Die hartjie van die Boland – Jan Tuisbly se bestemming

KykNET se nuutste leefstylprogram sal jou tydens die inperking laat besef dat die gras nie noodwendig groener is aan die ander kant nie – en dat daar baie plekke op jou voorstoep is om te ontdek. 

Dít is volgens Stephanus Rabie, regisseur en vervaardiger van die nuutste televisieprogram Anzél in die Boland wat op 7 Julie op die kassie verskyn het. Dit is ’n konsep wat hy en sy vrou, Anzél Stofberg-Rabie, aanbieder en produksiebestuurder van dié program, binne ’n maand in Stellenbosch bymekaar gesit het. 

IMG_2770

Anzél Stofberg-Rabie en haar man, Stephanus Rabie, vang weekliks die ryk geskiedenis, pragtige berge, kos- en wynkultuur en interessante mense van Stellenbosch vas in die nuwe reeks Anzél in die Boland. FOTO: Instagram/@anzel_indieboland 

“Ek en Anzél was nog altyd lief vir toer én ons het juis beoog om ’n internasionale reisprogram saam te maak. Met die inperking en die tyd by die huis het ons egter besef dat daar sulke mooi en interessante plekke rondom ons is,” het Rabie aan MatieMedia gesê.

Toe dié paartjie deur kykNET genader is om ’n program te maak, het hulle dadelik die geleentheid aangegryp – ongeag van die uitdagings wat daarmee gepaard sou gaan.

“Aangesien die provinsiale grense gesluit is, was ons beperk tot die areas waar ons kon verfilm. Ons is geseënd om op ’n dorp te bly waar mens naby die huis ’n mooi program kan maak,” het Rabie gesê.

Volgens Stofberg-Rabie wou hulle die stories en die karakters van Stellenbosch met die res van die land deel. 

“Die mense, die kos en kultuur – en natuurlik die wyn – staan vir niks in die wêreld terug nie,” het sy gesê.     

Feature photo_ C7

Anzél in die Boland stel met elke episode nuwe kuiergaste, plase en sjefs van die omgewing aan kykers bekend. FOTO: Instagram/@anzel_indieboland 

Die reeks bestaan uit 13 episodes wat elk nuwe kuiergaste, plase en sjefs van die omgewing bekendstel. Kykers kan ook daarna uitsien om weekliks by die kenners in die bedryf iets nuut oor kos óf wyn te leer, het Stofberg-Rabie verder gesê.

“Daar is soveel wonderlike wynplase en plekke rég onder ’n mens se neus, maar waarvan ons nie altyd weet nie,” het Marciel Hopkins, internasionale model en kuiergas in die tweede episode van dié reeks, gesê. 

Hopkins meen dat die program mense se oë sal oopmaak vir die ander opsies en moontlikhede oor die kos- en wynervarings in die Boland.  

Tydens die tweede episode van kykNET se nuutste leefstylprogram Anzél in die Boland, het Anzél Stofberg-Rabie saam met die internasionale model en die nuwe Boer soek ’n vrou-aanbieder, Marciel Hopkins, gekuier. INSTAGRAM PLASING: @anzel_indieboland

, ,