Caledon se nuuslandskap in ‘n post-Covid era

Die verlies van die Theewaterskloof Gazette (die Gazette) as “plaaslike spreekbuis” was vir die inwoners van Caledon ’n groot ontsteltenis, meen Mitzi Buys, Caledon-korrespondent vir Media24. 

Caledon

Caledon: Die nuuskantoor van Transoverberg op Pleinstraat. Tot en met 2019, het dieselfde perseel die gewese Theewaterskloof Gazette gehuisves. FOTO: Anri Matthee

Die Gazette was een van vele drukpublikasies wie se lot op 7 Julie verlede jaar in ’n persverklaring deur Media24 besluit is. Dié koerant sou luidens die verklaring voortaan deel van die Hermanus Times vorm.

Die Gazette se voormalige nuuskantoor in Caledon is egter reeds in 2019 gesluit om kostes te bespaar, het Mariëtte Strydom, waarnemende redakteur van Hermanus Times, gesê. Die twee koerante se samesmelting is ook voor die uitbreking van die plaaslike Covid-19-pandemie bespreek, het sy bygevoeg. Tans word ’n weeklikse oplaag van 20 000 kopieë van die Gazette gedruk, het sy gesê.

Die voormalige Gazette-nuuskantoor huisves nou die weeklikse gemeenskapskoerant, Transoverberg, het Sydney Armoed, eienaar en stigter van dié publikasie, gesê. Transoverberg is in 2017 op die been gebring en het tans ’n weeklikse oplaag van 500 gedrukte kopieë, het hy bygevoeg. 

Sydney Armoed, eienaar en stigter van Transoverberg in Caledon, vertel hoe hy betrokke geraak het by die plaaslike nuusbedryf. OPNAME: Anri Matthee

Beperkte fondse

Befondsing was vóór die pandemie reeds ’n kopseer vir nuuspublikasies, meen Armoed. Die meeste publikasies steun volgens hom swaar op advertensies as ’n bron van inkomste, maar hy sukkel om plaaslike ondersteuning te kry en beskou munisipaliteite as sy topkliënte in dié opsig.

Caledon

Twee gratis gemeenskapskoerante wat weekliks in Caledon versprei word: Transoverberg (links) en Hermanus Times (regs). FOTO: Anri Matthee

“Om [Hermanus Times] winsgewend te maak, moet 60% advertensies wees en 40% [redaksionele inhoud],” het Strydom gesê.

Caledon FM, ’n gemeenskapsradiostasie, volg ’n ander model, het Stephanie Visser, omroeper by dié stasie, gesê. Die stasie steun op borge om sy drie ateljees in Caledon, Hermanus en Bredasdorp te onderhou, en sy omroepers werk nie vir vergoeding nie, het sy gesê.

Stephanie Visser, omroeper by Caledon FM, gesels oor hoe dié stasie uit ’n klein dorp soos Caledon bestuur word. OPNAME: Verskaf/Stephanie Visser

Grendelstaat slaan toe

Toe die grendelstaat op eie bodem ’n werklikheid word, moes plaaslike publikasies om oorlewing veg.

“Ek het [Transoverberg] toegemaak [van Maart 2020 tot Januarie 2021], want daar was nie adverteerders nie en dit maak nie vir my sin nie,” het Armoed gesê. Die koerant is voorheen in kleur gedruk en teen R5 verkoop, maar word tans in swart en wit gedruk om op drukkoste te bespaar. Dit word ook gratis versprei om lesers te behou, het hy gesê.

Caledon

Sydney Armoed, eienaar en stigter van Transoverberg, in dié publikasie se nuuskantoor. FOTO: Anri Matthee

Vir voormalige personeel van die Gazette, het die toekoms ná die samesmelting met Hermanus Times “onseker gelyk, maar gelukkig is daar besluit om die [verslaggewers] aan te hou”, het Buys gesê.

Verslaggewing tydens grendelstaat

Gehalte nuusdekking is egter steeds gedurende dié tyd in die wiele gery, meen Buys. Aangesien openbare byeenkomste tydens die strenger vlakke van die grendelstaat óf verbied óf beperk is, was daar nie baie nuusgebeure nie, het sy gesê. 

Verslaggewers was ook versigtig om nie hul gesondheid in gedrang te bring nie, meen sy. Om in persoon onderhoude te voer met gemeenskapslede, was ook “skielik” ’n uitdaging, het sy gesê.

Caledon FM het dieselfde probleem ervaar en kon nie voortgaan met regstreekse uitsendings van ateljee-onderhoude nie, het Visser gesê. Alles moes telefonies geskied, het sy bygevoeg.

Hoewel daar in Transoverberg gewoonlik op sport, gemeenskapstories, munisipale nuus en skolenuus gefokus word, moes daar skielik meer harde nuus gedek word om al die bladsye vol te kry, het Armoed gesê.

Hermanus Times het voortgegaan as “waghond van die gemeenskap” met die dekking van harde nuus, het Strydom gesê.

Caledon

Twee onlangse nuusstories uit Hermanus Times wat die aandag van Netwerk24 geniet het, volgens Mariëtte Strydom, waarnemende redakteur van Hermanus Times, en Mitzi Buys, korrespondent vir Media24 in Caledon. FOTO: Skermgrepe/Netwerk24

Ten spyte van ’n “stormagtige” jaar in 2020, blyk dié koerante steeds gewild te wees, meen Buys.

“[Hermanus Times] is gewoonlik binne ’n halfuur van die rak af,” het Buys oor dié gratis koerant se gewildheid gesê. “Ek glo dat amper elke plattelandse dorp genoeg nuus het om ’n eie gemeenskapskoerant te regverdig, maar ons weet tog dat dit nie moontlik is nie – hoofsaaklik weens finansiële uitdagings.”

, , ,