Akteur Heinrich Wentzel is in Mei by die jaarlikse Klein Karoo Nasionale Kunstefees Kanna-toekennings as beste opkomende kunstenaar of nuweling bekroon vir sy spel in Akrasia. Dié plaasjapie van Bonnievale het met SMF News se Lené Vorster gesels oor wat teater vir hom beteken en hoekom hierdie bedryf hom so opgewonde maak.
Hy loer om die hoek en wink SMF News met die hand om hom te volg. Hy loop in die gang af en steek sy kop by kleedkamers in om ou klasmaats te groet of vir ’n dosent te waai. Dis hier, aan die Universiteit Stellenbosch (US) se drama-departement, waar hy die vorige drie jaar sy voete as jong akteur gevind het. Vandag is Heinrich Wentzel terug as 2025-gegradueerde en onlangse Kanna-wenner.

Die akteur Heinrich Wentzel is in Mei vanjaar by die jaarlikse Klein Karoo Nasionale Kunstefees Kanna-toekennings as beste opkomende kunstenaar of nuweling bekroon vir sy spel in die verhoogstuk Akrasia. Hy het in 2025 sy BA-graad in Dramatiese Kunste aan die Universiteit Stellenbosch verwerf. FOTO: Lené Vorster
Van kleintyd tot Kanna-wenner
Heinrich het aanvanklik nie geweet wat hy na skool wou doen nie. Hy het op Bonnievale in die platteland grootgeword, en kon buiten jaarlikse toneelproduksies, nie drama as vak neem nie. Sy skool het nie die vak aangebied nie. Hy vertel dat hy as kind gereeld films gekyk het en dat die akteurs se spel hom gefassineer het.
Dit was egter by die einste Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) dat die verhoog hom geroep het.
“Ek het elke jaar KKNK toe gegaan saam met my ouers, en altyd saam met vriende teaterstukke gaan kyk. Ek het besef dit lyk na iets wat ek wil doen. Ek wil dit maak en ek wil daarin speel,” sê Heinrich.
Daar is hy vir die eerste keer blootgestel aan teaterstukke en -makers wat hy glo ’n blywende impak op hom gehad het.
“Ek onthou ek het by KKNK Ek, Anna van Wyk gekyk – van Marthinus Basson – en ek wou nog na die tyd met hom gaan chat het, maar of course hy het geen idee gehad wie ek is nie,” vertel Heinrich. “Ek was nou al bevoorreg om met hom te werk, maar ek het net so belanggestel in hoe hy dit bymekaar gesit het, en hoe hy die akteurs gelei het om sulke incredible werk te doen.”
Vir Heinrich is dit ’n absolute droom om deur die KKNK vereer te word.
“Dis ’n massiewe voorreg. Dis so lekker om net daar te kon wees… En met die mense na wie ek so lank al opkyk – [dit] was vir my massive,” vertel hy. “Mens voel appreciated. Jy voel jy werk hard aan ’n produksie en dan word jou werk waardeer en mense sien jou raak.”
Hy beklemtoon ook die nut van spasies soos feeste waar jong teatermakers eksperimenteel kan raak, en kan rondspeel met hulle kuns. Heinrich vertel van Akrasia, die donker komedie waarvoor hy sy Kanna as beste nuweling ontvang het.
“Ek hou van interessante stories. Mense wil ander goed sien, en al is die teks hoe plain – wat Akrasia nie is nie – is dit lekker om fun karaters te hê wat in awkward situasies is.”
Kristen Fichardt, die regisseur en mede-skrywer van Akrasia, sê enige karakter is veilig in Heinrich se hande.
“Hy verstaan die fyn nuanses van sy karakter só goed. Die karakter wat hy speel in Akrasia, Reuben, is maar ’n vreemde ou. Wat vir my belangrik was, was dat dit ’n tipe van ’n morele dilemma veroorsaak by die gehoor,” vertel sy. “Hy is keen vir enige iets.”
KKNK bly Heinrich se gunstelingfees.
“KKNK fokus baie op jongmense en dis great. Ek dink ons waardeer dit baie, want ons voel raakgesien en ons kry die geleentheid om te doen wat ons love,” sê hy. “Daar is so baie mense wat belangstel in teater en wat jong teatermakers wil ondersteun.”

Heinrich Wentzel was die 2026 Klein Karoo Nasionale Kunstefees Kanna-wenner vir beste opkomende kunstenaar of nuweling. Hy hou daarvan om interessante karakters te vertolk. “Jy laat die mense die weirdness verstaan op ’n ander manier en dis lekker,” meen hy. FOTO: Lené Vorster
Goue geleenthede
Heinrich vertel dat hy in 2023 as eerstejaarstudent die geleentheid gekry het om onder fasilitering van Marthinus Basson (regisseur van Boklied en Mirakel) in die vertoning, Die Koning en Sy Bruid, by die Première Teaterfees te speel. Dié stuk is uiteindelik as beste toneelstuk by die teaterfees bekroon daardie jaar.
“Dit het baie vir my beteken in die industrie, en dit was ’n groep mense saam met wie ek enige tyd weer sal wil werk,” vertel hy. Dit was ’n interessante teks en sy karakter was kompleks, wat hy sê vir hom lekker was om te speel.
Jeanne-Marié Koekemoer, wat saam met Heinrich in Die Koning en Sy Bruid opgetree het, sê om teenoor hom te speel het baie vryheid, nuuskierigheid, en onvoorspelbaarheid in haar eie spel losgemaak.
“Hy het ’n stille krag en hy maak onvoorwaardelik spasie vir wie ook al langsaan hom moet staan,” sê sy. “Heinrich is een van die mees vrygewige, plat-op-die-aarde akteurs en mense.”
Heinrich sê hy sal enige iemand wat belangstel, aanraai om drama te studeer, en meen hy sou nêrens gewees het daarsonder nie.
“Bloot net die feit dat iemand jou raaksien, en jou connect met mense in die industrie… dit bou eintlik jou hele loopbaan,” sê hy.

Vir akteur Heinrich Wentzel, die 2026 KKNK Kanna-wenner vir beste opkomende kunstenaar of nuweling, bly die deure oopgaan. Hy sal tydens vanjaar se Woordfees op die planke te siene wees in die debuutproduksie Vlindervry. FOTO: Lené Vorster
Nie net op die planke nie
Na sy sukses in Die Koning en Sy Bruid, het Basson hom genader om te oudisie vir ’n rol in ’n film wat Edwin van der Walt (akteur in Donkerbos en Tuiskoms) besig was om vir Showmax te ontwikkel. Hy het die rol gekry, en sy loopbaan op die skerm is gebore. Sedertdien is Heinrich al in verskeie reekse en films op die kassie gesien, waarvan die nuutste die kykNet-misdaaddrama Die Oord, is.
Alhoewel die voorbereidingsproses vir televisie volgens Heinrich baie soortgelyk is aan dié vir die verhoog, is televisie vir hom ’n lekker uitdaging.
“Ek dink die ding van teater is dat alles in volgorde is; waar in film is dit baie fragmented. Jy skiet die een dag toneel sewe van episode tien en dan die volgende dag episode een van toneel twee,” sê hy. “Dis baie kophou. Ek hou ’n dagboek as ek films doen, want dis lekker om die hele proses bymekaar te sien kom.”
‘Almal kyk uit vir jou’
Heinrich sukkel om sy droomproduksie uit te sonder.
“Ek dink dit sal nogal ’n droom wees om ’n Reza de Wet-teks aan te pak wat Marthinus [Basson] direct met name met wie hy gewoonlik werk, soos Rolanda [Marais], dalk De Klerk [Oelofse], Dawid Minnaar, Albert Pretorius, Karla Smit, Beer Adriaanse, Edwin van der Walt,” sê hy. “So iets sal baie lekker wees.”
Heinrich kyk op na die akteurs en teatermakers om hom, en leer uit hul suksesse.
“Mense in die industrie wat hard werk en dit self doen,” sê hy oor die mense wat hom inspireer. “Dis nie mense wat net afhanklik is van ander mense vir werk nie, maar wat werk skep en wat in die proses hulle alles gee om dit te behou.”
Vir hom is dit ook juis die mense wat die teaterbedryf die moeite werd maak.

Heinrich Wentzel, die 2026 KKNK Kanna-wenner vir beste opkomende kunstenaar of nuweling, probeer om voor ’n vertoning nie te veel op woorde of teks te fokus nie. “Ek warm maar op, en probeer gefokus bly. As daar ’n bietjie adrenalien of stres is, probeer ek dit omsit in fokus en energie,” sê hy. FOTO: Lené Vorster
“Dis my gunstelingdeel van die industrie,” vertel hy. “En al weet jy niks, en al doen jy nog baie shitty goed, almal kyk uit vir jou. Hulle sê nie net well done nie, hulle gee om.”
Dit voel eintlik vir hom onwerklik om te kan sê dat hy verhoogspasies met van die groot name in die bedryf deel.
“Of die persoon nou al 60 jaar in die industrie is, en of hy nuut is, almal het dieselfde droom en almal het dieselfde doelgerigtheid om hier te wees. Dis die mense wat dit ook vir my worth it maak.”
Heinrich het ’n aansteeklike glimlag, veral wanneer hy oor teater praat. “Dis so lekker. Ek is mal daaroor.”
*Heinrich sal tydens vanjaar se Woordfees op die planke te siene wees in die debuutproduksie Vlindervry.
