Daniélle Schaafsma and Kobus Erasmus
Teater: Ek is nie Danie
17 Oktober om 20:30
Spier-ouditorium
Soos jy die teater betree, skep die rook in die lug ’n onheilspellende atmosfeer. Klankgrepe van onderhoude met die bekroonde Afrikaanse digter, Danie Marais, word oor die luidspreker gespeel soos wat jy soek vir sitplek tussen ’n skare feeskatte. Jy sien die verhoog besaai met agt kitare, ’n kontrabas, klawerborde en allerlei musiektoerusting. Jy wonder: Waarvoor het ek myself nou ingelaat?

Musiekregisseur Schalk Joubert (links) en akteur Albert Pretorius (regs) tydens Ek is nie Danie by die 2025 Toyota Stellenbosch Woordfees. Die duo weef Danie Marais se poësie deur mekaar met liggaam en instrument in ’n kragtige teatrale ervaring. FOTO: Verskaf/Gys Loubser
Maar Albert Pretorius, met musiekregisseur Schalk Joubert aan sy sy, oortref byna onmiddellik alle verwagtinge met hierdie eksperimentele eenmanstuk. Dit raak gou duidelik dat hierdie nie slegs ’n tradisionele poësievoorlesing is nie, maar ’n vars teaterervaring.
Pretorius en Joubert lees nie gedigte voor nie – hulle sing gedeeltes, beeld ander uit en spring tussen instrumente terwyl hulle fragmente van verskillende gedigte deur mekaar weef. Die 75 minute is ’n kragtige, veelvlakkige ervaring wat die grense tussen digkuns, musiek en belydenistoneel vervaag.
Ek is nie Danie trek skrapnel uit digter Danie Marais se vier digbundels en vertel ’n storie oor die skerwe van mislukte huwelike in Duitsland, die bevoorregte gemors van middelklas-Suid-Afrika, en die gewelddadige innerlike landskap van ’n man wat homself probeer verstaan.

Musiekregisseur Schalk Joubert tydens Ek is nie Danie by die 2025 Toyota Stellenbosch Woordfees. FOTO: Verskaf/ Llewellyn de Wet
Joubert se komposisies is integraal tot die produksie se emosionele trefkrag en word moeiteloos verweef met Pretorius se passievolle uitvoering van Marais se gedigte. Die ewig-ontwikkelende klankbaan wat Joubert en Pretorius skep, is wonderlik eksperimenteel en voel nie vir ’n enkele oomblik vervelig nie.
In een stadium word die verhoogligte op die gehoor self gerig in ’n diskobal-agtige kaskade en Pretorius begin die trappe van die ouditorium opstap. Hier kry die skrywer en akteur kans om te sê: “Ek is seker dat ek vir mense soos ek skryf”. Dit is ’n oomblik van erkenning en gemeenskaplike kwesbaarheid.
Die titel, Ek is nie Danie, is terselfdertyd ’n ontkenning en ’n bevestiging. Verder is dit ook ’n terugkerende temalied wat Pretorius in oomblikke van rockbelaaide katarsis opvoer.
Die produksie konfronteer sy eie relevansie in die samelewing met skerp selfbewustheid. Soos Pretorius se karakter dit stel: “Al wat ek saam met my dogter en ’n progressiewe wêreld vir Kersfees wil hê is om nie meer altyd te moet weet hoe ’n middeljarige wit man voel oor alles nie.”
Dié selfkritiese ironie is die produksie se grootste krag, dit erken sy eie beperkings terwyl dit steeds egte ervarings verken.

Albert Pretorius trek snare op die kontrabas tydens die opvoering van Ek is nie Danie. FOTO: Verskaf/Llewellyn de Wet
Die opvoering gaan verby in ’n oogwink, nie omdat dit oppervlakkig vermaaklik is nie, maar omdat dit jou dwing om teenwoordig te wees en om te luister. Om te voel. Dit is woordkuns wat leef en asemhaal, wat bloei en sweet.
Jy het ingeloop met die verwagting dat jy vir die volgende 75 minute na voorlesings uit ’n digbundel gaan luister, maar is op ’n onverwagte tuimeltrein-rit geneem wat jou toegelaat het om oor soveel aspekte van menswees te besin.
“Dankie vir hierdie wegraping.”
