Cloetesville-biblioteek vereer top-lesers 

Cloetesville-biblioteek het onlangs sy top-lesers vir die tydperk April tot Julie 2025 in drie kategorieë – kinders, tieners en volwassenes – aangewys. Die lesers wat gedurende dié tyd die meeste boeke uitgeneem het, het hul pryse op 7 Augustus ontvang. 

Dít is volgens Unathi Mapongwana, senior bibliotekaresse by Cloetesville-biblioteek. 

Ellewise Lottering (35), Marzanne Brandt (15) en Toby Davids (8) is die wenners in die onderskeie kategorieë, volgens Mapongwana.

Lottering het boonop vanjaar reeds ’n totaal van 106 boeke uitgeneem, terwyl Brandt en Davids elkeen sover op 67 boeke vir die jaar staan, het sy gesê.

“Dis die eerste keer dat mense [deur die biblioteek] vir hul leeswerk [beloon] word, maar dit is iets waarmee ons sal aanhou,” het Mapongwana bygevoeg. 

Cloetesville-biblioteek het onlangs sy top-lesers vir die tydperk April tot Julie 2025 in drie kategorieë – kinders, tieners- en volwassenes – aangewys. Dit is volgens Unathi Mapongwana, senior bibliotekaresse by Cloetesville-biblioteek. FOTO: Hannah Abrahams 

Die wenners was nie verbaas nie 

“Vir my was dit nie eintlik ’n verrassing nie, want nie baie kinders in ons omgewing lees boeke nie,” het Brandt gesê. 

Brandt lees graag Engelse liefdesromans, het sy gesê. Sy gaan ook biblioteek toe om navorsing vir haar skoolprojekte te doen.

Die lesers is vereer om lewenslange leersaamheid te bevorder in ’n tyd waarin meeste mense aan hul digitale toestelle vasgenael is, volgens Mapongwana.

“Lees is vir almal,” het Brandt gesê. As dit sleg gaan by die huis, kan lees vir jou ’n kans wees om te ontsnap, het sy bygevoeg. 

Marzanne Brandt (15), wenner in die tienerkategorie, het vanjaar reeds ’n totaal van 67 boeke by die biblioteek uitgeneem, volgens Unathi Mapongwana, senior bibliotekaresse by Cloetesville-biblioteek. FOTO: Hannah Abrahams

Volgens Lottering was sy ook nie baie verbaas toe sy hoor dat sy een van die biblioteek se top-lesers is nie, want sy het verlede jaar ook baie boeke uitgeneem. 
“Maar omdat dit nou ’n groot ding op Facebook gewees het, was ek nogal excited,” het Lottering gesê.

Ellewise Lottering (35), wenner in die kategorie vir volwassenes, het verlede jaar ook baie boeke by die biblioteek uitgeneem, het sy gesê. Lottering het vanjaar reeds 106 boeke uitgeneem, volgens Unathi Mapongwana, senior bibliotekaresse by Cloetesville-biblioteek. FOTO: Hannah Abrahams 

‘Die hart van die gemeenskap’

“Die Cloetesville-biblioteek is die hart van die gemeenskap,” het Mapongwana gesê. “Mense [op] Cloetesville is meer blootgestel aan misdaad […] Ons wil kinders aanmoedig om te sien dat daar ’n safe space is.” 

Ondanks die hoë misdaadvlakke in die gemeenskap, is daar steeds mense wat toegewyd is daaraan om biblioteek toe te gaan, het Mapongwana gesê. 

“Ek het gevoel ons moet hulle waardeer, want selfs om biblioteek toe te kom is nie maklik nie,” het Mapongwana gesê. 

Die wenners het ’n sertifikaat en ’n klein geskenkpakkie ontvang, volgens Brandt. 

Die biblioteek het baie boeke in voorraad, volgens Unathi Mapongwana, senior bibliotekaresse by Cloetesville-biblioteek. FOTO: Hannah Abrahams 

, ,