Derde digbundel vir Danie van Spoegwolf

Oud-Matie en hoofsanger van die Afrikaanse rock-groep Spoegwolf, Danie du Toit, het onlangs sy derde digbundel bekendgestel. 

“Ek is baie verbaas oor die derde digbundel – ek het gedink die eerste bundel was my life’s work en ek het gedink dit gaan een keer elke 20 jaar gebeur,” het Du Toit na ’n onlangse optrede by die Higlander Pub in Brackenfell op 26 Mei aan MatieMedia gesê. 

digbundel

Danie du Toit het nie verwag dat sy derde digbundel so vinnig sal verskyn nie. “Ek het gedink die eerste bundel was my life’s work en ek het gedink dit gaan een keer elke 20 jaar gebeur,” het hy gesê. FOTO: Verskaf/Danie du Toit

Volgens Du Toit is sy derde digbundel, Die Tuin, op 30 Mei vrygestel. Al Du Toit se digbundels is self-gepubliseerd deur sy handelsmerk Reënwolf. Hy het ook op 8 Junie ’n draai by die Drostdy Teater in Stellenbosch gemaak om uit sy nuwe digbundel voor te lees en te sing. 

“Ek bly nog steeds in Stellenbosch, so ek [kon] nie wag om in die home town te kom speel nie,” het hy gesê. 

Du Toit het presies ’n jaar aan Die Tuin gewerk. Hy het elke dag probeer skryf en gemik om ongeveer 100 gedigte bymekaar te kry oor die tydperk van ’n jaar. 

Hy het gesê dat die bundel handel oor die vind van ’n plek wat joune is – ’n plek wat jy kan bewerk. “Ons almal soek na rus. Vir my lyk dit soos ’n tuin,” het hy gesê. 

“Dis die eerste keer wat ek gevra word om op tafels te dans. Ek voel so bietjie soos ’n stripper,” het Danie du Toit gesê tydens ’n onlangse optrede by Highlander Pub in Brackenfell. VIDEO: Dominique Fuchs

Spanpoging

Danie het vertel dat die digbundel ’n “familie-affêre” was. Du Toit se suster, Bella du Toit, het illustrasies vir die digbundel gemaak. 

“My suster se illustrasies is incredible – dit het vir my ’n heel nuwe flavour aan die digbundel gegee,” het hy gesê. 

digbundel

Volgens Danie du Toit is die digbundel “’n moeilike ding om klaar te maak en jy het jou familie nodig”. Hy het sy ouers, oupa en suster ingespan om hom met die digbundel te help.  FOTO: Dominique Fuchs

Volgens Bella het hulle pa en oupa gehelp met die digbundel se redigering, en hulle ma het die uitleg en ontwerp van die bundel gedoen. 

“Dit was baie opwindend om aan die digbundel te werk, want Danie is ’n konstante bron van inspirasie en ’n voorbeeld van hoe om hard te werk en hoe om enigiets en alles in kuns te verander,” het sy gesê. 

Bella het bygevoeg dat die gedigte in alledaagse taal geskryf is en dat almal daarmee kan vereenselwig. Sy meen dat dit tog ook lewensveranderend is. “Danie vat die mooi van die alledaagse gewone lewe en verander dit in romanse en poësie,” het sy gesê. 

“Danie se digkuns is lewensveranderend. Dit laat ’n mens alles van romanse en jou eie lewe herdink. Dit gee vir jou ’n idee van hoe om te leef,” het Bella du Toit gesê. VIDEO: Dominique Fuchs

Marizaan Brink, HonsBA (Afrikaans en Nederlands)-student aan die Universiteit Stellenbosch en Spoegwolf-aanhanger, het gesê dat Die Tuin op haar “leeslys vir die jaar” is. Sy het ook na Du Toit se optrede in Stellenbosch gaan kyk en was opgewonde om vir Du Toit in ’n “meer intieme setting te sien, weg van die chaos en gillende skare”. 

Volgens Brink het sy dit geniet om Du Toit in sy element te sien en om die stories agter die gedigte te hoor.

digbundel

“Ek het sy gedigte gelees, maar ook inspirasie gevat uit Danie se huis en alles wat hy in die digbundel beskryf het,” het Bella du Toit gesê oor haar illustrasies in haar broer Danie du Toit se nuwe digbundel. FOTO: Dominique Fuchs

, , ,