Vertaalstudente neem Enright-kortverhaal vir ’n aandswem

Enright

Die Universiteit Stellenbosch se honneursklas in vertaling het tydens hulle Internasionale Vertaaldag-geleentheid gesels oor hulle vertaling van Anne Enright se “Night Swim”. Hulle het onder meer ook gesels oor die vertaaluitdagings wat hulle tydens die vertaling daarvan teëgekom het.

Agter (van links na regs) is Mia van Heerden, Mieke de Wet, James Alison, Robin Hendrikse, Christo de Kock en Elsabé Grauso. Voor is Esmari Geldenhuys, Lerie Tredoux en Angel Hofman. FOTO: Karla van der Merwe

Honneurstudente in vertaling aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Departement Afrikaans en Nederlands het verlede week ’n voorlesing ter viering van Internasionale Vertaaldag op 30 September aangebied. Die teks wat hulle voorgelees het, was hulle uit hulle eie vertaling van die bekroonde skrywer Anne Enright se “Night Swim”, oftewel “Aandswem” in Afrikaans.

Die vertaling van Enright se werk vorm deel van ’n internasionale vertalingsprojek waaraan die klas deelneem. Die projek word deur die European Federation of Associations and Centres of Irish Studies (EFACIS) aangebied. 

“Die projek is deur ’n Belgiese kollega [Henri Bloemen] na ons toe gebring,” het prof Ilse Feinauer, ’n dosent in vertaling en Afrikaanse taalkunde aan die US se Departement Afrikaans en Nederlands, aan MatieMedia gesê. “Hy het gesê hy het vertalers vir al die tale van die wêreld, maar nog niks vir Afrikaans nie.” Die US was sy “eerste en enigste keuse” vir Afrikaans, het Feinauer gesê. 

Enright

“Sekerlik die grootste probleem waarmee ons te kampe kry, is dat vertaling – en met vertaling bedoel ek al die vorme; vertaling, redigering en tolking – iets is wat amper onsigbaar is by die meeste mense tot daar iets fout gaan,” het Marius Swart, ’n dosent in vertaling en Afrikaanse taalkunde aan die Universiteit Stellenbosch se Departement Afrikaans en Nederlands, gesê. “Ek dink daai onsigbaarheid is seker vir vertalers die grootste probleem, want dit lei ook daartoe dat die waardering vir vertaling […] iets is waarmee party mense nog sukkel.” FOTO: Karla van der Merwe

Die finale vertaling sal deur Feinauer en mede-dosent in vertaling en Afrikaanse taalkunde, Marius Swart, afgerond word. Daarna sal dit op EFACIS se webblad gepubliseer word, het sy verduidelik. ‘n Opstel oor die klas se vertaaluitdagings sal ook daarby verskyn. 

“Dit was vir ons nogals ’n groot eer om gevra te word om dit met ons klas te doen,” het Swart gesê. 

Vertaling is ‘oral rondom ons’

Internasionale Vertaaldag dien as ’n geleentheid om mense bewus te maak van die belangrikheid van hoëgehalte-vertaling en die moeite wat vertalers in ’n vertaling insit, volgens Esmari Geldenhuys, ’n vertalingstudent wat by die projek betrokke was.

“Oor die algemeen het mense interessante idees van wat vertaling is. Ek weet byvoorbeeld as ek kyk na Afrikaanse mense, [hulle] wil nie rêrig ’n teks lees wat vertaal is nie, want [hulle] voel dit is dalk nie so ’n goeie kwaliteit nie of dat Engels beter is,” het Geldenhuys gesê. “’n Vertaling is net so goed, en soms beter, as die bronteks.”

Enright

“Stellenbosch is deel van die wêreldtoneel vir vertaalopleiding en ook praktiese vertaling,” het prof Ilse Feinauer, ’n dosent in vertaling en Afrikaanse taalkunde aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Departement Afrikaans en Nederlands, aan MatieMedia gesê. 

Groot figure in die vertaalwêreld, soos prof Anthony Pym en prof Luc van Doorslaer, is tans buitengewone professore aan die US, volgens Feinauer. FOTO: Karla van der Merwe

Vertaling is ook ’n gegewe in ’n land soos Suid-Afrika waar daar so ’n groot diversiteit van tale buiten slegs die 11 amptelike landstale is, volgens Swart. 

“Ek dink deesdae, in die soort korporatiewe tydsgees waarin ons is, word daai soort diversiteit baie keer gesien as ’n ding wat geld kos en moeite verg en wat tyd in beslag neem,” het hy gesê. “[Vertaling] is ’n feit van die lewe, dit is oral rondom ons en ons is almal die heeltyd besig daarmee. Of dit nou op die tekstuele vlak of die gesproke vlak of een van die ander semiotiese vlakke is, vertaling is oral om ons.”

, , ,