US-dramadepartement bring kinderproduksie na plaaslike skole

Die Universiteit Stellenbosch (US) se dramadepartement stel binnekort hul eerste teaterproduksie bekend sedert die begin van Covid-19-verwante grendelstaatbeperkings in Maart 2020.

Dít was volgens Schalk van der Merwe, ’n dosent in drama- en teaterstudies aan die US, en die vervaardiger van die betrokke produksie, Die Waterslang.

Die Waterslang is ’n kinderproduksie en sal tussen 3 Mei en 8 Mei by verskeie skole opgevoer word, het Van der Merwe gesê.

dramadepartement

Die karakter, Bekkie (vertolk deur Minke Marais), speel met haar albasters in ’n toneel van die produksie, Die Waterslang. FOTO: Verskaf/Stephan Meyer 

“Die storie ontvou met ’n jong meisie, bekend as Bekkie, wat in die Karoo woon en wat per ongeluk die waterslang se toorklip optel,” het Minke Marais, ’n tweedejaar-student in BA (Drama- en Teaterstudies) aan die US, gesê. Marais vertolk die rol van dié karakter in die produksie. “Die res moet die gehoor self ontdek,” het Marais bygevoeg. 

’n Plaaslike vertoning van die produksie sal op 10 Mei by dié dramadepartement se Adam Small-teater plaasvind. Dié vertoning sal oop wees vir die publiek, het Van der Merwe gesê. 

Die vervaardigingspan bestaan volgens Marais uit ses akteurs en vyf tegniese studente, wat na skole in en om Stellenbosch sal reis tydens die opvoeringsweek.

dramadepartement

Die twee Karoo-geeste, Verspoel (links) en Verdor (regs), sal deur die stemme van Marli Pretorius en Schalk van der Merwe vertolk word in die produksie, Die Waterslang. FOTO: Verskaf/Stephan Meyer

“Ons tree op by Laerskool AF Louw, asook by Hannah Grobbelaar Liefdadigheid. Daarna gaan ons Franschhoek toe. Volgende sal dit by De Hoop Laerskool in Somerset-Wes wees,” het Van der Merwe gesê.

Repetisies vir die produksie vind volgens Van der Merwe in die Adam Small-teater plaas. ’n Private kleedrepetisie is op 28 April opgevoer, het hy bygevoeg.

dramadepartement

Anguis, die woeste waterslang, word deur Andries Theron vertolk. Hierdie karakter is die antagonis in die produksie. FOTO: Verskaf/Stephan Meyer

“Hoewel ons in die Adam Small-teater opgetree en geoefen het, is ek so opgewonde om te sien hoe die kinders op die toneelstuk gaan reageer. Ek wil ook hulle interaksie met ons sien,” het Mieke Fabel, ’n student in BAHons (Drama- en Teaterstudies) aan die US, gesê. Fabel is ook deel van die produksie.

Hierdie produksie is volgens Fabel uniek, aangesien dit van die rolverdeling vereis om maskers te dra gedurende die opvoerings, ter nakoming van Covid-19-maatreëls.

“Om met ’n masker op te tree, bring ’n heel ander aspek van toneelspel na vore. Jy kan nie meer jou gesig gebruik nie. Die toneelspel moet nou meer in die liggaam wees,” het Fabel gesê.

Marais het bygevoeg dat dit uitdagend is om ’n masker tydens ’n opvoering te dra, omdat artikulasie onberispelik moet wees.

“Dit is ’n kinderteaterproduksie – die energievlak moet absoluut konsekwent wees, en ons tree op sommige dae vier keer op,” het Marais gesê.

To read this story in English, click here.

, , , , , , ,