ek sielkunde gaan gebruik om werklik in mense se lewens inspraak te maak,” vertel sy. 

Juli voltooi volgende jaar haar graad in bedryfsielkunde.

Juli

Juli het op skool as ’n atleet uitgeblik en is steeds baie aktief. Sy verduidelik dat sy op haar gelukkigste is in die natuur, “op die berge, toegevou deur die natuur en omhels deur God se teenwoordigheid”. FOTO: Verskaf/Juli Vercuiel

, ,