Bloedtekort: Matie se inisiatief moedig mense aan om te skenk

Die wintermaande is gewoonlik ’n uitdagende tyd vir die Wes-Kaapse Bloeddiens (WKB). ’n Student aan die Universiteit Stellenbosch (US) het egter met ’n idee vorendag gekom om mense aan te moedig om bloed te skenk. 

“Die wintermaande is tradisioneel ’n moeilike tyd om bloedskenkings in te samel,” het Estelle le Coq, bemarkingsbestuurder van die WKB se Paarl-tak, aan MatieMedia gesê. Dít, volgens Le Coq, is omdat baie gereelde skenkers griep of verkoue kry, en dan nie kan skenk nie.

Die Wes-Kaapse Bloeddiens (WKB) beoog om altyd minstens vyf dae se bloedvoorraad te hê, volgens Estelle le Coq, bemarkingsbestuurder van die WKB se Paarl-tak. Die organisasie ontvang egter gewoonlik minder bloedskenkings 
 in die winter. ILLUSTRASIE: Nicola Spingies

Interhuis-vriendelikheid

Die WKB het onlangs ’n skenkingsgeleentheid vir Stellenbossers by die US aangebied, volgens Kara van Zyl, ’n derdejaarstudent in menslike lewenswetenskappe aan die universiteit. Van Zyl het ’n vriendelike bloedskenkingskompetisie tussen die twee US-koshuise Minerva en Heemstede gereël tydens dié geleentheid. Sy dien ook op Minerva se huiskomitee. 

Die doel van die kompetisie was om te sien watter koshuis die meeste skenkers opgelewer het, volgens Van Zyl. Heemstede het die kompetisie gewen met 22 skenkers teenoor Minerva se 20, het sy gesê. Die geleentheid en kompetisie het op 14 Augustus by Minerva plaasgevind, en het altesaam 81 skenkers gelok, het Van Zyl gesê. 

“Ek dink dit is belangrik dat universiteitsruimtes gebruik word vir skenkingsgeleenthede, want dit is ’n maklike manier om baie mense te bereik,” het Van Zyl gesê. Sy meen dat die gebruik van universiteitsruimtes ook meer studente sal aanmoedig om bloed te skenk, omdat dit maklik toeganklik vir hulle is. 

“Deur die skenkingsgeleenthede na die studente toe te bring, het hulle aangemoedig om bloed te skenk,” het Silke Hellmann, ’n derdejaarstudent in rekeningkunde aan die US, gesê. Hellmann dien op Heemstede se huiskomitee en was ook betrokke by die koshuis se deelname aan die kompetisie. Die aanbieding van die skenkingsgeleentheid op kampus, asook die kompetisie, het baie mense aangemoedig om bloed te skenk, meen Hellmann. Dit is omdat baie studente en koshuis-alumni byvoorbeeld wou sien dat hulle koshuis die kompetisie wen, het sy verduidelik. 

Kara van Zyl en Chelsea Jones, inwoners van Minerva Dameskoshuis, skenk bloed by die WKB se bloedskenkingsgeleentheid wat by die koshuis aangebied is. Die geleentheid het 81 skenkers gelok, volgens Van Zyl. FOTO: Verskaf/Kara van Zyl, Elouise van Wyk

Die noodsaaklikheid van bloedskenking 

Bloedskenking is ’n “ongelooflike geskenk” wat mense verniet aan ander kan gee – veral in Suid-Afrika, waar baie mense weens hul MIV-status en ander siektes, nie geskik is om bloed te skenk nie, meen Van Zyl. 

“[Die WKB] herinner mense gereeld dat bloed nie in ’n fabriek gemaak kan word nie, en daarom is ons afhanklik van vrywilligers wat bereid is om tyd af te staan om te kom skenk,” het Le Coq gesê. Om bloed te skenk neem ongeveer 30 minute van ’n vrywilliger se tyd, en kan tot drie lewens red, het sy verduidelik.

GRAFIKA: Nicola Spingies. Bronne: Western Cape Blood Service – Do something remarkable, SANBS