Azille Coetzee oor ‘In my vel’

Azille Coetzee het op Donderdag 3 Oktober oor haar opspraakwekkende debuut, In my vel, by die Universiteit Stellenbosch se departement Afrikaans en Nederlands gesels

 

Azille Coetzee, skrywer van 'In my vel', by die departement Afrikaans en Nederlands se middaguurgesprek. FOTO: SZ MINNAAR

Azille Coetzee, skrywer van ‘In my vel’, by die departement Afrikaans en Nederlands se middaguurgesprek. FOTO: SZ MINNAAR

Coetzee wat tans ’n postdoktorale navorser verbonde aan die SARChi-leerstoel in genderpolitiek is, was in gesprek met Mercy Kannemeyer, MA-student in drama en teaterwetenskap. Coetzee het verduidelik dat In my vel  ’n storie is oor haar wat Nederland toe trek vir haar PhD in filosofie, wat sy aan die Vrije Universiteit Amsterdam voltooi het.

Sy het allerhande verwagtinge oor Nederland gehad, onder meer dat dit ’n soort “tuiskoms” sou wees. “Want ek is dan nou eintlik Europees, hoor ons mos maar van alle kante af. Van binne die Afrikanergemeenskap, maar ook van buite af,” het sy gesê. 

Aanvanklik het sy gedink dat sy na haar studie permanent daar sou aanbly, maar Nederland was toe allermins ’n tuiste en sy het teruggekeer Suid-Afrika toe. Dit skakel ook met In my vel waar sy allerhande narratiewe bevraagtken oor wit Afrikanerskap, Europeërskap, “belonging”, bevoorregting, skuld en “al daai dinge”.

Wat vir sommige mense ongemaklike onderwerpe kan wees, het Kannemeyer nie geskroom om dié onderwerpe tydens die gesprek aan te pak nie.

Coetzee, wat grootgeword het in die noordelike voorstede van Kaapstad, meen “vir alle praktiese doeleindes, al was dit na 1994, het ek in ’n apartheidwêreld grootgeword”.

“Die feit dat Suid-Afrika nou anders is, het nooit uitgekom by my konteks en my ruimte nie,” het sy gesê.

Oor Nederland het sy gesê: “As jy wit en middelklas is, is jy op die regte pad van menswees daar. Ek dink nie ek het besef dat ek swaar dra aan hierdie goed [nie]. Toe ek soontoe gegaan het, het dit vir my eksplisiet geraak hoe verlig ek was en dat ek nie meer hoef skuldig te voel nie. Ek besef ek voel baie skuldig oor baie goed, maar ek dra baie swaar aan wit skuld [“white guilt”].” 

Coetzee het ook verduidelik hoe sy dit skakel met wit bevoorregting [“white privilege”] waarop  Kannemeyer gevra het hoe mens proaktief kan omgaan met jou wit bevoorregting.

Coetzee meen dit gaan nie net oor geld nie. “Op allerhande maniere dra die wit vel jou op ’n bevoorregte manier deur die lewe. Jy kan dit nie afskud nie. Dis nie so maklik soos gee jou geld weg nie. En dan is die vraag, ‘Wat doen ’n mens daarmee?’ En ek het definitief nie ’n antwoord daarvoor nie.”

“Om in Suid-Afrika te wees en om deur hierdie goed te praat en om deur hierdie goed te struggle is vir my meer waardevol as om in Europa te wees waar jy publieke vervoer het en jy’s veilig en vir my is daar baie waarde hierin. 

“En ek besef al hoe meer die argument wat ek maak in die boek. Die hele boek is deurdrenk met privilege, want al hoekom ek die argument kan maak is omdat ek gemaklik in Suid-Afrika kan sit en dink oor privilege en ek het daai luxury om te kies, ‘wil ek weggaan?’. 

“Die hele vraag van ‘moet ons weggaan, moet ons nie?’ is ’n vraag tot ’n groot mate wat […] voortgebring word deur bevoorregting,” het sy gesê.

Mercy Kannemeyer (links) en Azille Coetzee by die middaguurgesprek. FOTO: SZ MINNAAR

Mercy Kannemeyer (links) en Azille Coetzee by die middaguurgesprek. FOTO: SZ MINNAAR

Op ’n punt het Mercy geskerts en gevra of Coetzee voel soos ’n “white saviour tipe vibe”.

“Nee,” het Coetzee dit afgelag, “Ek wag nog. As die boek vertaal word in Engels, is ek seker daar gaan allerhande kritiek uitkom wat ons nie vanuit ons privileged punt van die boek lees of eens sien nie. Ek is nog glad nie oortuig dat die boek oukei is nie. Die mense wat dit [op die oomblik] lees, is tog maar net wit middelklas Afrikaners,” het sy gesê.

“Vir my gaan dit nie oor ek het teruggekom want ‘ag, dit is so lekker vir wit mense hier’ nie. Wel dit ook, natuurlik. Ek leef soos ’n koning. As middelklas Suid-Afrikaner is die lewe luuks.

“Net om te kan sê #Imstaying impliseer al klaar baie, want baie mense in die land wie die meeste blootgestel is aan die misdaad en die dinge waaroor ons so kla, het nie noodwendig die opsie om te skuif nie,” het Coetzee gesê.

Maar die #Imstaying-beweging ag Coetzee darem ook as voordelig. “Die diskoers in Suid-Afrika is verskriklik negatief. So vir my is die voordeel daarvan dat dit ’n poging is om te sê ‘Kom ek dink aan Suid-Afrika in minder binêre terme’,” het sy gesê.