Brei-maraton bring gemeenskappe bymekaar

’n Stellenbosse breigroep het oor die naweek ’n brei-maraton gehou om bedsokkies en mussies vir bejaardes in te samel. 

brei

Altesaam 24 brei-entoesiaste het die brei-maraton op 30 Julie by die Katjiepiering-restaurant in die Universiteit Stellenbosch Botaniese Tuine bygewoon, volgens Alyssa Smith, die 67 Blankets for Nelson Mandela Day-ambassadeur vir Stellenbosch. Foto: Karla van der Merwe

Dié brei-maraton, wat op 30 Julie by die Katjiepiering-restaurant in die Universiteit Stellenbosch Botaniese Tuin plaasgevind het, was die eerste van vele wat deur die groep in Stellenbosch gehou gaan word. Dit is volgens Alyssa Smith, die 67 Blankets for Nelson Mandela Day-ambassadeur vir Stellenbosch. 

“Alles wat ons hekel en brei, gaan vir liefdadigheid,” het Smith aan MatieMedia gesê. “Baie van ons mense is beginners, en ons leer baie van hulle nou om te hekel en brei. So, ons begin met klein projekte soos bedsokkies en mussies, en dan skenk ons dit aan […] ’n organisasie [of ’n] ouetehuis wat ons dink ’n behoefte het.”  

wol

Volgens Alyssa Smith, die 67 Blankets for Nelson Mandela Day-ambassadeur vir Stellenbosch, het die breigroep tydens die brei-maraton op 30 Julie altesaam 54 mussies, 38 pare bedsokkies, ses pare handskoene en ses serpe ingesamel. Die breiwerk sal aan die Stellenbosch Hospice en die Sencit Resthaven – Old Age Home geskenk word. Foto: Karla van der Merwe

Smith het verduidelik dat alles wat die groep by die geleentheid gebrei het, aan die Stellenbosch Hospice en die Sencit Resthaven – Old Age Home sal gaan. In totaal het hulle 54 mussies, 38 pare bedsokkies, ses pare handskoene en ses serpe ingesamel tydens die brei-maraton.

Volgens Broidy Ortell, die algemene bestuurder van Sencit Resthaven, is dit die eerste keer dat hulle saam met die 67 Blankets-organisasie werk. Hy het gesê dat dit vir hulle baie beteken om sulke donasies te ontvang en dat hulle “leef op donasies”. 

Dié ouetehuis het omtrent 31 inwoners wat, volgens Ortell, meestal nie familie het wat vir hulle kan sorg nie. Sulke donasies help hulle dus baie. Die breigroep gaan, volgens Ortell, op Vrouedag, 9 Augtustus, die mussies en bedsokkies aan hulle oorhandig.

Meer as net liefdadigheid

happy

Vir baie van die vroue wat kom brei het, is dit die eerste keer dat hulle mekaar ontmoet. “Die oomblik dat ’n mens iets so eenvoudig soos brei in gemeen het – almal sosialiseer, almal meng, hulle skep bande,” het Alyssa Smith, die 67 Blankets for Nelson Mandela Day-ambassadeur vir Stellenbosch, gesê. Foto: Karla van der Merwe

’n Geleentheid soos die brei-maraton bring mense bymekaar – selfs al het baie van die altesaam 24 deelnemers mekaar nie voorheen geken nie, het Smith gesê. 

“Die oomblik dat ’n mens iets so eenvoudig soos hekel in gemeen het – almal sosialiseer, almal meng, almal bond,” het Smith gesê. “Baie van die tannies wat hier sit, is huisvrouens; hulle kom nie uit hulle huis uit nie. Dit gee vir mense die geleentheid om uit hulle gemaksone uit te kom, vriende te maak, hulle leer nuwe skills en dit motiveer hulle om self dit te doen.” 

Alyssa

Ruth Ely (links) en Alyssa Smith (regs) is albei ambassadeurs vir breigroepe wat by die 67 Blankets for Nelson Mandela Day-organisasie betrokke is. Volgens Ely het die organisasie al vier Guinness-wêreldrekords gebreek, onder meer vir die hekel van die langste serp. Volgens die Guinness-wêreldrekord-webblad is hierdie rekord in 2018 opgestel toe die organisasie ’n serp van 29,17 km gehekel het. Foto: Karla van der Merwe

Ruth Ely, nog ’n 67 Blankets-ambassadeur, het ’n taxi met 12 vroue van Kaapstad af ingery om te kom deelneem. “Hulle kom nie dikwels aan die kant van die wêreld nie; dit is lekker vir hulle om ander knitwits te ontmoet wat soortgelyke ingesteldhede het,” het sy verduidelik. 

Brei kan ook as ’n tipe terapie dien, het Tertia Bergstedt, wat aan die brei-maraton kom deelneem het, gesê. “Ek is ’n depressielyer, dit is my manier hoe ek maar cope,” het Bergstedt gesê. “Veral in die [Covid-19-inperkingstydperk] was ’n mens mos maar baie op jou eie […] en [die breigroep] het ons net lekker gehelp om te kommunikeer, al was dit net op ’n [WhatsApp]-groep.”

  • brei
  • brei
  • brei

Tertia Bergstedt, wat nog ’n breigroep in Idas Vallei begin het nadat sy by Alyssa Smith (die 67 Blankets for Nelson Mandela Day-ambassadeur vir Stellenbosch) se groep ingeskakel het, het verduidelik dat die groep tans ’n groot nood aan wol- en ander materiaalskenkings het. “Die mense is uitgehonger om te brei, maar die wol is nie genoeg nie,” het sy gesê. “Dit is belangrik, want dit help nie ons hou die breigroep aan, maar ons het nie die materiaal daarvoor nie.” Foto’s: Karla van der Merwe

, , , , , ,