Die begin van groot dinge

Hunter Plaatjies het in 2019 die rol van Saartjie in die gewilde Afrikaanse sepie, Arendsvlei op kykNET&kie losgeslaan. Dit is haar eerste televisierol en sy geniet dit om die kontras tussen haar eie persoonlikheid, en dié van haar karakter te sien. Heidi-Jane de Wee het met haar gesels oor haar liefde vir toneelspel en wat sy nog in die toekoms wil bereik.

Hunter Plaatjies (24) noem dat die teaterstuk, Distrik 6 baie te doen het met haar liefde vir toneelspel. Dit het haar gefassineer om te sien hoe die kunste gebruik kan word om stories te vertel. Sy is dankbaar dat sy nou die geleentheid het om met mense soos Jody Abrahams te werk, wie in dié teaterstuk was.

Hunter het in 2017 haar graad in BA Drama- Teaterstudie aan die Universiteit Stellenbosch (US) voltooi, en in 2018 haar honneursgraad in Media en Produksie aan die US verwerf.

Hunter en haar ouers, Hilary en Samuel Plaatjies by haar gradeplegtigheid in 2018, waar sy haar Honneursgraad in Media en  Produksie ontvang het. FOTO: Instagram / @hunterplaatjies

Hunter noem dat sy oorspronklik besigheidsbestuur sou studeer. Sy het egter ʼn kans gevat en ʼn oudisie gaan doen om in die US se dramadepartement aanvaar te word.

“In dié oudisie het ek my werklike passie vir die kunste ontdek en geweet dat dit is waar ek hoort,” sê Hunter.  

Haar vormingsjare

Hunter is ʼn boorling van die Kaapse voorstad, Kuilsrivier. Hoewel Hunter nou in die fiktiewe Hoërskool Arendsvlei is, is sy eintlik ʼn oudleerder van Laerskool en Hoërskool De Kuilen, waar sy drama as ʼn vak geneem het.

Hunter brei uit en sê dat haar ma, Hilary haar vanaf ʼn jong ouderdom na die Artscape en Baxter teater geneem het. Dít is hoe sy kennis gemaak het met teater op ʼn groter skaal en besef het dat dit is wat sy wil doen.  

Verder het haar pa, Samuel haar ook toegelaat om die wêreld van die kunste te verken en te besluit of dit is wat sy wil doen.

Hunter vertel dat die kunste ʼn gevoel by haar laat wat sy nie kan beskryf nie. Dis dié gevoel wat haar gemotiveer het om haar passie te volg.

“Ek wou deel wees van iets wat groter is as myself,” sê Hunter.

Hunter het terwyl sy studeer het haar eie program, Halftime with Hunter op die kampus radiostasie, MFM gehad. Sy sê dat as sy nie haar voet in die deur van toneelspel gekry het nie, sou sy definitief ʼn radiopersoonlikheid gewees het. FOTO: Instagram / @hunterplaatjies

Sy het in ʼn baie hegte familie grootgeword.

“Wanneer daar rugby op die televisie speel dan sal ons as familie altyd seker maak dat ons dit saam kyk,” sê Hunter.

Die vroue in Hunter se familie het haar die meeste beїnvloed.

“Hulle het my gehelp om uit te werk wat ek wil doen, waar ek wil wees én ook waar ek nie wil wees nie,” sê Hunter.

As kind het sy gereeld aan verskillende opvoerings deelgeneem en netbal gespeel.

Hunter het op hoërskool ook nasionaal tennis gespeel. Dit is vir dié tennisbane van die Kuilsrivier tennisklub waarvoor sy nou deesdae haar tennisraket afstof om ʼn paar balle rond te slaan. FOTO: Heidi-Jane de Wee

“Ek het dit moeilik gevind om stil te sit, so ek was altyd opsoek na iemand met wie ek kon speel,” sê Hunter.

Sage Plaatjies, Hunter se broer sê dat sy nog altyd ʼn aktrise wou wees.

“Ek is baie trots dat sy die deursettingsvermoë gehad het om haar droom ʼn realiteit te maak. Ek hoop dat sy net nog meer sal groei en nog groter sukses sal bereik,” sê Sage.

“Ek wou deel wees van iets wat groter is as myself”

Om Saartjie te wees

Saartjie is die hoofdogter van Hoërskool Arendsvlei en doen alles volgens die reëls.  

Hunter vertel dat sy op laerskool baie soos Saartjie was.

“Ek onthou een dag toe ons besig was om ʼn toets te skryf, het ek gesien hoe een van my vriende by iemand anders afkyk. Ek het toe my hand opgesteek en vir die juffrou gesê,” vertel Hunter terwyl sy lekker lag.

Sy brei uit en vertel dat sy op hoërskool weer die teenoorgestelde van Saartjie was.

“Op hoërskool het ek altyd seker gemaak dat my werk gedoen is, maar ek het ook kanse gevat en nou en dan in die klas geëet en ek het selfs een keer detensie gesit,” sê Hunter.

Hunter vertel dat sy die oudisie vir Arendsvlei ʼn paar maande nadat sy haar honneursgraad voltooi het, gekry het.

“Ek onthou dat ek op daardie oomblik gevoel het dat dit alles is wat ek wil hê. Ek is nie vir een oomblik spyt dat ek die kans gevat het nie, want dit skep sowaar vir my die platform om só baie te leer,” vertel Hunter.

Hunter het in 2019 weer skoolklere aangetrek as een van die leerders van Hoërskool Arendsvlei. Sy is dankbaar dat sy die rol gekry het en kan nie wag om te sien wat die toekoms vir haar inhou nie. FOTO: Instagram / @hunterplaatjies

Hunter is mal oor Saartjie se onskuld en haar passie om die planeet te red.

“Ek hou van die feit dat ek en Saartjie nie presies dieselfde is nie omdat dit vir my die geleenthied gee om vir ʼn tydjie iemand anders te wees,” sê Hunter.

Hunter erken dat haar eerste dag op die stel ʼn bietjie vreesaanjaend was maar dat sy geleidelik haar voete gevind het.

“Wanneer mens iets doen waaroor jy regtig passievol is, is dit asof die angs daarvan net self verdwyn,” sê Hunter.

Cantona James, Hunter se mede-akteur wie Daniel in Arendsvlei vertolk, beskryf haar as iemand wat maklik met ander mense oor die weg kom.

“Sy toon respek teenoor ander en daar is nie ʼn dag wat sy nie glimlag nie, sê Cantona.  

Hunter die vriendin

Hunter vertel dat sy dink haar vriende en vriendinne haar sal beskryf as iemand wat emosioneel en lojaal is teenoor die vriendskappe wat sy koester.  

“Ek gee baie om in sekere situasies en ek dink my vriende en vriendinne sal lag vir die feit dat ek ten minste een keer ʼn week huil,’ sê Hunter laggend.

 Hunter saam met van haar naaste vriendinne wat sy op skool en op universteit ontmoet het. Vlnr. Kim Ingham, Hunter Plaatjies, Alexander Teri, Zena Stain en Robyn Pokpas. FOTO: Instagram / @hunterplaatjies

Zena Stain, Hunter se beste vriendin sê dat Hunter baie selfversekerd is en daarom het sy geweet dat sy haar droom om ʼn aktrise te wees, sal bewaarheid.

 “Toe Hunter se eerste toneel op televisie verskyn het, het ek seker gemaak dat ek dit op video vasvang,” sê Zena.

Meer as net Hunter die aktrise

Hunter vertel dat sy trots is op waar sy geestelik is en haar verhouding met Jesus.

“Ek sou nie die dinge self kon bereik sonder my geloof in my eie vermoëns nie. Ek wil nie ʼn beperking sit op dit wat ek nog kan bereik nie, want ek voel dat die toekoms nog so baie vir my inhou,” sê Hunter.

Sy brei verder uit en sê dat sy baie trots is op die reis waarop sy nou is, en dat sy nie enigiets in haar lewe sal wil verander nie.

“Ek glo dat alles vir ʼn rede gebeur en ek probeer om elke geleentheid te gebruik as ʼn kans om iets nuut te leer,” sê Hunter.

“Ek is trots op die reis waarop ek nou is”

Sy vertel dat dit belangrik vir haar is om in haarself te glo en haarself te ondersteun.

“My grootste hindernis wat ek moes oorkom was my eie ingesteldheid en om nie toe te laat dat mense se opinies my onderkry nie,” sê Hunter.

Hunter geniet dit om in die buitelig te wees. ʼn Perfekte Saterdag vir haar is om die middag ʼn sportwedstryd te kyk of self ʼn sport te beoefen, en daarna ʼn gesellige piekniek te hou. FOTO: Heidi-Jane de Wee

Hunter vir die toekoms

Hunter vertel dat sy eendag nog die ster van ʼn fliek wil wees.

“Ek sien ʼn waentjie in ʼn oop veld met my naam aan die buitekant. As ek instap is daar ʼn bank en ʼn klein lessenaar vir my. In die waentjie kan ek slaap tussen die skiet van tonele en daar is oorgenoeg peuselhappies,” sê Hunter.

Sy hoop ook dat sy in die volgende vyf jaar nogsteeds haar lyf aktrise sal hou, en dat sy aan verskillende projekte sal werk om die omgewing te red.

“As jy nooit probeer nie, sal jy nooit weet nie”

Hunter se lewensfilosofie om haar drome te bewaarheid?

“As jy nooit probeer nie, sal jy nooit weet nie,” sê Hunter.