‘All-rounder’ Kabous Meiring gesels oor die strewe na eenvoud

Kabous Meiring beskou haarself as ’n “all-rounder”; sy is aanbieder, radiopersoonlikheid, skrywer en filmregisseur. Maar wanneer sy by haar huis in Stellenbosch is, streef sy na die eenvoudige dinge in die lewe. Sy gesels met SMF News se Mia van der Merwe oor haar loopbaan en haar droom om beskeie te lewe.

Haar naam is eintlik Karen-Christine Meiring. Maar almal noem haar Kabous.

Kabous se huis is weggesteek in die middel van Stellenbosch. Dit is waar sy skryf, gesels en kuier. Haar huis is ’n getuie van die dinge wat vir haar belangrik is: sketse, boeke, plante, aandenkings uit haar jeug en haar loopbaan.

Dis ’n koue wintersmiddag in Stellenbosch. “Daar is ’n gesegde: ‘Doen wat jou hand vind om te doen’,” sê Kabous. Die gesegde skep dalk die indruk dat ’n mens nie rigting het nie, maar Kabous meen dit is dikwels wat Suid-Afrikaners moet doen.

“My geslag het nogal ’n all-rounder geraak, maar dis maar omdat ons nie eintlik die voorreg gehad het om te spesialiseer nie,” sê sy oor loopbaan.

Om ’n loopbaan in Suid-Afrika uit te kerf, moet ’n mens nuuskierig wees, sê Kabous. Maar jy moet ook weet wanneer om nee te sê wat loopbaankeuses betref.

Kabous Meiring is “bedagsaam, toegewyd en kreatief”, sê haar skoolvriendin, Lindsy Marais. Hierdie kwaliteite, en haar verskillende ervarings in die lewe, help haar om vinnig aan te pas, meen Lindsy. FOTO: Mia van der Merwe

Live from Hong-Kong

Kabous het sowat twee dekades terug drama studeer aan die Universiteit Stellenbosch. 

“Ek was altyd baie lief vir rolprente, maar dit was nooit vir my heeltemal los van politieke kommentaar of nie-fiksie nie,” sê sy. Kabous was altyd geïnteresseerd in ’n magdom dinge. Sy lees graag poësie, en is mal oor kinderboeke, ontwerp en argitektuur. Dit het vir haar sin gemaak om drama te studeer omdat dit driedimensioneel is, maar ook toegang gee tot baie van haar ander belangstellings. 

“Al hierdie goed wat ek wil doen, kom by die teater bymekaar,” sê sy. 

As kind het Kabous gedroom oor twee beroepe: ’n Rolprentregisseur of ’n CNN-aanbieder. “Ek het dit so geoefen voor die spieël, ‘This is Karen-Christine Meiring signing out live from Hong-Kong’.”

Dit het vir haar sin gemaak om in die wêreld van dokumentêre te werk. 

Vandag ken Suid-Afrikaners haar as die aanbieder van Prontuit – sy doen dit reeds vir nege jaar. Sy was egter ook betrokke in die uitgewersbedryf, as reklame koördineerder by NB-Uitgewers, en was onlangs regisseur van die film Die tragiese saak van Pamina Vermaak, wat geskoei is op die gelyknamige boek deur Annie Klopper.

“Kabous is al die clichés, en dan nog soveel meer,” sê Christelle Pansegrouw, ’n jarelange vriend. “Passievol en kundig, [met] die vermoë om ingewikkelde konsepte op ’n maklike verstaanbare manier uit te lê. Sy verstaan politiek en sy verstaan ook mense wat nie politiek verstaan nie.” 

Die skrywer Loftus Marais, wat saam Kabous sedert 2008 ken, meen Kabous het ’n “ou-wêreldse nuuskierigheid”. 

Sy wil net heeltyd vra vrae en meer uitvind,” sê Loftus.

Kabous Meiring stel graag alle soorte goed uit haar verelede in haar huis uit. Die trofee het sy gehou van ‘n redenaarskompetisie van haar skooldae. FOTO: Mia van der Merwe

Altyd reg vir ’n uitdaging

Elke loopbaanervaring het vir haar nuwe opwindende dinge geleer en gehelp dat sy nooit te lank in een wêreld vasgevang word nie.

“As jy weer sien, is jy ’n landboujoernalis op MegaBoere, en ek sou dit nie in my wildste drome kon in dink nie…,” sê Kabous. Terwyl sy gewoond is daaraan om voor die kamera te verskyn, was MegaBoere ’n “heeltemal ander formaat as Prontuit”. 

“Eintlik is dit lekker om so ’n vreeslike all-rounder te wees, want op ’n manier hou ek ook van regie – dan kry ek weer kans om dit te doen. En ek bied aan en elke keer as iets te veel raak dan weet jy, toemaar, daar is iets anders om die draai,” verduidelik sy.

Kabous is geïnteresseerd in al die verskillende media-formate. Sy meen dat nuwe sosiale media platforms soos TikTok opwindende dinge vir verskillende bedrywe kan inhou, insluitend byvoorbeeld vir joernalistiek.

Haar blootstelling aan die verskillende werksomgewings hou haar verstandig, meen sy. 

Loftus meen dat Kabous oor die jare baie gegroei het, en deesdae meer geneig is om kanse te waag. “Ek dink ’n mens leer dit aan in die bedryf,” sê Loftus.

Kabous Meiring lees alle soorte literatuur, en is mal oor woordkuns. Sy lees graag poësie, en het ’n groot liefde vir arigtektuur en ontwerp, vertel sy. FOTO: Mia van der Merwe

Die klein goedjies

“In jou 40’s leer jy…die lewe is lank genoeg dat jy baie kan leer en kan groei. Baie keer, oor en oor,” sê Kabous.

Sy onthou dat Yvonne Beyers, die redakteur van Huisgenoot, op ’n keer in ’n onderhoud genoem het dat haar gunstelingstokperdjie gesels is. 

Kabous het daarna bevry gevoel. Sy het nie stokperdjies soos hekel nie, sê sy. Sy beskou eerder gesels as ’n wonderlike stokperdjie. 

Sy meen ‘gesels’ moet gesien word as ’n medium wat dieselfde waarde as skryf dra. Hierdie insig het haar laat besef dat sy daarvan hou om toesprake te lewer.

Kabous droom egter oor ’n eenvoudige en “klein lewe”. 

“Die idee dat jy met ’n fiets in die aande jou blommewinkel gaan toesluit, en dan later in die aand kom drink iemand ’n glas wyn daar op jou stoepie en gaan terug huis toe,” sê sy.

Sy besef dat só ’n leefwyse haar maklik sou kon verveel, en sou ’n drastiese verandering tot haar huidige roetine beteken. Maar sy meen dit is gesond om daarna te strewe, en om aan te hou om die klein dinge wat jy wil doen, bewustelik in jou lewe in te sluit. 

“In jou 40’s leer jy…die lewe is lank genoeg dat jy baie kan leer en kan groei. Baie keer, oor en oor.”

Kabous is elke tweede week in Johannesburg. Een aand skiet hulle die direkte uitsending vir Prontuit en die oggend daarna reis hulle na die platteland vir verdere werk. 

Sy het nie aanvanklik van die idee gehou om te pendel nie. Die heen-en-weer ry en vlieg pas nie in by die eenvoudige lewe waaroor sy droom in nie.

“So ek en my buurman, Christiaan, wie se onderbroeke my gaste so mooi groet, het groot planne vir ’n groentetuin op die stoep. Dis daai soort van goed: Die groentetuin, die stap in die berg, die tennisklub. Al daai goed is uiteindelik die metafoor vir die klein goed in die lewe,” sê sy.

Kabous Meiring voel dat haar all-rounder aanslag om baie dinge te kan en te wil doen vir haar ’n realitiese uitkyk op die lewe gee. FOTO: Mia van der Merwe