Betogers oorhandig memorandum oor taalbeleid aan US

ʼn Groep betogers het op 9 April ʼn memorandum aan die Universiteit Stellenbosch (US) oorhandig waarin hulle hul besware oor die hersiene US-taalbeleid uiteengesit het.

Dit is volgens Martin Viljoen, woordvoerder vir die US. “[Die] US het vandag ʼn memorandum van die DAK Netwerk ontvang. Die memorandum hou verband met die universiteit se Taalbeleid en spesifiek die posisie van Afrikaans, wat vir die organisasie van belang is,” het Viljoen per e-pos aan MatieMedia gesê.

Volgens DAK Netwerk se webtuiste, wil hierdie organisasie opnuut fokus plaas op die sosiale en ekonomiese kwessies wat benadeelde Afrikaanse gemeenskappe in die gesig staar. 

Die betogers het buite die US se Admin B-gebou byeengekom om die memorandum te oorhandig. Daarna het hulle deur die Stellenbosse dorp gestap en op Die Braak se veld voor die PJ Olivier Kunssentrum byeengekom. Daar is hulle deur gassprekers en kunstenaars toegespreek.

betogers

Betogers het op 9 April buite die Universiteit Stellenbosch (US) se Admin B-gebou byeengekom om ʼn memorandum te oorhandig, waarin besware uiteengesit is oor die wyse waarop Afrikaans in die hersiene US-taalbeleid ingesluit word. FOTO: Maryam Adams

“Die aksie is om te betoog teen die feit dat Afrikaans as akademiese taal van die US verwyder word,” het Frederik van Dyk, woordvoerder vir StudentePlein, gesê. Volgens dié Afrikaanse organisasie se webtuiste het hulle ten doel om akademiese bystand aan studente te voorsien in hul eie taal.

Die betoging is volgens Van Dyk deur die Afrikaanse bruin gemeenskap gelei.

Die memorandum is volgens Viljoen deur Dr Leslie van Rooi, senior direkteur van sosiale impak en transformasie aan die US, in ontvangs geneem. Van Rooi het gesê dat hy uitsien daarna om met belangegroepe te werk om die toekoms van Afrikaans as ʼn taal van Suid-Afrika, en as deel van ʼn multikulturele en meertalige universiteit, te verseker.

“Ons is nie teen die implementering van Engels nie. In werklikheid beskou ons Engels as net so belangrik as Afrikaans as ʼn akademiese taal. Maar ons voel ons benadeel ons gemeenskap in die Wes-Kaap, wat meer as 60% Afrikaanssprekend is,” het Hendrik Theys, ʼn voormalige dosent aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (CPUT), gesê. Theys het ook aan die betoging deelgeneem.

Mense is bekommerd oor die impak wat die hersiene taalbeleid kan hê op moedertaalonderrig, asook op die breër ekosisteem van die Afrikaanse taal, het Van Dyk gesê. Indien die bestaan van Afrikaans as akademiese taal tot ʼn einde kom, sal daar gevolge wees vir die manier waarop Afrikaans in openbare plekke gebruik word, het hy bygevoeg.

“As ons [Afrikaans] verloor by Stellenbosch, sal al die ander inheemse tale geen kans op behoorlike oorlewing staan nie, behalwe om na die kombuis uitgeskuif te word,” het Theys gesê.

Volgens Professor Deresh Ramjugernath, adjunkvisekanselier van leer en onderrig aan die US, verwelkom die universiteit ʼn diversiteit van opinies en standpunte.

“Dit is duidelik dat daar verskeie belangegroepe is wat veral in die posisie van Afrikaans belangstel, soos deur vandag se DAK Netwerk-betoging uitgebeeld [is],” het Ramjugernath gesê.

Beroep tot groter inklusiwiteit

ʼn Studente-aktivis aan die US het egter bevraagteken of die doel van die betoging wel inklusiwiteit vir alle tale was. 

“Hulle sê hulle veg vir inheemse tale, maar hulle veg net vir Afrikaans,” het Zizo Vokwana gesê.

Die US moet volgens William Sezoe, nog ʼn US-student, ʼn ruimte skep wat inklusief is teenoor die drie amptelike tale van die Wes-Kaap. Sezoe het die universiteit versoek om praktiese maniere te soek om veeltaligheid op ʼn gepaste en inklusiewe wyse toe te pas.

betogers

Betogers stap deur die Stellenbosse dorp. FOTO: Maryam Adams

VIDEO: Maryam Adams

To read this article in English, click here.

Deur Giuseppe Guerandi en Maryam Adams

, , , ,