Aandklas vier braaidag met brakke

’n Stellenbosse kuierplek het hierdie naweek hulle jaarlikse Braai 4 Brakke-Erfenisdaggeleentheid gehou om geld in te samel vir ’n plaaslike dierewelsynsorganisasie. 

brakke

“Ons het agtergekom dat mense in Stellenbosch bitter graag fondsinsamelings wil ondersteun, maar nie altyd die tyd het of presies weet hoe nie. Nog elke keer wat ons iets soortgelyks [gedoen het], is dit duidelik dat mense meer as gewillig is om geld te skenk om hul medemens (of dier) te help,” het Arnold van der Walt, die vermaaklikheidsbestuurder van Aandklas, gesê. “In ’n wêreld waar dit voorkom asof niemand vir mekaar omgee nie, is daar niks wat meer punk is as om vriendelik te wees nie.” Foto: Karla van der Merwe

Alle toegangsfooie wat tydens die geleentheid ontvang is, sal aan die Animal Welfare Society Stellenbosch (AWSS) geskenk word, het Arnold van der Walt, die vermaaklikheidsbestuurder van Aandklas, aan MatieMedia gesê.

Volgens Van der Walt het hy die Braai 4 Brakke-geleentheid vir die eerste keer in 2019 gereël toe hy gevra is om vir Aandklas ’n Erfenisdaggeleentheid te organiseer. Hy het dadelik gedink om dit in ’n fondsinsameling vir die AWSS te omskep, het hy gesê.

“Wat is nou lekkerder as live musiek, braai, vure, biere, en diere?” het hy gesê. “Hierdie is ’n dag [waarop] almal trots Suid-Afrikaans voel en meer gewillig voel om terug te gee.” 

Hulp nou nodiger as ooit

  • braai
  • brakke
  • brakke
  • brakke

Animal Welfare Society Stellenbosch het op 24 September vyf hondjies na Aandklas se Braai 4 Brakke-Erfenisgeleentheid geneem. Dié vier-potiges kon deur diegene wat die geleentheid bygewoon het, aangeneem word. By die vorige Braai 4 Brakke is vyf honde op die dag aangeneem, het Arnold van der Walt, die vermaaklikheidsbestuurder van Aandklas, gesê. Foto’s: Karla van der Merwe

“Ek het al baie fondsinsamelings vir AWSS gehou toe ek die programbestuurder was vir MFM,” het Van der Walt gesê. “Die rede hoekom ek spesifiek AWSS gekies het, is omdat my geliefde [hond] Banjo vanaf AWSS kom en ek weet watter groot liefde hierdie honde inhou.”

Die vraag na AWSS se dienste is tans hoër as ooit en hulle benodig gevolglik meer ondersteuning, volgens Jessica Perrins, AWSS se fondsinsameling- en kommunikasiehoof. AWSS maak hoofsaaklik staat op “die goedhartigheid van hulle skenkers en ondersteuners”, het Perrins gesê.

“Die donasies sal ons help om die kostes vir ons gemeenskapsuitreik-klinieke te dek,” het sy gesê. “Nog ’n voordeel van die geleentheid is dat dit ons toelaat om ons honde aan mense te wys en mense aan te moedig om aan te neem.”

brakke

 Alle toegangsfooie wat tydens Aandklas se Braai 4 Brakke-Erfenisdaggeleentheid ingesamel is, word aan die Animal Welfare Society Stellenbosch (AWSS) geskenk. 

“100% van alle geld wat ingesamel word, gaan direk aan AWSS. Wanneer jy ’n kaartjie koop via Quicket, is daar selfs ’n opsie om enige bedrag direk aan AWSS te skenk,” het Arnold van der Walt, die vermaaklikheidsbestuurder van Aandklas, verduidelik. 

Mense kon ook komberse, speelgoed of kos na die geleentheid saambring om aan AWSS te skenk, volgens Van der Walt. Foto: Karla van der Merwe

Janke van Schalkwyk, wat die geleentheid bygewoon het, het genoem dat dit vir haar wonderlik is dat almal bymekaar kon kom “oor iets so mooi soos honde”.

“Almal kan nie ’n hond aanneem nie, maar ons kan almal tot ’n mate bydra om die honde te help,” het sy gesê.

Local is lekker

  • musiek
  • musiek

Plaaslike kunstenaars het by Aandklas se Erfenisdaggeleentheid, Braai 4 Brakke, opgetree. Michael Mouton (Foto 1) en Jeandré Swanepoel (Foto 2) was twee van die musikante wat vermaak by die geleentheid verskaf het. Foto’s: Karla van der Merwe

Verskeie Stellenbosse musikante en musiekgroepe het tydens die geleentheid opgetree. Dit het ingesluit Michael Mouton, Jeandré Swanepoel, Esmé & Steyn, Hugo Veldsman, Kontras, Matty & The Cartoon Graveyards, Karel Bester en die Kraaines Band, en Aflos.

“Alle musikante wat by Braai 4 Brakke speel, is vanaf Stellenbosch en kunstenaars wat gereeld Aandklas ondersteun,” het Van der Walt gesê. “Siende dat 24 September Erfenisdag is, is dit belangrik vir my ‘to keep it close to home’ en [om] vir mense te wys wat Stellenbosch het om te bied.”

, , , ,