Van koshuiskamer tot oud-Rembrandt pakhuis: Die suksesverhaal van ButtaNutt  

Wat begin het as ’n gesmous met neute vanuit sy koshuiskamer, het die afgelope 12 jaar gegroei tot ’n uitgebreide reeks neutbotters en -melke onder die handelsmerk ButtaNutt. Antoine van Heerden, stigter en eienaar, het met SMF News se Rentia Weber gesels.

“Ons sit sommer hier buite, as jy nie omgee nie,” sê Antoine van Heerden. Hy is lank en skraal, en gaan sit bene oorkruis op ’n nou bankie in die parkeertterrein. Dis hiér waar ButtaNutt se fabriekswinkel is, in die hartjie van die Paarl se industrieële gebied. 

’n Ideale dag is ’n dag waar hy voel hy het iets gedoen wat die besigheid vorentoe neem, sê Antoine van Heerden, stigter en eienaar van die ButtaNutt-reeks neutbotters en -melke. FOTO: Rentia Weber 

“Eens op ’n tyd was hierdie einste perseel die Rembrand-sigaretfabriek van Anton Rupert,” vertel Antoine. Vandag is dit waar elke tipe neutbotter en -melk van ButtaNutt vervaardig word. Met amandels van die Klein-Karoo, makadamia-neute van Mpumalanga en grondboondjies van die Noord-Wes: Elke rou neut word hiér verwerk tot uitvoerproduk. 

“Dit voel nog dieselfde as toe dit net 10 van ons was, ’n paar jaar gelede, in Eilandstraat (’n entjie laer af in die pad),” sê Antoine, stigter en eienaar van ButtaNutt. “Ons het voorheen ’n fabriek dáár ook gehad, van 600 m2. Dit het tóé gevoel soos baie spasie,” vertel hy met sy rug na die enorme fabriek waar al die handelsmerk se produkte tans vervaardig word. 

ButtaNutt se produkte word verwerk en verpak in die fabriekswinkel in die Paarl, waar Remgro eens ’n sigaretfabriek gehad het. FOTO: Rentia Weber 

Die begindae, as Matie 

Dis moeilik om te glo dat hierdie besigheid ontstaan het toe Antoine aanvanklik met ’n paar makadamia-neute van sy ouers se plaas in Mpumalanga ekstra sakgeld wou verdien. Hy was ’n Matie in sy tweedejaar van ingenieurswese en het aanvanklik die rou neute vanuit sy koshuiskamer probeer smous, sonder veel sukses, sê hy. Dit was in 2012.

Antoine was egter oortuig dat hy ’n besigheid wou en kon bedryf met die neute en het aanhou eksperimenteer daarmee. “My tweelingsussie het cheffing gaan swot by die culinary school en sy het my aanvanklik gehelp met geure en hoe om die botters te maak. Maar op daai stadium het sy ’n werk gehad en [ButtaNutt] kon nog nie eers vir my betaal nie,” vertel Antoine. Dus het hy alleen voortgegaan met die besigheid. 

Antoine van Heerden, wat ButtaNutt gestig het, sê dat hy nie moeg word om self van sy produkte te eet nie omdat daar ’n verskeidenheid is. “Ek love die produkte,” sê hy. FOTO: Rentia Weber 

Aanhouer wen

Antoine het aangehou eksperimenteer en selfs in 2016 na Amerika gereis vir inspirasie oor marktendense en infrastruktuur. Hy het toe neutbotters ontwikkel tot in verskillende geure: Kakao Makadamia, Heuning Amandel en Kaneel Makadamia, onder meer. 

En toe begin ButtaNutt om melk van hawermout, makadamia- en amandelneute te maak. Hiér, sê hy, was die groot deurbraak:

Melke van hawermout, makadamia- en amandelneute. Hiér, sê stigter en eienaar Antoine van Heerden, was die groot deurbraak vir die maatskappy ButtaNutt. FOTO: Rentia Weber 

“’n Groot deel van ons besigheid is produkontwikkeling. Ons wou ’n melk maak wat próé soos (koei) melk,” sê Antoine. 

En die reaksie, volgens hom, was “oorweldigend”. “Binnekort het melkproduksie die neutbotterproduksie oorheers. So, as ons nie die melk gemaak het nie, sou ons definitief nie gewees het waar ons nou is nie,” vertel hy. 

Innovasie 

Een van die redes hoekom hulle innoverend kán wees, glo Antoine, is omdat hulle nog nie só groot is nie. “Ons het gesien met baie van die groot voedselmaatskappye dat daar nie veel nuutskeppings is nie. Dit kom voor of daar ’n kortsluiting is tussen hoofkantoor en fabrieksvloer,” sê hy. 

Hy vertel met entoesiasme verder oor die nuutste verwikkelinge rondom hawermout en ButtaNutt: “Ons voer jaarliks ongeveer 800 ton hawer in van Finland, omdat dit gluten-vry is,” deel hy. 

Maar omdat ButtaNutt eerder plaaslike verskaffers wil ondersteun, het hulle twee maande gelede hawer begin aankoop van Bokomo, verduidelik Antoine. “Dan máák ons dit gluten-vry met kunsmatige intelligensie tegnologie. Só kan ons die gars en koring uit die hawermout haal en dan kan ons dit gebruik in ons melk.”

“Ons hoop om hierdie jaar al 25% van ons hawer plaaslik te koop. En dan, oor die volgende twee jaar, hopelik so veel as moontlik,” sê Antoine. 

Hierdie hoogs-gespesialiseerde Tetra Pak masjienerie in die ButtaNutt fabriekswinkel, ingevoer van Swede, word gebruik om Buttanutt-melke mee te maak. FOTO: Rentia Weber 

ButtaNutt-kultuur  

ButtaNutt het tans 135 werknemers in die span. Antoine sê hy het vir lank almal se name geken, maar ongelukkig is dit nie meer die geval nie. “Ek wil graag weer daar uitkom,” sê hy. “Ek was in Helpmekaar College in Johannesburg en het ’n skoolhoof gehad wat almal se name geken het: Klaus Konig. Hy was incredible!” 

Antoine glo dat om werknekmers se name te ken, belangrik is vir die kultuur van ’n maatskappy. “Ons het ’n kwartaallikse vergadering, waar ons óf ’n biertjie óf koffie saamdrink, en dan het ons ons besigheids-update waar ons bietjie connect,” sê hy. 

Werknemers by ButtaNutt kom hoofsaaklik van die Paarl en Wellington af, sê Antoine. 

“Ons het drie toesighouers in ons nuwe fabriek: een van hulle het by ons begin as ’n skoonmaker. En van die oorspronklike span van sewe produksiebemanning, is al sewe nog mét ons en nou in middelbestuur-posisies. Ons probeer ’n kultuur skep waar vaardighede aangeleer en opleiding gegee word sê hy. 

Uitdagings van ’n entrepreneur 

“Om enigiets in Suid-Afrika te vervaardig, kom maar met sy uitdagings. Van labour tot loadshedding,” sê Antoine. “En vervaardiging, want veral dit wat ons nóú doen, dis kompleks. Jy kort regtig ’n goeie span met voedselwetenskaplikes en ingenieurs. ’n Behoorlike finansiële span.”  

“En dan, die kapitaal. Mens onderskat dit, maar om vir jou ’n idee te gee: ’n Dérde van ons jaarlikse turnover sit in voorraad en in debiteure,” benadruk Antoine. “Een maand moet jy al jou rou materiaal en verpakking koop. Volgende maand moet jy als maak, en die ideaal is dat jy die derde maand als verkoop. 90-dae…kontantvloei…” Hy maak dit eenvoudig: “As jy baie vinnig groei, kort jy kapitaal.” 

Familie-sake  

Antoine sê dat hy nie homself noodwendig beskou het as ’n entrepreneur in sy grootwordjare nie, maar omdat sy ouers albei entrepreneurs is, was hy “heel gemaklik met die idee”. 

“Ons het nogsteeds ons familieplaas in Mpumalanga. My ouers boer nogsteeds daar,” sê hy. Watse raad kry hy by sy ouers? Antoine lag: “Nee, ek dink hulle het net raadop gegee met my!” 

Oor sy eie gesin, sê hy: “Dis bietjie van ’n ingetroude saak,” en verduidelik verder. “So, my besigheidsvennoot, ek het toe uiteindelik (met) sy suster getrou.” 

Antoine sê dat hy die meeste dae middagete by sy huis eet, wat ook in die Paarl is. “Dis ’n voorreg om dit te kan doen,” sê hy. “Ons het drie kinders, hulle is nog jonk.”

As hy oor kon kies 

Nee, hy is nie spyt hy het nie sy meestersgraad in ingenieurswese aangepak nie, sê Antoine. “Ek is baie gelukkig met my besluite. Indien ek nie gedoen het wat ek nou doen nie, sou ek miskien probeer het om professioneel driekamp te doen,” sê hy.

Was dit vir hom lekker om ’n Matie te wees? “Dit was,” sê hy, en daar hang ’n stilte in die lug. “As ek terugdink, nou sou ek tog Maties ’n bietjie anders gedoen het.” Omdat hy té hard gewerk het? “Ek dink so, ja,” sê Antoine, met ’n ietwat ondeunde glimlag. 

“Maar kom ek gaan wys jou die fabriek,” sê hy.  

PSG-Pluimpie

In Mei vanjaar het die beleggingsmaatskappy PSG-Group ’n 54%-aandeel in ButtaNutt gekoop, sê stigter Antoine van Heerden. “Hulle het ’n goeie deal met ons gedoen wat behels het dat [ButtaNutt] nie verder verwater nie, maar dat ons toegang het tot ekstra kapitaal,” sê hy. 

Dan Hugo, medestigter van ButtaNut en hoof van bemarking, het gesê dat PSG ook ’n positiewe visie het vir Suid-Afrika. “Like ButtaNutt, PSG is deeply committed to South Africa,” het hy gesê. 

Kenner se opinie, in ’n neutedop!

As ma van twee jong kinders en geregistreerde dieëtkundige, is Yolandè Venter vol lof vir die Buttanutt-reeks. Beide haar kinders is allergies vir suiwel, en buiten die neutbotters en -melke, maak Buttanutt ook ’n suiwelvrye-roomys waaroor hulle gaande is. 

“Neute bevat goeie anti-inflammatoriese, gesonde vette wat help met ondersteuning van goed soos breingesondheid, oë, selfs ons vel en hare. Ons het goeie olies regtig nodig en in ’n verwesterse-diëet kry ons, in my opinie, te min daarvan in deesdae,” sê sy.