Bergklimmer uit kloof by Jonkershoek gered

’n 42-jarige bergklimmer is op 13 Augustus met die hulp van ’n reddingshelikopter by die Jonkershoek-natuurreservaat gered. Dit is volgens Venessa Horn, die woordvoerder van die SA Red Cross Air Mercy Service (AMS). 

Die stapper is van Knysna, en het reeds “die oggend gaan stap”, het Lavona de Wee, toegangskontroleerder by die Mountains to Oceans (MTO) staproete by Jonkershoek, vertel. Hy het egter ’n verkeerde draai geneem en was in Jonkershoek se Sentralekloof-roete vasgekeer, het sy verduidelik. 

Die Wilderness Search and Rescue (WSAR) het ongeveer drie reddingsoperasies in Jonkershoek gehad tot dusver hierdie jaar. Volgens Venessa Horn, die woordvoerder van die SA Red Cross Air Mercy Service (AMS), was die voorval op 13 Augustus die eerste keer hierdie jaar waar die Wes-Kaapse departement van gesondheid se EMS/AMS-reddingshelikopter ontbied moes word na Jonkershoek. FOTO’S: Verskaf/Francois Lombard

Cape Nature het net na 15h00 ’n oproep van MTO gekry en het die Wilderness Search and Rescue (WSAR) na die toneel ontbind, het Petro van Rhyn, Cape Nature-woordvoerder, gesê. 

Die EMS/AMS-reddingshelikopter het om 17h30 die bergklimmer opgelaai en na veiligheid gebring.

Die koue kloof

Jan Abrahams, die operateuringsbestuurder van MTO Forestry, was betrokke by die reddingspoging.

Aangesien daar ’n waterval in die kloof is, was die wande van die berg te nat om uit te klim, het Abrahams vertel. 

Hier is Jonkershoek se Sentrale Kloof waar die 42-jarige stapper op 13 Augustus vasgekeer was. Dit is volgens Jan Abrahams, die operateuringsbestuurder van Mountains to Oceans (MTO) Forestry. FOTO’S: Stefani Terblanche

“Die manne moes hulle baadjies uitgetrek het en dit vas aanmekaar bind om ’n tou te maak om hom daar uit- en opgelig te kry,” het hy gesê.

Toe hulle die stapper uiteindelik gekry het was hy “moeg, nat, koud en het gebewe”, het Abrahams vertel.

’n Gelukkige einde

Abrahams het gesê dat die man “baie gelukkig” kon wees dat hy sein gehad het, dat dit nie donker was nie en dat die mis nie oor die berg getrek het nie. 

Hy het vertel dat indien die stapper nie sy vrou laat weet het dat hy vasgekeer was nie en hulle eers in die aand begin soek het, sou hy heel moontlik verkluim het. 

Stappers moet altyd in groepe van vier of meer gaan stap, veral indien hulle nie die area ken nie, vertel Lavona de Wee, toegangskontroleerder by die Mountains to Oceans (MTO) staproetes by Jonkershoek. FOTO: Stefani Terblanche

Horn het verduidelik dat dit van uiterste belang is dat stappers, vir hul eie veiligheid, die volgende items moet onthou wanneer hulle ’n berg trotseer:

  • ’n Selfoon;
  • ’n Basiesie noodhulp-tassie;
  • Klere en toerusting geskik vir die terrein en weerstoestande;
  • Genoeg water en kos; en
  • Genoegsame inligting oor hul roete en ontsnaproetes.
,