US-alumni vind haar stem op die verhoog

Melissa Myburgh kon skaars praat, toe wou sy reeds ’n aktrise word en stories vertel. Dié voormalige dramastudent het verlede jaar haar deurbraak in die plaaslike televisiebedryf gemaak. Sy het met Heléne Leonard gesels oor die uitdagings van werk soek in die kunstebedryf te midde van ’n pandemie. 

US-alumni

Melissa Myburgh, ’n alumni aan die Universiteit Stellenbosch (US), het as 18-jarige BA (Drama- en teaterstudies) aan die US begin studeer. “Ek het van die eerste dag af baie daarvan gehou,” sê sy, maar onthou dat sy tog ook gesukkel het om haar “plek” te vind. FOTO: Heléne Leonard

Dit is ’n stil dag voor die Universiteit Stellenbosch (US) se dramadepartement. Melissa Myburgh, wat voorheen aan dié departement studeer het, stap rustig in Victoriastraat af en gesels oor haar persoonlike oorwinnings en toekomsplanne.

“As ek oor kan kies, kies ek sonder twyfel weer drama,” sê Melissa. Vandat sy kan onthou, wou sy ’n aktrise word. As kind het sy gereeld konsert vir haar gesin gehou, en het sy altyd geweet dat sy haar pad na die kunste sou vind. 

Sy stap met ’n koffie in die hand en vertel hoe moeilik dit is om naam te maak en te werk in die kunstebedryf – veral gedurende die grendelstaat. 

“Ek het geweet dit gaan uitdagend wees,” sê sy. “Maar ek moet sê dat die werkskaarsheid nogal stresvol is.” 

Nietemin het die 23-jarige gedurende die grendeltyd haar eerste rol in ’n KykNET-reeks, Kompleks, losgeslaan. Dié jong aktrise ag haarself as een van die bevoorregte akteurs wat gedurende 2020 werk kon kry.

US-alumni

Verlede jaar moes Melissa Myburgh, ’n US-alumni, vir die eerste keer werk soek. Die werksomgewing was gedurende die grendeltaat uitdagend vir haar, aangesien die meeste teaters óf toe was, óf weens Covid-19-regulasies van kapasiteit beperk is.  FOTO: Heléne Leonard

Verloor en vind jouself in die kunste

Vir Melissa was dit moeilik om in 2017 vir die eerste keer haar ouerhuis in Parow in Kaapstad te verlaat, en haar stem te vind op die Adam Small-kompleks se verhoog in Stellenbosch. 

“Op die verhoog is jou eie lyf jou kunswerk,” vertel sy.

Aanvanklik was drama ’n uitdaging vir Melissa. Sy moes al haar moed bymekaarskraap en “alles oorgee op die verhoog”.

“Dit was moeilik en die onsekerheid het my oorweldig. Ek het ongemaklik gevoel in my eie lyf,” onthou sy. Dit het tyd geneem, maar op die verhoog het sy ’n nuwe mens geword, vertel Melissa.

Sy het geïntimideer gevoel deur al die talent en kompeterende karakters van die ander dramastudente. Later het sy egter besef dat sy ook potensiaal het, vertel sy.

As ek maar net van my eerstejaar af besef het dat ek niemand anders se verhoog hoef te vee nie en dat ek self iets uniek het om te bied, sou my graad baie makliker gewees het.

Volgens ’n mede-akteur het Melissa “verskriklik” gegroei sedert haar eerstejaar. “Sy het definitief nog altyd die talent gehad. Sy het net nie altyd in haarself geglo nie. Dis hoekom haar professionele lewe so floreer, want sy weet nou sy kan,” vertel Nancia Dorland, akteur en mede-skrywer van Jellyvisse skei nie. Nancia en Melissa werk tans saam aan dié kortverhaal.

“As ek maar net van my eerstejaar af besef het dat ek niemand anders se verhoog hoef te vee nie en dat ek self iets uniek het om te bied, sou my graad baie makliker gewees het,” sê Melissa.

Melissa het haar graad in BA (Drama- en teaterstudies) in 2019 voltooi, en het intussen ook ’n honneursgraad in Drama- en teaterskryfwerk aan die US voltooi. 

Sy sien haarself steeds as ’n aktrise, en wil bly fokus op haar loopbaan as ’n dramaturg en toneelspel. Maar sy wil ook graag by TV-regie betrokke raak.

Melissa skilder in haar vrye tyd en het ’n liefde vir alternatiewe idees. FOTO: Heléne Leonard

Om naam te maak op die kassie

Melissa is dankbaar vir die geleenthede wat sy tot dusver in die bedryf gegun is. Haar rol in Kompleks was onder die regie van Tinarie van Wyk-Loots. 

“My eerste TV-werk wat ek kry was toe in samewerking met my rolmodel. Ek kan nie glo dat ek so geëerd was om met Tinarie te werk nie,” sê Melissa. 

Kompleks is in September 2020 geskiet en is tans op Showmax te siene. Daarna het ’n rol in Laastes gevolg wat in April vanjaar op KykNET verskyn het. Sy het ook ’n rol vertolk in Lycra en petticoats wat 30 Mei op KykNET verskyn het.

Haar rol in Laastes was vir Melissa ’n groot uitdaging. Haar karakter het baie ontwikkeling ondergaan, vertel sy. En as akteur wat so ’n rol vertolk, moet ’n mens baie seker van jouself wees, meen sy. 

In Laastes verloor haar karakter haar onskuld. “Daar was diepte aan die karakter wat ek vertolk, wat ek self moes gaan vind het. Die karakter moes deur baie emosies gaan, waardeur ek as Melissa ook moes werk,” vertel sy. 

In die drama- en teaterbedryf is die kuns van teatergrimering baie belangrik. Melissa beoefen haar talent vir dié tipe teater ook.  FOTO: Heléne Leonard

Toekomsplanne

Verlede jaar het die werk ingerol, maar tans sit Melissa weereens “in angs” en wag vir werk. Sy het in April laas gewerk.

“Toe ek die rol in Kompleks kry, toe dink ek dat dit is wat mens nodig het om vir jou werkstabiliteit te gee. Maar die reeks is nou geskiet en dis nou klaar,” sê sy. 

Melissa meen dat die bedryf in die toekoms gaan verander weens die letsels wat die grendelstaat op die kunste agter sal laat. 

“Mense gaan aanhou sukkel om kos op die tafel te sit. Die bedryf moet kreatief wees en kunstenaars moet mekaar help en vir mekaar werk skep,” beaam Nancia.

“Deur Jellyvisse skei nie te skryf gaan ek hopelik vir ander kan werk skep. Dis wat mens deesdae moet doen in die bedryf,” sê Melissa. Sy en Nancia hoop om dié kortverhaal in ’n toneelstuk te omskep wat werk vir akteurs sal skep.

US-alumni

“Dit is vreemd dat ek so baie hou van TV, want ek is nie die gemaklikste mens voor die kamera nie,” vertel Melissa. FOTO: Heléne Leonard

Werk bly steeds skaars vir akteurs, al het ’n mens een of twee films op TV, vertel Devonecia Swartz, ook ’n akteur en vriendin van Melissa. 

“Die kunste is die heel eerste ding wat knak as dit kom by inperkings gedurende die grendelstaat. Die kunste word altyd op hulle knieë gebring as die bedryf iets wil bereik,” meen Devonecia.

Om werk te kry is moeilik, en akteurs word dikwels min betaal vir baie ure se werk, vertel Melissa. Die plaaslike teater- en kunstebedryf is boonop klein, en daarom besef sy dat haar loopbaankeuse altyd met ’n mate van onsekerheid sal kom. Maar sy kan nie haarself in enige ander bedryf voorstel nie. 

, , , , , , , , , , ,