Beveg verkeer, verminder die koolstofvoetspoor, ry groen!

Indien jy al ooit Stellenbosch op ’n Vrydagmiddag om 17:00 verlaat het, behoort jy ’n redelike prentjie in gedagte te hê van die nagmerrie in Cluver-, Dorp- en Birdstraat, die Helshoogte Pad en die R44.

Die aaklige verkeer op die dorp voor en ná werksure is egter slegs één van die redes waarom Stellenbosch Fietsry, ’n plaaslike nie-winsgewende organisasie, fietsry as vervoermiddel in Stellenbosch probeer aanmoedig.

Ten tyde van vervoermaand 2018 (Oktober), het dié organisasie, waarvan Dawid Botha, Carinus Lemmer, Enrico Liebenberg en Hugo Truter direkteure is, verlede week hul vierde jaarlikse inisiatief, Ry Fiets Werk- en Skool Toe (“Bike2Work” en “Bike2School”), aangebied.

PHOTO 1.jpg

Ry Fiets Werk- en Skool Toe, ’n inisiatief wat deur die Stellenbosch Fietsry-organisasie begin is, word in verskeie fiets- en fietsverhuringswinkels in Stellenbosch adverteer. Hiér word advertensies in die Stellenbosch Trail Fund se nuwe sentrum in die ou Landbousaal in Die Laan ten toon gestel. FOTO: Jana Wentzel

Volgens Truter is Stellenbosch bekend vir fietsry as ontspannigsmiddel en as bergfiets-mekka, maar is daar nie genoeg inwoners wat op ’n daaglikse basis van die fiets as vervoermiddel van punt A na punt B gebruik maak nie.

Vir Org Groeneveld, ingenieur en geesdriftigte fietsryer, het fietsry nie sy lewe verander nie, maar eerder aangevul. “Wanneer jy fiets ry, is die frustrasiefaktor zero,” sê hy. “Daar is geen beter dorp as Stellenbosch om te geniet terwyl jy op ’n fiets is nie.”

Ralph Pina, direkteur van Internet Tegnologie aan die Universiteit Stellenbosch (US), sê dat fietsry vir hom die tyd gee om te dink, asem te haal, rond te kyk en minder te stres.

“Afhangende van hoeveel vergaderings ek moet bywoon, ry ek soms tot 10km per dag,” sê hy.

Truter meen dat Stellenbosch juis die perfekte plek is om mense aan te moedig om van fietse as vervoermiddel gebruik te maak. “Alles is omtrent net vier tot agt kilometer van die dorp se kern of skole af,” sê hy.  “Ons doel is om meer mense op fietse te kry en om fietsryers bewus te maak van veilige fiets- en voetslaanroetes in die dorp.”

GRAFIEK 1.JPG

Hiér is ’n aanduiding van slegs ’n paar positiewe uitwerkings van fietsry op die mens. GRAFIKA: Jana Wentzel

Dit is te danke aan ’n skenking van die Pedal Power Association, die grootste ontspanningsfietsry-organisasie in Suid-Afrika, dat Stellenbosch Fietsry verlede jaar ’n kaart met alle veilige en toeganklike berg-, rivier-,  historiese-, en kampusroetes vir beide plaaslike en oorsese fietsry-liefhebbers kon vrystel.

Klik op dié interaktiewe padkaart om te sien waar in Stellenbosch jy ’n fiets kan huur. STORIEKAART: Jana Wentzel  

Truter meen die US is reeds “ligjare voor die Stellenbosch-munisipaliteit” wat veiligheid en veral beplanning betref. “Die universiteit maak dit byvoorbeeld moeilik vir motoriste om op kampus te parkeer en die Matie-fietse is ook ’n fantastiese inisiatief,” sê hy.

Volgens hom is die Ingenieursfakulteit reeds besig om rakke te ontwerp wat slegs met ’n slimfoontoepassing oopgemaak kan word. “’n Mens moet al probleme wat mense met fietsry soos veiligheid het, aanspreek,” sê hy.

PHOTO 2.jpg

Hugo Truter, een van die direkteure van die nie-winsgewende organisasie Stellenbosch Fietsry, staan by sy fiets in Stellenbosch. Vir hom is dit veel vinniger om per fiets by jou eindpunt te kom as wat dit is per motor. FOTO: Jana Wentzel

Alhoewel dit nog nie in praktyk werklik akkuraat is nie, prys hy wel die munisipaliteit vir hul omvattende fietsplan en beleid wat sê dat voetgangers, fietsryers en motoriste gelyke regte het.

FIETSLOODS.jpg

Daar is onlangs kreatiewe maniere van fietsveiligheid op Stellenbosch ingestel. Hiér verskyn een van vele fietsloodse op die dorp wat as kunsuitstalling ook dien. FOTO: Jana Wentzel

Elektroniese fietse (e-fietse) behoort ook die probleem in die nabye toekoms op te los, meen Truter. “Waar jy aanvanklik van Dalsig of Brandwacht af moes ry en sweet, kan jy nou teen ’n gemaklike 20 of 30km/h reis,” sê hy. “Baie besighede bied ook selfs nou vir werknemers die geleentheid om te stort wanneer hulle daar aankom.”

VIDEO: Volgens Truter is daar ’n verskeidenheid “G”-woorde wat fietsry kan beskryf: Gesond, gou, gesellig en groen. VIDEO: Jana Wentzel

Ander inisiatiewe wat deur die Stellenbosch Munisipaliteit tydens vervoermaand aangebied is, sluit in:

INFOGRAPHIC 1.JPG

Ten tyde van vervoermaand 2018 het die Stellenbosch-munisipaliteit ’n verskeidenheid inisiatiewe aangebied om Stellenbosse-inwoners oor vervoer in te lig. GRAFIKA: Jana Wentzel