Woordfees: Die kerk van Zoid

Musiek: Zoid Psalms 

18 Oktober om 20:00

Kruiskerk

Karen Zoid het God gevind in haar persoonlike lewe en deel graag haar nuwe oortuigings op die pragtigste manier. Haar nuwe produksie, Zoid Psalsms, meng tradisionele Afrikaanse Psalms met kontemporêre musiek. FOTO: verskaf (Woordfees)

Die keiharde basuin van ’n kerkorrel vorm die eerste note van Zoid Psalms, die legendariese Afrikaanse rocker Karen Zoid se nuutste musiekproduksie. Daarin verwerk en meng sy tradisionele Afrikaanse Psalms met ou treffers uit haar repertoire en kontemporêre pop- en rock-musiek.

Haar kenmerklike stem weergalm deur die Kruiskerk-saal, en sy trek weg met die Suid-Afrikaanse volkslied: “Nkosi sikelel’ Afrika”. 

Zoid se keuse vir kontemporêre musiek is na verwagting taamlik uiteenlopend. Sy voer Hans Zimmer se Interstellar-klankbaan en Radiohead se “Everething in its right place” omtrent reg na mekaar op en vermeng hulle moeiteloos met ouer skrifberymings. Die eindresultaat is ’n byna spirituele ervaring.

Zoid verseker die gehoor dat ‘Psalms’ die vorm kan aanneem van enige lied wat jou god dien en vertel dat sy self onlangs ’n herlewing in haar geloof gehad het.

Die vyfstuk-orkes wat Zoid vergesel vir hierdie produksie bestaan uit Salome van Wyk (orrel), Anton Eloff (klawerbord, klavier), Werner Ainslie (baskitaar), Jeandré Schultz (kitaar) en Giovanni Serci (tromme). 

In die bestek van twee ure voer Zoid musikale nommers op wat bewys dat sy nie net ’n wêreldklas-sanger is nie maar ook ’n vermaaklike spreker is. Tussen byna elke liedjie vertel Zoid persoonlike stories uit haar verlede wat die gehoor dikwels hardop laat lag.

So vertel Zoid byvoorbeeld dat sy vreeslik gefassineerd is met die geskiedenis en gebruik van orrels in die NG Kerk in Suid-Afrika. Sy het onlangs ʼn nuwe waardering vir dié instrument opgedoen met die voorbereiding vir hierdie produksie.

Saam met ’n twintig minuut-lange pouse het hierdie produksie teen die einde ʼn bietjie lank begin voel, veral as die gehoor nie gewoond is daaraan om vir lank op ongemaklike hout kerkbankies te sit nie. 

Zoid het wel al hoe gemakliker en meer energiek begin raak hoe langer die konsert aangehou het, en het die gehoor se aandag nie vir ’n oomblik verloor nie.

,