US moedig kulturele aanvaarding aan

Die Universiteit Stellenbosch (US) en die Universiteit van Kaapstad (UK) het op 29 Oktober  saamgewerk om ʼn aanlyn platform te skep, waar  ʼn interaktiewe gesprek oor afrofobie op dié onderskeie kampusse gehou is.

Die transformasie portefeulje van die US se studenteraad het in samewerking met UK se Open Mind Society (OMS) dié gesprek gelei, en onderwerpe soos die oorsaak, etiese raamwerk en moontlike oplossings vir afrofobie bespreek.

Die bemarkingsfoto wat op sosiale media geplaas is om studente aan te moedig om die skakel te volg en deel te neem aan die bespreking. FOTO: Instagram / @specialneedssu

Dit is volgens Viwe Kobokana, voorsitter van die transformasie portefeulje van die US studenteraad. 

Kobokana meen dat die bespreking beklemtoon hoe belangrik kritiese denke is, en dat dit aan studente die geleentheid gee om by hul medestudente te leer. 

“Ons besef nie altyd hoe die gebeure in die wêreld ons medestudente affekteer nie. Daarom is dié tipe besprekings belangrik om ʼn veilige spasie te skep waar studente sonder enige oordeel eerlik en kwesbaar kan wees rondom aktuele onderwerpe,” het Kobokana gesê. 

ʼn Skermgreep van die begin van die aanlyn gesprek oor afrofobie, waar studente sekere maatreëls moes volg om te verseker dat die gesprek glad verloop. SKERMGREEP: Heidi-Jane de Wee

Volgens George Rautenbach, voorsitter van die OMS, het omtrent 20 studente die bespreking aanlyn bygewoon. 

Rautenbach meen egter dat die bespreking ook op alle Suid Afrikaanse studente se ervarings gemik is. 

“Dit is belangrik dat plaaslike en buitelandse studente die bespreking bygewoon het om ʼn holistiese en betekenisvolle bespreking aan te moedig,” het Rautenbach gesê.

Volgens Kobokana het die US besluit om die UK te betrek om ʼn breër spektrum van perspektiewe in te sluit. 

“Onderwerpe soos hierdie is intimiderend vir baie studente, en dié bespreking het reeds studente van twee versillende universiteite betrek om te sien hoe afrofobie deur studente op verskeie kampusse geinterpreteer word,” het Kobokana gesê. 

Volgens Viwe Kobokana was die doel van die bespreking om studente se persepsie oor kritiese denke te verander, en ook om die langtermyn effekte  van afrofobie te bespreek. STEMGREEP: Verskaf / Viwe Kobokana

Kobokana verduidelik verder dat die studente van vandag die leiers van môre is. 

“Dit is belangrik om studente op te voed oor onderwerpe wat hulle in die toekoms in leierskapsposisies kan implementeer,” het Kobokana gesê. 

Rautenbach meen dat wedersydse begrip die grootste doelwit van die bespreking is. 

“As een persoon uit die bespreking ʼn nuwe perspektief ontwikkel het dan het ons ons doelwit bereik,”het Rautenbach gesê. 

Die bespreking was ʼn geleentheid om lig te werp op ʼn onderwerp wat deur baie as omstrede beskou word, maar tog belangrik is om oor te praat, het Nicholas Venter, eerstejaar opvoedkunde student aan die US gesê. 

“Die bespreking het ʼn platform gebied om uit die ervarings en opinies van ander studente te leer,” het Venter gesê.