Curro-stigter: Die graad 5-onderwyser met ’n droom

Dr. Chris van der Merwe was ’n graad 5-onderwyser met ’n droom: Hy wou ’n skool begin geskoei op die akademiese raamwerk van die destydse Model C-skool. Teen 1998 het dié stigter en voormalige uitvoerende hoof van Curro Holdings, saam met sy mede-stigters begin bou aan die eerste Curro-skool – letterlik. “Ek het my blou overall aangetrek, [en] ek het ’n voorman aangestel. My pelle het in die kerk skool gehou,” vertel hy. SMF News se Jan-Hendrik de Villiers het by hom gaan kuier.

 Dr. Chris van der Merwe, stigter en voormalige uitvoerende hoof van Curro Holdings Ltd., in sy kantoor. FOTO: Jan-Hendrik de Villiers

Die eerste saadjie om die Suid-Afrikaanse skoolgroep Curro te stig, is geplant in 1997 toe dr. Chris van der Merwe aansoek gedoen het vir ’n pos by die departement van onderwys. Hy was onsuksesvol.

“Ek was vir niemand kwaad nie,” sê Van der Merwe. “Daai brief het [vir] my totale berusting gegee. Dít, en die feit dat Stephnie vir my ’n 1 000% ondersteun het.” 

Van der Merwe en Stephnie, sy vrou, was in daardie stadium albei onderwysers. Hy was die adjunkhoof van Laerskool Fanie Theron in Kraaifontein, en sy was die adjunkhoof van Laerskool Parow-Noord.

Van der Merwe het reeds ’n doktorsgraad in onderwys gehad, waarin hy gefokus het op curriculum-ontwikkeling. Volgens Van der Merwe het navorsing in daardie stadium getoon dat die destydse Model C-skole in Suid-Afrika op ’n goeie standaard was.

Vir Van der Merwe het dit duidelik geraak dat hy op sy eie moes gaan met ’n model wat daardie akademiese standaarde kon ewenaar.

“Ek dink toe: ‘Weet jy? Kom ek gaan ontwerp ’n model wat op ’n manier die Model C-skole se etos dupliseer.’ Maar ons vat geen geld van die staat nie. Net die ouers gaan betaal,” sê hy.

Dr. Chris van der Merwe, stigter en voormalige uitvoerende hoof van Curro Holdings Ltd., met sy vrou Stephnie, en hul troeteldiere, die honde Nala (links) en Otto (regs), en hul kat, Charles. FOTO: Jan-Hendrik de Villiers

‘Hier is jy in die kerk. Jy het 28 kinders in die konsistorie.’

Die proses was egter nie sonder sy eie “uitdagings” nie, soos Van der Merwe verkies om dit te noem. 

Aan die begin het Curro nie eers ’n gebou gehad om te begin, en klasse moes in ’n kerk aangebied word. Hulle het in daardie stadium toestemming gehad om met klasse te begin in die Nederduits Gereformeerde Kerk Bergsig in Durbanville. 

“Die grootste struikelblok was… Jy begin met Curro, en jy het net ’n droom wat jy verkoop. Hier is jy in die kerk. Jy het 28 kinders in die konsistorie,” onthou hy.

Aanvanklik het Van der Merwe klas gegee vir die laerskoolkinders, terwyl een van sy mede-stigters, Eduard “Boetie” Ungerer, vir die hoërskoolkinders klas gegee het – in die moederskamer van die kerk.

“As jou nou vir my vra wat was die grootste, enkele faktor wat my regop gehou het toe ons Curro gebou het, was dit seker maar my tennis.”

Steen vir steen gebou 

Hulle moes kompeteer met “van die beste skole in die land”, veral skole in Durbanville. Maar dan moes die droom ook finansieel aan die lewe gehou word.

“Ek moes ’n baie nougesette pad met die bankier loop om daai eerste lening te kry waarmee ons toe die eerste skool in Durbanville gebou het,” sê Van der Merwe. “Ek was die bouer van daai skool: Ek het my blou overall aangetrek, [en] ek het ’n voorman aangestel. My pelle het in die kerk skool gehou – ek het so ’n paar vakke gegee – maar ek het elke dag na die werf toe gegaan, want ek het die hele projek bestuur.” 

“Daar is ’n Engelse slagspreuk wat sê: ‘No man is an island.’ Ek sou dit nooit alleen kon doen,” sê Van der Merwe.

Sy mede-stigters was Ungerer, asook Eddie Conradie en Thys Franken. Ungerer was Van der Merwe se mentor en mede-assessor van sy meestersgraad, Conradie was Van der Merwe se inspekteur van onderwys, en Thys Franken was – soos Van der Merwe dit stel – die persoon wat vir hom sy eerste onderwys pos gegee het.

Entrepreneuriese vaardighede was noodsaaklik om die skool tot realiteit te kan bring, volgens Van der Merwe. “Ongetwyfeld.”

Om dié besigheid van die grond af te begin, is ’n paar vaardighede nodig, meen Van der Merwe: Jy moet van eiendomme, boekhouding, en onderwys weet. Maar jy moet ook met die media kan praat.

“Jy moet so ’n bietjie van alles weet,” sê hy.

Groot risiko, groot beloning

“Ons huis was sekuriteit vir die lening om die skool te begin, en ons hele gesin kon enige dag alles verloor het,” sê Stephnie. “En dit het almal geweet. En ten spyte daarvan het ons eenvoudig vasgebyt. En as ek vir jou sê dit was nie maklik nie, dan sê ek dit vir jou met opregtheid: Dit was verskriklik moeilik.” 

Van der Merwe het nie verwag dat Curro ’n genoteerde maatskappy sou raak nie. Hy het ook nie verwag dat die skool sou groei tot die 192 geboue wat dit vandag het nie, met 75 000 kinders, regoor 80 kampusse in Suid-Afrika.

“Ek het wel groot gedroom,” sê Van der Merwe.

Uit al die toekennings wat hy oor die jare ontvang het, was die Sunday Times Top 100 Companies-toekenning vir dr. Chris van der Merwe, stigter en voormalige uitvoerende hoof van Curro Holdings Ltd., die grootste prestasie. Die maatskappy het in 2016 die derde plek behaal op die Sunday Times se lys van 100 voorste maatskappye. FOTO: Jan-Hendrik de Villiers

’n Manier om te ontspan

“Daar is 24 ure in ’n dag. Ek moes 25 ure van 24 ure spandeer om Curro te bou. So, daar was niks anders wat my aandag kon aftrek nie. Dit was net só intensief,” vertel Van der Merwe.

Sy enigste uitlaatklep was sport, en spesifiek tennis. Hy spel van kindsbeen af tennis, aangesien sy, wat ’n enkelouer was, baie van tennis gehou het. Tennis was die een ding wat sy ma vir hom kon gee, sê hy. 

Verlede jaar het hy SA kleure in Suid-Afrikaanse tennis gekry. 

Tennis is steeds ’n “verskriklike belangrike afleier”, en Van der Merwe, wat op 60 goeie gesondheid geniet. Dit is belangrik vir hom om ’n gebalanseerde leefstyl te volg.

“Liggaam, gees, en verstand. Daar is ’n Engelse cliché wat sê ‘Keep on sharpening the sword.’ En ek is nogal ingestel daarop om my liggaam reg te hou,” sê Van der Merwe.

Hy rook nie, hy “geniet ’n glasie wyn”, hy probeer gesond eet, toegewyd oefen, en speel minstens twee keer ’n week tennis.

“As jy nou vir my vra wat was die grootste, enkele faktor wat my regop gehou het toe ons Curro gebou het, was dit seker maar my tennis,” sê Van der Merwe.

Dr. Chris van der Merwe, stigter en voormalige uitvoerende hoof van Curro Holdings Ltd., het sy eie persoonlike gimnasium (links) en sauna (regs) in sy motorhuis, waar hy gereeld oefen. FOTO: Jan-Hendrik de Villiers

 Eerstehandse ervaring

Francois de Bruyn, nou 19, was vir vyf jaar in die laerskool in Curro Durbanville. 
“Van my onderwysers wat ek daar gehad het, sal ek lewenslank onthou,” sê De Bruyn. 
“My [pre-primêre] juffrou het ’n probleem opgelet in my oë, wat my ouers glad nie raakgesien het nie, en wat op ’n jong ouderdom kon reggemaak geword het,” vertel hy. “As dit nie vir haar was nie, het ek vandag met oog-probleme gesit.”
, , , ,