Brand verwoes huis in Cloetesville

brand

“Ek het net gedink aan my kinders,” het Cloetesville-inwoner, Clerisia Pienaar gesê nadat haar woning op 22 Februarie in ’n brand vernietig is. Pienaar en haar vier kinders is dakloos gelaat deur die brand. Foto: Jamie Venter 

’n Cloetesville-familie is dakloos gelaat nadat ’n brand omstreeks 16:00 op 22 Februarie op die grondvloer van hulle woning uitgebreek het. Dit was volgens ooggetuie Lawrence Seals. Die brand het daarna na die tweede vloer versprei.

Tasso Steyn, adjunkhoof van operasies by die Stellenbosch-brandweer, het bevestig dat hulle na die toneel ontbied is. Daar was drie brandweervoertuie op die toneel, het hy gesê. “Ons het twee major pumpers en ’n addisionele watertenker gestuur. ’n Vierde voertuig was oppad maar moes terug draai weens ’n ander brand,” het hy gesê.

Volgens Steyn is die oorsprong van die brand onbekend. “’n Brandverslag met bevindinge sal aan die eienaar uitgereik word,” het hy verduidelik. 

Clerisia Pienaar, eienaar van die woning, is nie seker hoe die brand ontstaan het nie. “Ek was bo. Die kinders het vir my geskree: ‘Mammie, dit brand!’,” het sy gesê.

Sy en drie van haar kinders – wat onderskeidelik vyf, nege en elf jaar oud is – was tuis toe die brand uitgebreek het. Pienaar het aan MatieMedia gesê sy vermoed die brand is deur ’n kortsluiting veroorsaak. “Toe ek onder kom, het ek die [kragboks] sien flash,” het sy verduidelik. 

Nadat die kinders haar bewus gemaak het dat hulle hond, Waffels, steeds in die brandende huis was, het Pienaar self die hond gered. “Ek is baie trots op [my kinders],” het sy gesê.

brand

Clerisia Pienaar het hulle hond, Waffels, uit die vlamme gered. FOTO: Verskaf/Lawrence Seals

“Binne tien minute was die hele huis aan die brand,” het Pienaar vertel. “Ek het water gegooi, die kinders het water gegooi… maar ons kon rêrig niks doen tot die brandweer kom nie. Dis net die brandweer wat dit kon uit sit.” 

Die huidige toestand van die woning se grondvloer nadat die brand geblus is.  VIDEO: Jamie Venter

“Dit is die eerste keer in ’n lang tyd wat ons so ’n brand in [Cloetesville] het,” het Elsabe Vermeulen, ’n wyksraadslid van Cloetesville, gesê. “Dis nou ’n gedane ding. Die assessering is gedoen. Ons sal [teen 23 Februarie] die brandverslag van die brandweer ontvang.”

brand

“Ek wil vir die gemeenskap baie dankie sê. Hulle het haar omhoog gehou,” het Elsabe Vermeulen, wyksraadslid van Cloestesville, gesê met verwysing na hoe die gemeenskap vir Clerisia Pienaar ondersteun het toe haar huis onlangs afgebrand het. Lede van wetstoepassing was ook sigbaar op die toneel. FOTO: Kara Olivier

“Ek voel baie seer vir [Pienaar],” het Vermeulen gesê. “Dis ‘n moeder se huis dié.”

Pienaar en die gesin se hond, Waffels, voor die puin. “Hulle het met net die klere aan hulle lywe weggekom,” het Elsabe Vermeulen, wyksraadslid van Cloetesville, gesê. FOTO: Jamie Venter

, , ,