100 jaar later: Span van Universiteit Stellenbosch vind verlore wrak in Antarktika

’n Span van die Universiteit Stellenbosch (US) was onlangs deel van ’n ekspedisie wat die wrak van Sir Ernest Shackleton se verlore skip gevind het. Die skip, Endurance, is meer as ’n honderd jaar gelede vir die laaste keer in die Weddell-see in Antarktika gesien. Dit is volgens James-John Matthee, meesterstudent in ingenieurswese aan die US en deel van die span aan boord die SA Agulhas II wat die wrak op Saterdag, 5 Maart gevind het. 

Die navorsingspan van die Universiteit Stellenbosch by die wrak van Ernest Shackleton se skip wat hulle op 5 Maart opgespoor het. Van links na regs: prof Annie Bekker, Ben Steyn en James-John Matthee. FOTO: Verskaf/Marc de Vos

“Die Endurance is een van die moeilikste wrakke waarvan ons weet om te kry, en lê al vir meer as 100 jaar op die bodem van die Weddell-see,” het Matthee per e-pos gesê. 

Prof Annie Bekker, senior lektor aan die departement van meganiese en megatroniese ingenieurswese, sowel as Ben Steyn, nog ’n meesterstudent aan dieselfde departement, vorm ook deel van die US-navorsingspan. 

Geskiedkundige vonds

Volgens Matthee het die span reeds 17 dae spandeer om die wrak te vind, met net drie dae oor voordat hulle moes terugkeer huis toe, toe hulle dit opgespoor het. “Die area waardeur ons gekam het, is groter as Kaapstad en dit was 17 dae se 24 uur per dag operasie om die wrak te soek met ys wat altyd dinamies om ons beweeg,” het Matthee gesê.

wrak

James-John Matthee se werksarea aan boord die SA Agulhas II. FOTO: Verskaf/James-John Matthee

“Dit slaan my asem weg om deel te wees hiervan,” het Bekker per e-pos gesê. Volgens haar het die span die vonds gevier met “’n heerlike braai en dans op die helikopterdek met ’n welverdiende glasie wyn”. Bekker het gesê dat die hoogtepunte steeds nie verby is nie – die skip vaar nou na Suid-Georgia waar hulle Shackleton se graf gaan besoek en ’n gedenkdiens wil hou. 

Volgens Steyn het die span Kaapstad op 5 Februarie verlaat en sal hulle rondom 21 Maart terug wees in Suid-Afrika. Die doel van die ekspedisie, benewens die vind van die wrak, is om in die toekoms skepe te kan bou wat meer effektief ys kan breek. Die span se navorsing vorder volgens Steyn goed. 

wrak

Die span het Endurance se wrak gevind na 17 dae se soek, en met net drie dae oor voordat hulle met hul terugtog huis toe sou begin, het James-John Matthee, ingenieurswese-meesterstudent aan die Universiteit Stellenbosch, gesê. FOTO: Verskaf/James-John Matthee

“Ons het definitief al uitstekende data bymekaargemaak tydens hierdie vaart,” het hy gesê. “Ons verwerk die data so gou moontlik om die skipskapteine insig te gee oor wat presies aangaan in die skip se diverse omstandighede.”

Meer as ’n 100 jaar later

Dit was Shackleton se doelwit om die eerste persoon te wees om Antarktika per land vanaf die Weddell-see via die Suidpool na die Ross-see te oorkruis, het die Falklands Maritime Heritage Trust in ‘n persverklaring gesê. Die Endurance het egter nooit land bereik nie en in 1915 moes die 28 bemanningslede die skip verlaat nadat dit deur die ys vasgedruk is en gesink het. Die wrak is teen ’n diepte van 3008m gevind, aldus ’n persverklaring van die Falklands Maritime Heritage Trust. 

Die SA Agulhas II vaar nou na Suid-Georgia waar hulle Ernest Shackleton se graf gaan besoek en ’n gedenkdiens wil hou. FOTO: Verskaf/James-John Matthee

, , , , , ,