Bek-en-klouseer-stryd; help die inentingsstrategie?

Sedert SMF News se vorige artikel, lyk dit op die eerste oogopslag of bek-en-klouseer (BKS) al heelwat teenspoed gekry het.

Volgens minister van landbou, John Steenhuisen se verslag op 16 April, is oor die twee miljoen diere ingeënt teen BKS, maar boere dink nie die regering tree genoeg op nie.

’n Addisionele twee miljoen inentings van die Turkse maatskappy, Dollvet, is ook afgelewer, na die eerste aflewerings van een miljoen entstowwe van Biogénesis Bagó in Argentinië, en 1.5 miljoen entstowwe van Dollvet in Februarie 2026.

Suid-Afrika behou omtrent 14 miljoen beeste, wat beteken dat minder as 15% van die land se kudde al ingeënt is.

Steenhuisen at a media conference.

Minister van landbou John Steenhuisen het onlangs teruggekeer van ’n werksreis na Biogénesis Bagó in Argentinië, waar 5 miljoen entstowwe gereed is om uitgevoer te word na Suid-Afrika. FOTO: Verkry/Instagram @doagov_za

Die Suid-Afrika Agri Inisiatief (Saai) is uitgesproke op sosiale media oor wat hulle beskou as wanbestuur van die regering. In ’n onlangse Instagram-video, het die direksievoorsitter van Saai, dr. Theo de Jager, gesê dat dit nie maklik is vir hulle (Saai) om met die regering te werk nie en het die departement van landbou as ’n “bodemlose put” in terme van finansies beskryf.

“Die uitbraak van BKS is die grootste ramp wat al ooit die vee industrie in Suid-Afrika getref het,” sê De Jager. “Honderde boere word geaffekteer. Melkerye het gesluit. In al nege provinsies moes boere toekyk hoe hul besighede tot ‘n stilstand kom.”

De Jager het verder gesê dat BKS ’n mensgemaakte ramp is en dat die siekte deur die staat onder beheer gehou moet word. “Nie net was die integriteit van die bestuurssones deur die staat verswak nie, maar die departement van landbou het ook versuim om te verseker dat daar genoeg beskikbare entstowwe sal wees om ons vee op ’n nasionale vlak te beskerm,” sê De Jager.

Infografika oor die onlangse syfers van uitbrake per provinsie.

’n Aanduiding van die mees onlangse syfers van gevalle per provinsie. Daar is sover nog geen nuwe uitbrake in Stellenbosch aangemeld nie. INFOGRAFIKA: Celeste Rabie

In ’n onlangse persverklaring van die department van landbou, het Steenhuisen verklaar dat hul prioriteit is om die verspreiding van inentings grootliks te vermeerder landswyd. “Speed is non-negotiable. We must get ahead of this disease to protect our national herd, our farmers and the broader agricultural economy, [Spoed is nie onderhandelbaar nie. Ons moet hierdie siekte voorspring om ons nasionale kudde, ons boere en die wyer landbou-ekonomie te beskerm,”] het hy gesê.

“Die aankondiging dat meer entstowwe gearriveer het, is in my oë ‘n geval van ‘hopeloos te laat’,” het Francois Rossouw, die uitvoerende hoof van Saai, gesê. Hy het bygevoeg dat die staat “spog” met hul doelwit om 80% van die land se kudde teen Desember in te ent. Wêreld Organisasie vir Dieregesondheid (WOAH) beveel aan dat meer as 90% van ’n kudde in ’n kort tydperk ingeënt moet word om die virus te stop.

Rakende die registrasie van privaat veeartse om die BKS-entstof te administreer, het de Jager gesê dat dit “absolute onmin” is. “Veeartse is reeds geregistreer by die veeartsenykundige raad. Daar is niemand in die departement [van landbou], niemand in die staat, niemand by Red Meat Industry Services wat die reg het om te eis dat veeartse by hulle moet registreer nie.”

De Jager het verder gesê dat dit nog onnodige administratiewe werk is. “Dit is oorryking van die staat.”

Rossouw het aangedui dat die registrasieproses vir privaat veeartse vinniger behoort te verloop. “Privaat veeartse het reeds die nodige infrastruktuur […] wat die staat op baie plekke kort.”

Steenhuisen met verteenwoordigers van Onderstepoort Entstofproduksie en Biogénesis Bagó.

Minister van landbou John Steenhuisen by ’n verteenwoordiger van Onderstepoort Entstofproduksie en een van Biogénesis Bagó tydens sy werkstoer na die Biogénesis Bagó produksie-fasiliteit in Garín in Buenos Aires, Argentinië. FOTO: Verkry/Instagram @doagov_za

Hy het verder gesê dat die staat nie kan byhou by privaat veeartse nie: “Ons het gesien dat privaat praktyke tot 170 000 beeste in net ’n paar dae inent wanneer hulle die geleentheid kry,” het hy gesê.

Rossouw het ook aangedui dat daar ’n “vertrouenskrisis” is. “Boere het vertroue in die department en die stelsel verloor. Die regering se trae burokrasie is besig om ons te versmoor,” het hy gesê.

In die persverklaring het Steenhuisen verder gesê dat, tydens sy onlangse besoek aan Biogénesis Bagó, is die produksiefasiliteite geïnspekteer. Dit is waar ’n verdere vyf miljoen entstowwe gereed is om uitgevoer te word in Suid-Afrika. Hierdie entstowwe wag nog vir goedkeuring van die Suid-Afrikaanse Regulerende Owerheid vir Gesondheidsprodukte (SAHPRA).

Steenhuisen het verder gesê dat dit van kardinale belang is dat daar gekoördineerde industriedeelname is en dat die doel is om “real outcomes on the ground” te hê.

De Jager het gesê meeste boere beskou die inentingsstrategie as ’n “onnodige sentralisasie van mag”.

Rossouw het sy sentiment beaam. “Terwyl hulle [die regering] sloer, ly ons diere en gaan boerderye finansieel ten gronde,” het hy gesê.

Op die departement van landbou se Instagram-blad, blyk dit dat die publiek effens verdeeld is met opinies. Sommige reaksiegewers sê hulle is hoopvol oor die vordering met die inentings, en ander sê dis te laat en daar moes vroeër aksie geneem geword het.

Onderstepoort Entstofproduksie en die departement van landbou het nie teen die tyd van publikasie gereageer op versoeke vir kommentaar nie.