A-klas energieverbruiksertifikaat net die begin vir volhoubaarheid by US

Vyftig geboue sal vanjaar vir energieverbruik ge-oudit word as deel van die Universiteit Stellenbosch (US) se poging om teen volgende jaar 60 geboue met geldige energieprestasiesertifikate (EPC’s) te kan hê. Dit is volgens Nadeem Gafieldien, direkteur van Eiendomsdienste aan die US se afdeling Fasiliteitsbestuur.

volhoubaarheid

Die US se Admin-B-gebou, wat volgens Gafieldien op 21 Februarie ’n energieprestasiesertifikaat met die beste moontlike klassifikasie vir effektiewe energieverbruik, ’n A-gradering, ontvang het. Gafieldien het gesê die gebou se jaarlikse energieverbruik van 48 kWh per m² is ongeveer ’n kwart van wat soortgelyke kantoorgeboue normaalweg verbruik. FOTO: Anri Matthee

volhoubaarheid

GRAFIKA: Anri Matthee

Die onlangse energieverbruiksoudit vir die Admin-B-gebou is luidens Gafieldien bloot een van vele inisiatiewe om kampusvolhoubaarheid te bevorder. Daar is ook ander inisiatiewe om bestaande geboue te assesseer.

“Die US is besig om baie van hul geboue boonop nog deur die Green Building Council van SA (Suid-Afrika) (GBCSA) te laat gradeer as groen geboue,” het dr. Frank Duvenhage van Bluedust Engineering Solutions, ’n energieverbruikskonsultant vir die universiteit, gesê.

volhoubaarheid

Aangesien lugverkoelers van die grootste kragverbruikers in kampusgeboue is, poog die universiteit om deur die implementering van sentrale verkoelingstelsels voortdurend om energieverbruik te optimaliseer en te verminder, het Gafieldien gesȇ. Gafieldien het verder aangevoer dat die US tussen 2016 en 2019 sy jaarlikse kragverbruik van 74 GWh na 68 GWh besnoei het ten spyte van die 40% toename in studente in die afgelope dekade. FOTO: Anri Matthee

Gafieldien het aan MatieMedia gesê dat hy ook ’n plan aan die US-bestuur voorgelê het om die US se langtermyndoelwit van “net zero carbon” te verwesenlik. Die onlangse implementering van fotovoltaïese PV-stelsels op onder meer die dak van die Neelsie  ondersteun die universiteit se doelwit om teen 2022 hernubare bronne in te span vir kragopwekking, het hy gesê.

“Ons mikpunt [vanjaar] is om groot PV-stelsels in te sit om volhoubare energie op te wek,” het Gafieldien gesê. Die stelsel op die Neelsie se dak is die eerste hiervan en voorsien tans aan 25% van die gebou se energiebehoeftes.

neelsie

Die PV-panele op die Neelsie se dak wat tans 25% van die gebou se elektrisiteit voorsien. Volgens ’n inligtingstuk deur die Universiteit Stellenbosch se Sentrum vir Hernubare en Volhoubare Energiestudies, bestaan PV-panele uit selle wat sonenergie in elektrisiteit omskakel. FOTO: Anri Matthee

Volgens John de Wet, omgewingsvolhoubaarheidsbestuurder aan die US se Eiendomsdienste, gaan die PV-paneelprojek ook vanjaar uitgebrei word na die Jan Mouton-gebou.

jan mouton-leersentrum

Die dak van die nuwe Jan Mouton-leersentrum wat vanjaar ook met PV-sonpanele toegerus sal word. Die gebou is volgens de Wet reeds toegerus met energie- en waterbesparingstoerusting. FOTO: Anri Matthee

Die Jan Mouton-leersentrum, wat onlangs vir studente se gebruik geopen is, beskik ook oor ’n gryswaterstelsel wat koshuise se gryswater vir toilette herbenut, en ondergrondse reënwatertenks vir besproeiing wat waterverbruik sal optimaliseer.

, ,