Woordfees: Waar Tollie se pyn en parodie saamsmelt

Komedie: Tollie Parton: Hoofseun

18 Oktober om 20:00

HMS Bloemhof Sentrum

Snaaks, kras en onverwags opreg: Hoofseun neem die gehoor op ’n rit van lag, emosie en selfrefleksie. “With support and childhood trauma from Wynand Kotze,” lui die projekter-skerm agter die verhoog. Die vertoning is ʼn perfekte aand gevul met skerp, eerlike en ʼn skreeusnaakse ontleding van oorlewing, aanvaarding en die soeke na identiteit. Hoofseun is ʼn eenmans-komedievertoning geskryf deur Wynand Kotze en Anne Hirsch.

Tollie se eerste woord aan die gehoor is ʼn onomwonde “fok” – en so stel sy die toon vir haar vertoning dat daar geen apologieë sal wees nie. Die opgesmukte komediant beweeg met die selfvertroue van iemand wat weet dat ware humor nie net laat lag nie, maar ook op ander plekke moet tref. “Enige goeie Tollie maak ʼn klein bietjie seer,” sê sy en gaan aan met haar grappe, selfs wanneer dit effens pynlik raak.

Tollie Parton, die Suid-Afrikaanse drag-superster, voer Hoofseun op by die Woordfees. Die produksie, geskryf deur Wynand Kotze en Anne Hirsch, meng skerp humor met eerlike ontleding van identiteit en oorlewing. FOTO: Verskaf/Woordfees

Gedurende die vertoning vertel Tollie van haar kleindorpie-jeug. Sy beklemtoon temas soos godsdiens, skool en haar matriekjaar as hoofseun. Sy vertel dat sy nie vir haar skoolreünie genooi was nie, “want die hoofseun is nou ʼn hoofmeisie”. Hierdie oomblik beklemtoon menslikheid en herinner die gehoor hoe dun die lyn tussen trots en verwerping is.

Die gehoor se reaksie was entoesiasties en vurig. Daar is selde vertonings waar gehoorlede binne tien minute letterlik seer gelag is, net om ʼn ruk later stil te word vir ʼn toespraak oor identiteit en lewensdoel. Tollie se vermoë om grappe en trauma te meng maak dat die vertoning ʼn alomvattende uitbeelding van besonderse komedie is. Dit is dus maklik om te glo wanneer Tollie uiter: “My superpower is dat ek mense kan laat lag.”

Hoofseun is visueel eenvoudig, maar baie effektief. ʼn Leë verhoog met blou en pienk ligte, ʼn mikrofoon en ʼn handsak met verrassings. Elke voorwerp, gebaar en oomblik van stilte is doelbewus gebruik; deur haar interaksie met die gehoor en selfs ʼn ligsinnige lyndans word die gehoor onlosmaaklik deel van die vertoning.

Met glinsterende oё en ʼn skerp tong, betree Tollie Parton die verhoog vir Hoofseun. FOTO: Verskaf/Woordfees

Maar Hoofseun het ʼn sterker boodskap as net nog ʼn drag show, en tussen die glinster en glans leer die gehoor oor aanpasbaarheid en oorlewing. Sy beklemtoon dat jy die moed moet hê om jouself te wees in ʼn wêreld wat verwag dat jy stilbly.

Vir die teaterganger wat slim, skerp en eerlike teater geniet, is Hoofseun ʼn moet. Tollie Parton is nie net ʼn komiese sensasie nie, sy is noodsaaklik.