“Bom-tas” al die tyd toe net verlore tas

DSC_0258

Owerhede op die toneel van die beweerde bomdreigement. Foto: Elri Voigt

Die tas wat Stellenbosch onlangs in rep en roer gehad het omdat dit as ’n bomdreigement gesien was, is toe al die tyd net ’n tas wat ’n man misplaas het.   

Dit is volgens Dirkie van der Merwe, logistieke bestuurder van die US Woordfees, wat die voorval bevestig het. “Dit was eenvoudig net ’n persoon wat sy tas misplaas het, en dit nie weer kon opspoor nie,” het hy gesê.

Die Universiteit van Stellenbosch (US) het ook bevestig dat dit slegs ’n misplaaste tas was.

Ten spyte van die sogenaamde bomdreigement, het getalle by die US Woordfees stabiel gebly en geen produksie is geaffekteer nie. Van der Merwe meen dat feesgangers steeds in hul massas na die fees opruk. Die Woordfees kom Sondag tot ’n einde.

“Die bomdreigement was nie gerig op of by die Woordfees nie. Die feit dat die polisie, wetstoepassers en agentskappe so goed gereageer het op die situasie, behoort die feesgangers aan te moedig om die fees by te woon,” het Van der Merwe gesê.

Van der Merwe het bevestig  dat daar werkende strukture in plek is om die veiligheid van feesgangers te voorsien terwyl hulle na opvoerings kyk. “Ons is gelukkig dat geen van ons opvoerings daardeur geaffekteer was nie.”

Danie Marais, woordvoeder van die Woordfees, het aan MatieMedia gesê dat alhoewel dit nog moeilik is om te bepaal, is die tekens daar dat vanjaar se fees groot getalle feesgangers gelok het. “Ons hou duim vas dat dit die meeste nog ooit sal wees.”

Volgens Martin Viljoen, woordvoeder van die US, is daar ook groot waardering van die universiteit se kant af vir die flukse optrede van die owerhede.

Lees ook: https://www.smfnews.org/stellenbosch-town-hall-experiences-bomb-scare-during-woordfees/