Blitsbokke gerat vir Tokio-spele ná sukses in Stellenbosch

Die Suid-Afrikaanse nasionale rugby-sewesspan (Blitsbokke) het oor die afgelope twee weke aan Rugby Afrika se Sewes Solidariteitskamp-toernooi in Stellenbosch deelgeneem, waar hul eerste en tweede span onderskeidelik eerste en derde plek behaal het. Dít was volgens Neil Powell, afrigter van die Blitsbokke. 

Dié toernooi was ter voorbereiding van vanjaar se sewestoernooi by die Olimpiese Spele in Tokio, het Powell gesê. Dit was ook hul laaste internasionale wedstryde voor hul vertrek na die Japanese hoofstad, het hy bygevoeg.

Blitsbokke

Neil Powell, afrigter van die Blitsbokke, glo dat die spelers hierdie seisoen ’n goeie grondslag vir vanjaar se Olimpiese Spele in Tokio het. “Ek is tevrede met waar ons is,” het hy gesê. FOTO: Anri Matthee

Die uitgebreide groep vir die Spele word vandeesweek gefinaliseer, het Powell gesê. Hoewel daar nog enkele verrassings in die finale keuring mag inkruip, het Powell hierdie toernooi as proewe beskou om sy uitgebreide groep vir Tokio te kies.

“Dit gaan nie noodwendig oor die ou wat die meeste drieë druk nie, maar [eerder] oor hoe hy sy rol vervul binne-in die sisteem,” het Powell oor sy keuringskriteria gesê.

Die Solidariteitskamp-toernooi ondersteun Rugby Afrika se doelwit om meer spanne vanuit Afrika op te lewer. Dít was volgens Andrew Owor, visepresident van Rugby Afrika.

Dié toernooi was dus ’n geleentheid vir die top vier sewesspanne op die vasteland – Suid-Afrika, Kenia, Uganda en Zimbabwe – om hul vlak van spel te evalueer voordat die Spele afskop, het Owor gesê.

Rugby Afrika hoop om soortgelyke geleenthede uit te brei en gereeld aan te bied, het Owor gesê. Die toernooi dra volgens Powell by tot die ontwikkeling van rugby in Afrika. Hy hoop ook dat dit kan ontwikkel tot ’n jaarlikse toernooi met “al die lande op die Afrika-vasteland wat sewes speel”, het hy gesê.

Hoewel die normale sewesprogram deur die Covid-19-pandemie in die wiele gery is, meen Powell dat die span hierdie seisoen ’n sterk grondslag het. 

“Ons kon nou nie gaan toernooie speel […] nie, maar ek dink ons het baie meer tyd gehad om die ouens regtig afgerig te kry op ’n individuele vlak en […] in spanverband,” het hy gesê.

Blitsbokke

Branco du Preez, een van die Blitsbokke, hoop om vanjaar vir die eerste keer in sy loopbaan aan die Olimpiese Spele deel te neem, nadat sewesrugby in 2016 vir die eerste keer by die Rio de Janeiro-spele ingesluit is. “Om die eerste [Olimpiese Spele] te gemis het, was bietjie [van] ’n hartseer saak vir my,” het hy gesê. “Dié keer dink ek daar is meer geleenthede vir ons.” FOTO: Anri Matthee

Die Solidariteitskamp-toernooi was ook goeie voorbereiding vir die spelers “om mekaar te vind” en om almal se fokus en motivering te verskerp, het Branco du Preez, een van die Blitsbokke, gesê.

“Jy kon sien almal was honger om te oefen, want hulle het geweet waarnatoe hulle werk,” het hy bygevoeg.

Neil Powell, afrigter van die Blitsbokke, gesels oor nóg ’n hoogtepunt op die 2021-kalender: die Kaapstad-rondte van die Wêreldsewesreeks, wat van 10 tot 12 Desember sal plaasvind. Dit sal ook die laaste rondte van vanjaar se verkorte reeks wees, volgens ’n aankondiging deur Wêreldrugby in Maart vanjaar.

Die Blitsbok, Branco du Preez, verduidelik wat die Kaapstad-rondte van die Wêreldsewesreeks vir die Blitsbokke as span beteken. 

, , ,