Woordfees: ‘SALT’ breek grense van ballet – en dit werk! 

Ballet: SALT 

14 Oktober om 17:00

Adam Small Ouditorium

Of jy nou hou van tradisionele klassieke ballet, of dalk eerder kontemporêre dans of jazz verkies, SALT sal jou beslis oorrompel – dit het immers al vir ʼn geruime tyd die danswêreld op hol, en met goeie rede!

SALT, aangebied deur Cape Ballet Africa onder leiding van Debbie Turner, is ʼn viering van beweging, klank en liggaamlike verteenwoordigheid. Sout geur, suiwer, genees en bewaar – en hierdie tema is deurgaans tasbaar in elke aspek van die produksie. 

SALT, aangebied deur Cape Ballet Africa onder leiding van Debbie Turner, is ʼn viering van beweging, klank en liggaamlike verteenwoordigheid. FOTO: Verskaf/Woordfees

Die program bestaan uit vier balletstukke, onderskeidelik gechoreografeer deur Kirsten Isenberg, Mthuthuzeli November en Michelle Reid. 

Reverie deur Isenberg begin met ʼn meer introspektiewe atmosfeer – denke wat dwaal, lig en donker wat met mekaar speel. Die visuele estetika soos die kostuums en beligting ondersteun die idee van ʼn reis tussen innerlike ruimtes. 

Met November se Chapter Two kry die produksie nuwe ritme. Hier is die beweging vinnig, akkuraat en vol energie. 

Die romantiese duet van Nocturne deur Kirsten Isenburg beeld die ontmoeting van twee op ʼn klassieke en meditatiewe manier uit. 

Die program sluit af met intensiteit en emosie van Smoke deur Michelle Reid. Kleure van rooi, warmte, dalk selfs ʼn tipiese jazz in die beweging en stemmingsbeeld. Die werk is speels, maar nie ligsinnig nie; dit dra ʼn ondertoon van passie en innerlike vuur. 

Kayla Schultze en ʼn mededanser tydens die optrede van Reverie. Die program bestaan uit vier balletstukke, onderskeidelik gechoreografeer deur Kirsten Isenberg, Mthuthuzeli November en Michelle Reid. FOTO: Verskaf/Woordfees

In al hierdie stukke verg die danse atletiese en tegniese uitnemendheid, en die dansers se uitvoering was van hoë gehalte. In hierdie opvoering van 90-minute lank het die dansers moeiteloos die gehoor betower met stamina wat skrik vir niks – sonder om hul tegniek af te skeep. Die oorgange tussen klassieke ballet en meer kontemporêre, ritmiese elemente is goed gebalanseerd. 

Die kostuums en beligting ondersteun en dra by tot die emosie van elke dans. Die beligting is só goed dat dit nie nodig was vir enige ander toneelontwerp elemente nie. 

Mia Coomber en ʼn mededanser tydens die optrede van Reverie. Die kostuums en beligting ondersteun en dra by tot die emosie van elke dans. Die beligting is só goed dat dit nie nodig was vir enige ander toneelontwerp elemente nie. FOTO: Verskaf/Woordfees

Met goeie musikale begeleiding, ondersteun dit die beweging sonder om dit te oorweldig. Peter Johnson se musiek, wat hy vir die tweede dans saamgestel het, staan uit vir die dinamiese ritme. 

SALT voel soos ʼn uitnodiging om stil te wees en om vervoer te word deur ritme en beweging. Dit daag tradisionele vooropgestelde idees van ballet uit en is meer as net die klassieke dansstyl waarmee baie mense ballet vereenselwig. 

  • SALT word op 16 en 17 Oktober 2025 by die Adam Small Auditorium opgetree. Kaartjies is beskikbaar op Quicket
,